…......
“Agri SA se adjunk- uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, sê namens Agri SA die behoefte aan hulp om te oorleef was nog nooit groter as nou nie.”
…......
Die federasie van landbou-organisasies Agri SA wil help om die hongersnood in die land wat krisisafmetings aanneem as gevolg van COVID-19 te verlig.
Agri SA sê in ’n mediaverklaring COVID-19 het sy greep te midde van die winter versterk en menige huishouding honger en moedeloos gelaat. Die landbou-organisasie het ’n beroep op die regering en die privaatsektor gedoen om hulle daarmee by te staan.
“Dit is met groot afwagting dat Agri SA ’n beroep doen op die regering en die privaatsektor om by te dra tot die R1-miljard-voedselinisiatief in ’n gesamentlike poging om gemeenskappe wat voedselonsekerheid in Suid-Afrika ervaar te voed,” lui die verklaring.
Agri SA se adjunk- uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, sê namens Agri SA die behoefte aan hulp om te oorleef was nog nooit groter as nou nie.
“Die pandemie tref ons op ’n tydstip wanneer ons land reeds geweldige uitdagings ervaar en waar voedselsekerheid en ander stelsels reeds onder druk is. Natuurrampe, klimaatsverandering, werkloosheid, ’n resessie, arbeidskonflik en grondonteiening sonder vergoeding, asook ’n swak ekonomie, is uitdagings wat die land op ’n groot skaal ervaar het selfs voordat COVID-19 ’n realiteit geword het.”
President Cyril Ramaphosa het die COVID-19-pandemie op 15 Maart as ’n nasionale ramp verklaar ingevolge die Rampbestuurswet en gesê dat Suid-Afrika die nodige “kennis, middele en hulpbronne het om die virus te beveg”.
…......
“Die korttermynimpak van COVID-19 word volgens Agri SA onmiddellik en geredelik deur almal ervaar weens die inperkingsregulasies en om ander ekonomiese redes.”
…......
“Die streng regeringsregulasies het volgens Agri SA egter ’n verwoestende effek op vele huishoudings, met ’n nadelige impak op voedselsekerheid vir miljoene mense in die land” – (farmingportal.co.za).
Statistieke SA het onder andere bevind dat die verhouding respondente wat aangedui het dat hulle sedert die begin van die nasionale inperking hongersnood ervaar, van 4,3% tot 7,0% toegeneem het. Dit is gegrond op ’n opname wat gedoen is oor die impak van COVID-19 op werksgeleenthede en inkomste in Suid-Afrika soos op 20 Mei 2020.
Volgens die opname het die Noord-Kaap, Noordwes en Mpumalanga die hoogste persentasie huishoudings wat ernstige voedseltekorte ervaar, naamlik 12,9%, 12,5% en 11,4% onderskeidelik. Die Oos-Kaap is aangewys as die provinsie wat die ergste voedselonsekerheid ervaar, met ongeveer 70% van huishoudings wat minder as R1 000 per maand aan voedsel bestee, terwyl slegs 7,6% van huishoudings in die meer welgestelde provinsies soos Gauteng ongeveer R3 500 per maand het om aan voedsel te bestee” – (kwanalu.co.za).
In Suid-Afrika as geheel is daar steeds 13 738 824 mense (24,9% van die bevolking) wat nie toegang tot voldoende voedsel het nie. “Ons moet die volle omvang van voedselsekerheid en voedselvoorsiening gedurende die hierdie krisis aanspreek,” sê Agri SA in hul veklaring.
Agri SA daag alle boere, individue en maatskappye uit om deel te word van hierdie inisiatief in ’n gesamentlike poging om voedselsekerheid vir talle huishoudings in Suid-Afrika te verseker –(www.agriorbit.org).
Die organisasie sê daar is verskillende maniere om tot hierdie voedselhulpinisiatief van R1 miljard by te dra. “Ons verwelkom alle borgskappe, donasies, kontant, geskenkbewyse, voedselhulp in enige vorm en 'n bydrae tot die vervoerkoste om voedselhulp aan behoeftiges te verleen. Verskeie landbou-ondernemings begin ook met hul eie inisiatiewe; hierdie pogings kan ook geïntegreer word in die voedselhulpinisiatief van R1 miljard.
…......
“Statistieke SA het onder andere bevind dat die verhouding respondente wat aangedui het dat hulle sedert die begin van die nasionale inperking hongersnood ervaar, van 4,3% tot 7,0% toegeneem het. Dit is gegrond op ’n opname wat gedoen is oor die impak van COVID-19 op werksgeleenthede en inkomste in Suid-Afrika soos op 20 Mei 2020.”
…......
“Deur die R1-miljard-voedselinisiatief gaan honger gesinne van voedsel voorsien word en daardeur word gebou aan die menswaardigheid van diegene in nood.
“Deur bewustheid te kweek deur middel van innoverende kommunikasie en optrede, hoop ons om toenemende voedselnood te verlig.”
Die korttermynimpak van COVID-19 word volgens Agri SA onmiddellik en geredelik deur almal ervaar weens die inperkingsregulasies en om ander ekonomiese redes. “Hierdie nasionale ramp noodsaak samewerking, samespanning en gesamentlike optrede en ons kan alreeds verwag dat dit ’n diep ekonomiese, maatskaplike en kulturele impak in die langtermyn sal hê” – (kwanalu.co.za).
- Kyk hier na Agri SA Surplus se voedselhulpveldtogvideo.