Die storm wat om die kop van die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, losgebars het na sy uitsprake oor tenders wat glo sy eie mense moet tevrede stel, het uitgebrei nadat nóg ’n party sy kop geëis het.
Die Vryheidsfront Plus het hulle by die DA en Solidariteit geskaar wat hulle reeds vroeër die week sterk uitgespreek het oor Lesufi se uitlatings. Die EFF het ook in ’n verklaring teen Lesufi uitgevaar en hom van boewery beskuldig.
EFF Calls For The Removal Of Gauteng MEC Panyaza Lesufi For Conspiring Tender Corruption pic.twitter.com/UQoUQKL17M
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) April 4, 2021
Dit volg nadat die Sondagkoerante Rapport en City Press berig het oor ’n stemopname waarin Lesufi onder meer sê dat dit sy verantwoordelikheid is om toe te sien dat tenders sy mense tevrede stel. Hy sê verder dat amptenare moet seker maak hulle hoor betyds wanneer beheerliggame tenders adverteer.
Die VF Plus gaan beide die openbare beskermer (OB) en die Menseregtekommissie (MRK) nader om Lesufi se tenderuitsprake te ondersoek.
Die party sê in ’n verklaring hulle het reeds ’n ondersoek in proses by die OB rakende die beweerde onderwysdepartement se tenders vir die dekontaminasie en “diep skoonmaak” van openbare skole verlede jaar. Hulle wil nou die jongste onthullings oor Lesufi ook by die OB indien vir ondersoek teen die agtergrond van dié beweerde problematiese tenders.
Volgens die VF Plus blyk dit voorts dat die beweerde uitsprake van Lesufi tydens ’n vergadering met verskillende swart rolspelers ook verdelend is, aangesien daar sprake is van vooroordeel ten gunste van sekere rassegroepe teen ander. Op grond hiervan word die klag by die MRK ingedien, sê die VF Plus in hulle verklaring.
Dit dat die beweerde uitsprake van Lesufi tydens ’n vergadering met verskillende swart rolspelers ook verdelend is aangesien daar sprake is van vooroordeel ten gunste van sekere rassegroepe teen ander. Op grond hiervan word die klag by die MRK ingedien.https://t.co/PneRdVwtk6
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) April 7, 2021
“Openbare tenders mag nie gebruik word om net sekere groepe te bevoordeel nie en moet in terme van bestaande regsnorme hanteer word.”
Hulle sê die uitsprake wat Lesufi luidens ’n berig in City Press gemaak het, dui daarop dat hy diegene wat “sy mense” uitmaak, met tenders sal help.
“Sou hierdie uitsprake korrek wees, moet Lesufi uit sy pos verwyder word.” Die VF Plus sê hulle sal die ondersoeke monitor en druk op premier David Makhura plaas om Lesufi af te dank.
Die DA in Gauteng het reeds vroeër daarop aangedring dat individue wat enige inligting oor Lesufi se beweerde inmenging met tenders het, na vore moet kom en dit tot die DA se beskikking stel sodat dit verder ondersoek kan word met die oog op vervolging.
Die DA sê in hulle verklaring die vergadering, wat in Mei 2020 gehou is, bevestig duidelik dat die ANC se stelsel van patronaatskap steeds op en wakker is en dat Lesufi self oënskynlik geen beswaar het om sulke patronaatskap te fasiliteer om sekere individue te bevoordeel nie.
Die DA sê hulle sal voortgaan om die saak op te volg om seker te maak dat Lesufi aan die pen ry indien daar enige onregmatigheid deur hom gepleeg is.
The Democratic Alliance in Gauteng is calling on individuals to bring forward any information and evidence on MEC Panyaza Lesufi’s alleged tender interference to the DA for further prosecution. - @nramulifho https://t.co/gJQFE7KM9A
— Democratic Alliance (@Our_DA) April 6, 2021
Solidariteit het in hulle verklaring gevra dat Lesufi met onmiddellike ingang geskors moet word. “Duisende Solidariteit-lede doen hul bes om kinders uitnemend en onder uiters moeilike omstandighede te onderrig. Terwyl hulle skoolhou, help die LUR van onderwys om hul hulpbronne te plunder. Dit is ’n misdaad teen onderwysers, kinders en ouers,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Solidariteit vra dat Lesufi geskors, aangekla en ontslaan word. Solidariteit sê verder dat Lesufi en sy kaders plunderaars onder die dekmantel van ’n regering geword het.
“Die Grondwet skryf ’n doeltreffende staatsdiens voor en nie effektiewe kaderbemagtiging nie. Indien Lesufi nie geskors word nie, word kaderbemagtiging goedgepraat. Ramaphosa en die ANC kan nie sekeres vra om opsy te staan en ander plunder ongesteurd voort nie,” het Hermann gesê.
MEDIAVERKLARING
Die Grondwet skryf ʼn doeltreffende staatsdiens voor en nie effektiewe kaderbemagtiging nie. Ramaphosa en die ANC kan nie sekeres vra om opsy te staan en ander plunder ongesteurd voort nie. https://t.co/lQcwbe0UNh— Solidariteit (@solidariteit) April 6, 2021
Lesufi ontken dat hy by onreëlmatighede betrokke was en sê die bewerings teen hom is ongegrond. Hy beweer hy het tydens die gewraakte vergadering slegs verduidelik hoe tenders werk en hoe daar te werk gegaan moet word om ’n tender te bekom.