Die Afrikaanse Taalmonument (ATM) nooi almal om in hierdie dae van inperking as deel van die ATM se 45-jarige vieringe hul penne te ontperk en iets snaaks, absurds of ironies op te tower. Dit kan limerieke, gedigte, gedagtes, haikoes, slagspreuke, flitsfiksie of lirieke oor dié geskiedkundige tye wees – iets wat by jou huis of enige ander plek tydens die inperking afspeel.
Jean Oosthuizen berig:
Monumente, museums en teaters is van die land se talle besienswaardighede en vermaaklikheidsplekke wat ernstig geraak word as gevolg van die koronavirus.
Die Afrikaanse Taalmonument (ATM) by die Paarl met die leuse “Dit is ons erns” wil nou humor inspan om almal wat vuisvoos is weens die korona-erns, se daaglikse bestaan draagliker te maak. Soos al die ander monumente is die ATM en Taalmuseum tot verdere kennisgewing gesluit.
Die Afrikaanse Taalmonument (Foto: Missysimons [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)
Die ATM, wat vanjaar sy 45ste bestaansjaar vier, het nie in sak en as gaan sit en huil omdat hulle hul deure tydelik moes sluit nie. Hulle nooi almal om in hierdie dae van inperking as deel van die ATM se 45-jarige vieringe hul penne te ontperk en iets snaaks, absurds of ironies op te tower. Dit kan limerieke, gedigte, gedagtes, haikoes, slagspreuke, flitsfiksie of lirieke oor dié geskiedkundige tye wees – iets wat by jou huis of enige ander plek tydens die inperking afspeel.
Foto: Canva.com
Die ATM sê hoewel die huidige inperking en algemene situasie weens die pandemie ernstig is, wil hulle graag ook die humor belig wat mense se daaglikse bestaan draagliker maak. “Met nuutskeppings soos ‘koeshoes’, ‘grendelgriep’ en ‘kwarantynwyn’ asook die snaakse Afrikaanse meme en grappies wat soos ’n virus op sosiale media versprei, is dit duidelik dat daar geen tekort aan kreatiwiteit in hierdie tyd is nie,” sê die ATM in ’n verklaring.
Volgens Michael Jonas, die ATM se direkteur, is die instelling ’n lewende monument waar daar gedurig ’n interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Ons gee graag aan opkomende skrywers, musikante en digters die kans om hul werk aan ’n groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane,” sê hy.
.............
“‘Met nuutskeppings soos ‘koeshoes’, ‘grendelgriep’ en ‘kwarantynwyn’ asook die snaakse Afrikaanse meme en grappies wat soos ’n virus op sosiale media versprei, is dit duidelik dat daar geen tekort aan kreatiwiteit in hierdie tyd is nie,’ sê die ATM in ’n verklaring.”
.............
“Hoewel ons tans tydelik weens COVID-19 gesluit is, beskou ons dit as ’n gulde geleentheid om ons web- en sosialemediavoetspoor onder meer mense bekend en bemind te maak. Deur hierdie kompetisie wil ons Suid-Afrikaners daaraan herinner dat ons in ongekende tye leef waaroor ons en ons nageslagte nog lank sal praat. Dis belangrik dat ons daaroor skryf en ook belangrik dat ons die humor raaksien sodat ons darem in ons maskers kan lag.”
Deelnemers moet ’n maksimum van 250 woorde in enige variëteit van Afrikaans skryf en hul inskrywings met volledige naam, e-pos-adres en telefoonnommer teen 16 Junie 2020 na bemarking2@taalmuseum.co.za e-pos. Die wenner sal R2 000 wen en die twee naaswenners R1 000 elk. Al drie ontvang ook ’n jaarpermit (gesin van vier) vir die monument en museum, wat geldig sal wees vanaf die dag waarop die ATM weer vir die publiek oopgestel word. Die top 12 inskrywings sal vir ’n paar maande in die Groen Galery uitgestal word – eers virtueel, indien nodig, en daarna in lewende lywe.
Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery, waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ’n Uitstalling van verskeie opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in die galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.
Sien www.taalmuseum.co.za/groen-galery vir die huidige Bybel in Kaaps- en vorige uitstallings.
Die webtuiste bied ook virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument, asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is ook heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
Buro: MvH