Al hoe meer Suid-Afrikaanse standbeelde van presidente uit die dae van die Boererepublieke en ander figure uit die verlede is besig om die een na die ander te sneuwel.
President MT Steyn se beeld is die afgelope week na 95 jaar voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat verwyder. Dit lyk of Paul Kruger se dae op Kerkplein ook getel is. Dit is glo net ’n kwessie van tyd voordat dit, soos baie ander standbeelde uit die land se verlede, verskuif gaan word.
Dit is nie ’n kwessie van óf die standbeeld van Paul Kruger van Kerkplein verskuif moet word nie, maar eerder deur wie en wanneer, het Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aan Netwerk24 gesê.
Paul Kruger se standbeeld word gereeld deur vandale met verf bygedam. Al hoe meer stemme gaan ook vanuit Afrikanergeledere op dat dit eerder na ’n veilige terrein verskuif moet word as wat dit ’n voortdurende teiken vir vandale moet wees.
Volgens Langner dink die FAK die tyd is ryp vir ’n openbare diskoers om te besluit of Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein moet bly en of dit nie beter is om dit liewer na ’n veiliger terrein te skuif nie.
Hy het op Facebook geskryf as oud-Kovsie was dit was vir hom hartseer om dié week te sien hoe president Steyn se standbeeld in Bloemfontein verskuif is.
“Daar is baie goeie herinneringe. Vir my as Afrikaner is die insiglose miskenning van ons geskiedenis en helde, asook die marginalisering van ons taal en kultuur, ’n groot bekommernis. Gelukkig was die verwydering ’n ordelike proses. Daar was ten minste nie ’n gillende, jillende en oproerige skare met hamers en plakkate nie. Na wat met CR Swart se beeld op Kovsies gebeur het, is die skuif van die Steyn-beeld voorkomend en die regte ding. Nou vind die beeld ’n plek op die Vrouemonument se terrein waar dit waardeer, versorg en beskerm sal word.”
Een van die voorstelle is dat Paul Kruger se standbeeld van Kerkplein na die Voortrekkermonument verskuif word.
“Skuif vir Kruger terwyl hy nog heel en ongeskonde is!” het iemand op Netwerk24 se kommentaarafdeling voorgestel.
Johan van der Westhuizen sê oom Paul kom van die Kaap af, so hy kan maar weer Kaap toe trek. “Pretoria is in elk geval nou so vol rommel en Derde Wêreld-verwaarlosing dat dit net afbreuk doen aan oom Paul se waardigheid.”
Verskeie mense meen egter die standbeelde moet met rus gelaat word en sê dit versinnebeeld nie net ’n persoon nie, maar is deel van die land se geskiedenis.
Deon van Zyl se mening is dat mense wat standbeelde vandaliseer, toegesluit moet word. “Hoekom word Mandela se beelde nie ook gevandaliseer of beklad nie; dit is omdat beskaafde mense dit aanvaar het dat hy deel is van Suid-Afrika se geskiedenis. Kry die onbeskaafdes om beskaaf te word!”
Vrye Weekblad se redakteur, Max du Preez, skryf in sy koerant dit was nog altyd sy standpunt dat Jan van Riebeeck in Kaapstad se standbeeld ’n herinnering is aan die oomblik toe sy voorsate hier aan die suidpunt van Afrika aangekom het. “Maar soos dit nou daar staan, gee dit geen erkenning aan die mense wat hy hier raakgeloop en hoe hulle geheel en al onderwerp is nie. Die oplossing is om ’n standbeeld van Autshumao, die leier van die Goringhaikona, wat toe al baie eeue lank gewoon het waar Kaapstad vandag is, langs syne op te rig met ’n gedenkplaat wat dit in konteks plaas.”
Du Preez sê as ons werklik wil hê jongmense moet die geskiedenis verstaan, behoort daar ’n behoorlike apartheidsmuseum in elke provinsie te wees, en daar behoort ’n behoorlike museum met die San en die Khoikhoi as tema in die Wes-Kaap opgerig te word.
Sy raad aan Cyril Ramaphosa is om nie te wag tot die driftigheid en politieke opportunisme van ’n klomp heethoofde met ons weghardloop en skares begin om standbeelde te vernietig nie, maar om so gou moontlik ’n raad aan te stel wat oor die volgende jaar al die simbole uit die verlede moet oorweeg en insette van elke gemeenskap moet kry.
Buro: MvH