
Marike van der Watt
- Marike van der Watt is besig met ’n PhD-graad in vertaling by Universiteit Stellenbosch en Katholieke Universiteit Leuven. Sy en haar gesin spandeer 2018 in België.
Ek dink hier baie aan vreemdelinge en om vreemd te wees, nie net omdat ek self ’n vreemdeling in ’n vreemde land is nie, maar ook omdat my studieonderwerp daarna vra! En vanoggend terwyl ek vinnig van Antwerpen Centraal in die Meir af stap Sint Andries toe (vinnig nie omdat ek haastig is nie, maar omdat my jas nie warm genoeg is nie en dit dreig om weer te begin reën), omring deur luukse winkels en walms van koffie en warm wafels uit bakkerye, kom die melankoliese klanke van ’n akkordeon al hoe nader. ’n Vreemdeling wat sy fortuin, of dalk net ’n hongerloon, in groener weivelde kom soek het? Niemand maak oogkontak terwyl hulle (ook haastig) by hom verbyloop nie. Ek vind die mense hier se vermoë om oogkontak te vermy, nogal indrukwekkend. Dit maak dit bykans onmoontlik om iemand selfs oorkant jou op die trein te groet. Ek probeer dit verklaar – is dit omdat hier so baie mense is dat hulle probeer om emosionele energie te bespaar en daarom interaksie met vreemdelinge beperk? Is hulle bang ’n vreemde sukkelaar se ongeluk sal op hulle afsmeer? Ek vermy ook oogkontak terwyl ek by hom verbystryk, omdat ek skuldig voel dat ek nie kan bekostig om euro’s om elke hoek en draai uit te deel aan mense wat tog bydra tot die tipies Europese karakter wat ’n straatmusikant agter sy bakkie met munte skep nie. Terwyl sy musiek wegsterf, groei my skuldgevoelens omdat ek nie sy bestaan erken het nie. Omdat ek nie vir hom gewys het “sawubona” – ek sien jou – nie.
Onderweg hierheen het ek wel die man wat oorkant my gaan sit het, gegroet. En in plaas daarvan om homself in sy koerant te verdiep en my toe te laat om verder deur my Nederlandse beursaansoek te worstel, wou hy weet waar ek vandaan kom. Was dit so vreemd om gegroet te word? Hy is verras om te hoor ek kom van Suid-Afrika af en ons begin oor taalverskille gesels. Hy ry nie gewoonlik met hierdie trein nie, verduidelik hy, maar hy gaan nie vandag werk toe nie. Watter werk dink ek doen hy? Ek raai sommer die eerste ding wat by my opkom: ’n onderwyser? Toe nie – hy werk met “illegalen”, onwettige immigrante. Dit is seker moeilik om oor hierdie mense se lot te beskik? wonder ek. Is Suid-Afrika ’n goeie land? is sy teenvraag. Hoe verduidelik jy aan iemand wat nog nie daar was nie hoe jy jou mense se groet op straat mis, die son, die bekendheid van jou taal, maar dat jy hier beter slaap omdat jy veiliger voel? Dat jy jou groep drafmaats in Jonkershoek en teen Stellenboschberg mis, maar dat jy hier die vryheid geniet om alleen in ’n bos te kan gaan draf of in die donker vroualleen van die stasie af huis toe te kan stap? Ik hou van mijn land, maar er zijn ook veel onzekerheden. Dit klink so hulpeloos, so vreemd in my ore. Hy klim ’n rukkie later af by Aarschot, en drie vroue kom neem rondom my plaas. Net die een langs my groet, en die res van die rit tot in Antwerpen klets hulle vrolik voort terwyl ek aan my aansoek vir ’n paar euro’s timmer.
Kort nadat die akkordeon se klanke verdwyn het, klink daar weer dofweg ’n deuntjie op. Kan dit die wind wees wat gedraai het, of ’n eggo wat deur die geboue teruggekaats word? Maar dit word al hoe duideliker, en dan sien ek die tweede musikant op sy rooi opvoustoel en akkordeon ’n entjie verder langs die straat. Hierdie keer groet ek hom, en dan begin my oë krap en moet ek vinnig in my sak grawe om my neus met ’n growwe Panos-servet af te vee.
Foto van akkordeonspeler se sitplek: Marike van der Watt