Agri SA kap regering oor alkholverbod

  • 0

Die regering se toegewing dat taxi’s die volle kapasiteit vir die vervoer van passasiers kan benut, is ’n bewys dat die regering bang is vir die taxibedryf en onder druk geswig het.

So sê Agri SA se adjunk- uitvoerende direkteur Christo van der Rheede. Van der Rheede sê in ’n verklaring namens Agri SA dit maak ’n klugspel van president Ramaphosa en die regering se bekommernis oor die dodelike impak van die COVID-19-pandemie.

“Dit gaan die virus net verder laat versprei. Baie taxidrywers en eienaars steur hulle doodeenvoudig nié aan die voorsorgmaatreëls en die dra van maskers nié.”

Agri SA het skerp kritiek uitgespreek teen die feit dat Suid-Afrikaners geen alkohol mag koop nie maar dat taxi-eienaars toegelaat word om taxi’s vol passasiers te laai.

“Waarom die regering, elke keer as hy in ’n hoek gedryf word, met ’n drakoniese maatreël vorendag kom om die COVID-19-pandemie se impak op mense se lewens te beredder, spreek boekdele van dié se onbevoegdheid en bevooroordeeldheid jeens sekere ekonomiese sektore.”

Van der Rheede sê hierdie bevooroordeeldheid vind neerslag in die toegewings wat aan die taxibedryf gemaak word, terwyl die drankbedryf aan ’n algehele verbod onderwerp word. “Dit maak mos nie sin nie!” sê hy.

Hy sê almal is dit eens dat die stygende voorkoms van COVID-19-gevalle en verwante sterftes groot uitdagings vir die gesondheidsbedryf inhou, en dat die virus versprei word vanweë noue kontak tussen mense wat nie maskers dra nie en wat nie gehoor gee aan al die voorsorgmaatreëls nie.

Meer kommerwekkend is volgens Agri SA die uitlating deur die ANC se woordvoerder  Pule Mabe dat sy party nie sal skroom om die ekonomie op te offer in hul poging om mense se lewens te spaar nie.

“Uit hierdie tipe breedsprakige en onsensitiewe uitlatings is dit duidelik dat die regerende party geen empatie het met die miljoene werkloses in die land nie!”

Agri SA sê derduisende werksgeleenthede is nou in die gedrang vanweë die verbod op drankhandel. Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het in 2019 R49 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra en in die proses 290 000 indirekte en direkte werksgeleenthede geskep. Sowat 40 000 werkers is op wynplase en in wynkelders werksaam.

In 2019 het die bedryf R7,5 miljard aan aksynsbelasting en BTW aan die fiskus betaal. Dit is Suid- Afrika se naasgrootste landbou-uitvoersektor ná sitrus en verdien jaarliks meer as R9 miljard aan buitelandse inkomste. R7 miljard van hierdie bedrag word gegenereer deur gebottelde uitvoer en R2 miljard deur die uitvoer van grootmaatuitvoere.

Om ’n algehele ineenstorting van die bedryf te verhoed, moet daar volgens Agri SA eerder na die intelligente bestuur en implementering van beste praktyke vir drankverkope gekyk word, onder andere:

- Laat e-handel in alkohol toe.
- Beperk volumes.
- Vervroeg die aandklokreël oor naweke.
- Pas strenger strawwe toe op diegene wat onder die invloed van drank bestuur, wat partytjies reël waar drank vrylik vloei of wat huishoudelike geweld pleeg.
- Maak seker dat alle hospitale voldoende hulpbronne beskikbaar het en behoorlik bestuur word.

Van der Rheede sê daar is geen regverdiging vir die algehele verbod op alkoholverkope nie. Ook nie vir die inkonsekwente hantering en bevooroordeeldheid teenoor sekere sektore nie. Die antwoord lê eerder, soos reeds gesê, in die intelligente bestuur en implementering van internasionale beste praktyke om die verdere verspreiding van die pandemie te verhoed en terselfdertyd die ekonomie en werkskepping te bevorder.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top