Afrikaners skryf tweede ope brief aan G20: "Verwerp die leuens oor ons vervolging"

  • 0

’n Groep prominente Suid-Afrikaanse burgers, van wie die meeste as Afrikaners identifiseer, het op 3 Desember ’n tweede ope geskryf en dit dié keer aan die leiers van die G20-lande gerig.

Hulle versoek die internasionale gemeenskap om die narratief van “Afrikaner-vervolging” en “wit volksmoord” ondubbelsinnig te verwerp. Die brief kom minder as ’n maand nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, aangekondig het dat Suid-Afrika nie na die 2026 G20-beraad in Miami genooi sal word nie en dat alle Amerikaanse hulp aan die land opgeskort word.

“Ons is nie pionne in ’n Amerikaanse kultuuroorlog nie. Nie in ons naam nie,” lui die slotreël van die dokument wat volg op hulle eerste ope brief en wat reeds meer as 1 500 handtekeninge van akademici, joernaliste, kunstenaars, sakelui en godsdiensleiers dra.

Die skrywers reageer direk op Trump se herhaalde bewering dat wit Suid-Afrikaners, veral boere, stelselmatig vervolg en uitgemoor word. Trump het in November 2025 herbevestig dat geen vlugtelinge na die VSA toegelaat sal word nie, behalwe “vervolgde Afrikaners”. Hy het die G20-beraad in Johannesburg, wat Suid-Afrika se voorsitterskap afgesluit het, geboikot en die land se regering beskuldig van “menseregteskendings” en “grondroof”.

Die brief beklemtoon dat misdaad, armoede, ongelykheid en korrupsie alle Suid-Afrikaners tref, ongeag ras of etniese agtergrond. “Die uitsondering van Afrikaners as die enigste of ‘spesiale’ slagoffers is ’n vals narratief. Dit rig skade aan en skep die indruk dat witheid op sigself ’n rede vir voorkeurbehandeling is,” skryf die groep.

Hulle wys daarop dat nie een vierkante sentimeter grond sedert 1994 sonder vergoeding of regsproses onteien is nie, en dat die Grondwet duidelike waarborge teen arbitrêre onteiening bied.

Dit is die tweede keer in ses weke dat die groep Afrikaners hul stem teen die vals narratief wat Trump internasionaal verkondig, laat hoor. Die eerste brief, getitel “Nie in ons naam”, is op 23 Oktober 2025 gepubliseer en het groot aandag in die media plaaslik sowel as internasionaal getrek.

Dit was gerig aan die Amerikaanse senaat en die Withuis en het Trump se bewering van “wit volksmoord” as “gevaarlike disinformasie” bestempel.

Die nuwe brief plaas die kwessie nou vierkantig binne die G20-konteks. Dit vra dat leiers in hul openbare verklarings die feite regstel en multilateralisme beskerm teen “politieke druk en disinformasie” wat Suid-Afrika se rol in die wêreldliggaam bedreig.

Die Suid-Afrikaanse regering het die inisiatief verwelkom. Die minister van internasionale betrekkinge, Ronald Lamola, het die vorige brief as “duidelike bewys” beskryf dat die “wit volksmoord-narratief” nie op feite berus nie. “Dit is rassisties om te beweer dat wit mense die enigste slagoffers van misdaad is,” het hy gesê.

Internasionale media het die brief wyd gedek. France 24 het dit beskryf as “’n kragtige weerlegging van Trump se valse narratief”, terwyl Reuters meld dat dit die spanning tussen Washington en Pretoria verder belig.

Reaksies binne Suid-Afrika is egter verdeeld. Regse organisasies het die skrywers gekritiseer. Ernst Roets van Lex Libertas het die brief “elitisties” genoem en gesê dit ignoreer die werklikheid van plaasaanvalle en diskriminasie. Tog het selfs AfriForum en die Solidariteitsbeweging, wat op plaasmoorde fokus, herhaaldelik ontken dat hulle ooit die term “wit volksmoord” gebruik het.

“Ons het nooit gesê daar is ’n volksmoord op wit mense in Suid-Afrika nie,” het AfriForum se uitvoerede hoof, Kallie Kriel, in ’n onlangse verklaring gesê. Solidariteit het dieselfde standpunt ingeneem en beklemtoon dat plaasmoorde ’n prioriteitsmisdaad is, maar nie deel van ’n volksmoordveldtog nie.

Op sosiale media het die brief duisende reaksie van steun ontvang, veral onder jonger Afrikaners wat die hutsmerk  #NotInOurName gebruik. Terselfdertyd het regse gebruikers die skrywers van “verraad” beskuldig.

Max du Preez, een van die bekendste ondertekenaars, het aan eNCA gesê: “Ons kan nie toelaat dat ons identiteit deur buitelandse ekstremiste gekaap word nie. Ons probleme is groot, maar ons los dit hier op, saam met al ons landgenote.”

Terwyl die G20-voorsitterskap nou na die VSA oorgaan, bly die vraag of die brief enige impak sal hê op Washington se beleid. Trump se administrasie het nog nie direk op die jongste dokument gereageer nie, maar sy kantoor het vroeër gesê dat “die feite oor grondroof en geweld teen blankes onweerlegbaar is”.

Vir baie Suid-Afrikaners is die ope brief egter ’n duidelike sein: Die land se uitdagings is kompleks, maar die oplossing lê nie in rasgebaseerde vlugtelingstatus of internasionale sanksies nie, maar in samewerking tuis.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top