Al hoe groter druk vir verpligte inentings om ekonomie te red

  • 0

Verpligte inentings is al hoe meer Suid-Afrikaners se voorland. Die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) het sy steun toegesê aan verpligte inentings vir mense wat openbare byeenkomste wil bywoon en besighede wat slegs werknemers wat ingeënt is, toegang tot hul werkplek toelaat.

Verskeie ondernemings het reeds die inisiatief geneem om ’n verpligte inentingsvereiste van hul werknemers in te stel indien hulle toegang tot hul werkplek wil verkry of, in sommige gevalle, hul werk wil behou.

Suid-Afrikaners is in ’n hewige debat gewikkel oor argumente vir en teen verpligte inentings.

Die minister van arbeid en indiensneming, Thulas Nxesi, het bevestig dat Nedlac Dinsdag aanbeveel het dat verpligte inenting teen COVID-19 by sommige werksplekke in werking gestel moet word. Nxesi was die hoofspreker by Nedlac se jaarlikse beraad in Johannesburg.

Hy sê volgens die aanbeveling sal slegs mense wat ingeënt is, toegang tot sekere werksplekke kan kry. Nxesi sê ’n taakspan van Nedlac het bevind dat inentings steeds die belangrikste ingryping is om die verspreiding van COVID-19 te beperk.

Die sakeorganisasie Sakeliga, asook Solidariteit, het reeds aangedui dat hulle gekant is teen verpligte inenting.

Prokureurs vir Sakeliga en vier ander sakeorganisasies het verlede week ’n brief insake die kwessie aan die presidensie gestuur. 

Die brief lui: “Ons kliënte is gekant teen staatsgedrewe verpligte inentingsbeleid en moniteringsmeganismes soos inentingspaspoorte, benadeling en uitsluiting van ongevaksineerde persone, en regulatoriese verpligting op besighede om verpligte maatreëls moontlik te maak en af te dwing. 

“Ons bring onder u aandag dat ons kliënte nie gekonsulteer is nie en dat enige proses wat voorgee om dit te gedoen het gebrekkig is. 

“Dit is daarom ons kliënte se versoek dat die regering ons kliënte by sy konsultasieproses insluit, ten einde te verseker dat alle perspektiewe erkenning en oorweging geniet.” 

Sakeorganisasies wat in die brief verteenwoordig word, sluit in Agri NW, die Nasionale Werkgewersorganisasie van Suid-Afrika (Neasa), Saai, Sakeliga en TLU SA. 

Nedlac se uitvoerende direkteur, Lisa Seftel, het dit egter Dinsdagoggend by die raad se 26ste jaarlikse nasionale beraad duidelik gestel dat dit die regering se plig is om toe te sien dat meer Suid-Afrikaners ingeënt word sodat die land se ekonomie weer op koers kan kom.

Sy sê die belangrikste maatreëls waaroor alle maatskaplike vennote saamstem, is dat die verskerping van inentings, insluitend deur positiewe en negatiewe aansporings, krities noodsaaklik is.

Daar is tydens Dinsdag se beraad ooreengekom dat georganiseerde besigheid, arbeid en die gemeenskap inenting sal bevorder om die land teen ekonomiese ineenstorting te beskerm.

Werkplekke moet vereis dat werknemers ingeënt word om beroepsgesondheid en -veiligheid moontlik te maak en dat toegang beperk moet word tot sekere plekke en byeenkomste slegs vir ingeënte persone, het Seftel gesê.

Sy het gesê dié aanbeveling van Nedlac is na die regering se nasionale gesamentlike operasionele intelligensiestruktuur verwys.

Intussen hou Suid-Afrikaners styf duim vas dat die reisverbod wat die Europese Unie (EU) teen Suid-Afrika ingestel het vanweë die Omikron-variant dalk reeds volgende week opgehef sal word.

Die reisverbod wat op Suid-Afrika en sy buurlande geplaas is ná die opsporing van die Omikron-variant is volgens diplomate by die EU ’n warm besprekingspunt in Europa.

Volgens berigte in die buitelandse media is een van die opsies wat oorweeg word, om te vereis dat mense van die geaffekteerde lande wat ingeënt is ’n PCR-toets moet ondergaan indien die reisbeperkings verslap word.  Hierdie stap kan dit na berig word moontlik maak dat die verbod binne ’n week opgehef of verlig word.

President Joe Biden se hoof- mediese adviseur, Anthony Fauci, het Sondag gesê dat die VSA sy reisverbod op Suid-Afrika en ander Afrikalande daagliks hersien en hoop om dit "binne ’n redelike tyd" op te hef, selfs al versprei die Omikron-variant deur die VSA.

Die mediese joernaal  brief sê die jongste reisverbod het gesinsvakansieplanne en ’n hele bedryf verwoes. Suid-Afrika se toeristebedryf dra jaarliks ​​sowat R82 miljard tot die fiskus by. Verreweg die grootste deel van die toeriste kom uit die Verenigde Koninkryk. Toerisme en verwante bedrywe is verantwoordelik vir ’n geraamde 1,5 miljoen werksgeleenthede ​​in Suid-Afrika.

Lees ook:

Jy kán gefire word as jy nie ingeënt is nie, maar …

Die etiek van verpligte inentings

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top