Dit is onwerkbaar en onprakties om te dink die Wes-Kaap kan afstig van die res van Suid-Afrika.
Dit was die konsensus tydens ’n paneelbespreking by die Toyota US Woordfees wat die week in Stellenbosch plaasvind.
Die deelnemers aan die gesprek was Flip Buys van Solidariteit, die grondwetkenner Pierre de Vos, die onafhanklike kommentator Theuns Eloff en Vasti Roodt van die departement filosofie aan die Universiteit Stellenbosch en hoof van die departement se eenheid vir sosiale en politieke etiek. Die gesprekleier was Lynette Francis-Puren.
Die gesprek was deel van Netwerk24 se gespreksreeks by vanjaar se Woordfees.
Al die sprekers het saamgestem dat die afwenteling van mag vanaf die sentrale regering na provinsies en plaaslike regering noodsaaklik is. Nie een van hulle dink egter dit is haalbaar of wenslik dat die Wes-Kaap afstig van die res van die land nie.
Volgens De Vos verwar baie mense selfbeskikking met devolusie van mag, soos die CapeXit-party wat wil hê die Wes-Kaap moet heeltemal onafhanklik wees van die res van die land.
Volgens Roodt is die geneigdheid om te wil afstig nie nuut by mense wat ontevrede is met die wyse waarop hulle regeer word nie. Die Suid-Afrikaanse grondwet maak egter voorsiening vir ’n eenheidstaat met die moontlikheid van magte wat afgewentel word na laer regeringsvorms.
Buys sê vir demokrasie in Suid-Afrika om te kan werk, is ’n mate van federalisme en die afwenteling van mag noodsaaklik.
Dit is egter belangrik om ’n onderskeid te tref tussen die afwenteling van mag en afstigting, het Roodt gesê. Sy sê die hele idee van afstigting staan op losse skroewe en is ’n onding.
Die aandrang op afstigting in die aanloop tot die verkiesing is ’n eenvoudige opsie met komplekse gevolge en niks anders as ’n absurde verkiesingsfoefie nie, het Roodt gesê.
Sy sê diegene wat dit bepleit, is randeiers in die Suid-Afrikaanse politiek. “Die groot vraag is eerder hoe provinsies wat dit verlang, vir hulself meer magte kan beding om hulself beter te bestuur.
Volgens De Vos kan provinsies nie op ’n manier optree wat die groter geheel in gevaar stel nie. “Dit mag nie gedoen word tot nadeel van die land nie.”
Buys sê die land verkeer in ’n ernstige krisis en oplossings is nodig, maar afstigting is nie praktiese politiek nie. Sentralisasie is egter ook nie die oplossing nie, sê Buys.
Hy sê die oplossing lê in wedersydse respek vir mekaar se taal- en kultuurbelange. ’n Organisasie soos Solidariteit verlang, volgens Buys, glad nie terug na die verlede onder die Nasionale Party nie, maar sien ook nie kans vir die toekoms onder die ANC nie.
Eloff glo afstigting vir die Wes-Kaap is in elk geval nie standhoudend nie weens die veranderende demografiese profiel van die provinsie.
De Vos sê die grondwet sê nie veel oor selfbeskikking nie en hoewel daarna verwys word, vereis dit steeds die goedkeuring van die Nasionale Vergadering voordat dit kan gebeur.
“Diegene wat vra vir afstigting, moet wegkom van die kleuterskool-idee van selfbeskikking,” het Roodt gesê. “Die idee dat mens kan kry wat jy wil net wanneer jy dit wil hê, strook nie met die realiteit en die groter prentjie nie.”
Volgens Buys is 90% van die mense eintlik pro selfbeskikking op een of ander manier. Diegene wat dit kan bekostig, beoefen reeds een of ander vorm van selfbeskikking by wyse van waar hulle woon, ’n mediese fonds of deur kinders na privaatskole te stuur.
Die woord “selfbeskikking” het volgens hom egter baie politieke bagasie, daarom verkies Solidariteit om nie eers van selfbeskikking te praat nie en gebruik ander terme.
“Dit is egter nie ’n bose ding om te sê mense wil self besluite neem oor sake wat hulle direk raak nie.”
Daar is geen maklike oplossing vir die land se probleme nie, maar die enigste oplossing vir die land bly ’n politieke oplossing. Daarvoor benodig die land ’n sterk politieke party wat nie skelm en rassisties is nie, maar die opposisiepartye voldoen ongelukkig ook nie aan daardie behoefte nie, het De Vos gesê.