Al hoe meer wil hulle in 2023 losmaak van Eskom

  • 0

Al hoe meer huishoudings en instansies beplan om vanjaar hulle afhanklikheid van Eskom te verminder deur alternatiewe bronne vir energieverskaffing te verkry.

Terwyl individue wat dit kan bekostig al hoe meer gebruik maak van sonpanele vir sonenergie en ander metodes, soos omskakelaars, om beurtkrag vry te spring, wil die Wes-Kaapse regering sowel as die kragvoorsiener City Power in Johannesburg ook vanjaar hulle afhanklikheid van Eskom verminder deur alternatiewe-energie-kragverskaffers te verkry.

Die Wes-Kaapse regering sê hulle sal vanjaar vinniger in hierdie rigting beweeg.

Die provinsie se premier, Alan Winde, het Woensdag ’n besigheid in Macassar, Taylor Technology, besoek wat stappe doen om die impak van voortdurende beurtkrag te verminder. Hy is vergesel deur die voormalige uitvoerende beampte van Eskom, Alwie Lester, wat nou by die span van die Wes-Kaapse regering (WKR) aangesluit het, en die uitvoerende direkteur van energie by die Stad Kaapstad, Kadri Nassiep.

Die doel van die besoek was vir die premier om self te kon sien hoe die privaatsektor – veral klein tot mediumgrootte besighede – vaar en wat die WKR kan doen om ’n bemagtigende omgewing vir sake-eienaars en hulle werknemers te help skep.

Winde sê in ’n verklaring om die Wes-Kaap meer beurtkragbestand te maak, sal ’n top prioriteit vir die WKR in 2023 bly. “Ons moet seker maak dat daar meer beleggings in en van die private sektor is om die verwoestende gevolge van beurtkrag te versag. In 2022 het ons 3 630 uur se kumulatiewe beurtkrag in Suid-Afrika gehad. Ekonomiese herstel, en nog belangriker, werkskepping, kan nie onder hierdie omstandighede plaasvind nie.”

Winde sê 2022 was ’n jaar van herstel vir die provinsie. “In 2023 sal ons harder druk om ons ekonomiese herstel te bevorder te midde van die voortslepende energiekrisis. Die baie suksesvolle feestyd het die Wes-Kaap se jaar van herstel afgesluit.” Hy sê die provinsie besef dat 2023 ’n uitdagende jaar gaan wees, maar dit is nietemin ’n jaar van hoop en geleenthede vir die Wes-Kaap.

Hy het Energy Capital – ’n onderneming wat tot dusver 280 sonpanele by Taylor Technology se perseel geïnstalleer het om hulle te help om meer veerkragtig en volhoubaar te word – geloof vir die benutting van die potensiaal van die hernubare-energie-sektor.

“Ek prys ons vennote in die private sektor dat hulle kanse waag deur hul sakebedrywighede in ons provinsie op te rig, ekonomiese en werksgeleenthede te skep, en dat hulle gehelp het in ons kollektiewe strewe om meer bestand teen kragonderbrekings te word.”

Winde sê dit sal ’n reusepoging verg om meer bestand teen kragonderbrekings te wees, maar dit is ’n uitdaging waarvoor die Wes-Kaap opgewasse is en verbind is. “Ek en my regering sal nou saamwerk met die private sektor en munisipaliteite regoor die provinsie om te verseker dat ons ’n bemagtigende omgewing vir energieveerkragtigheid skep. Ek is baie opgewonde oor die werk wat ek in Saldanhabaai, Stellenbosch, George en die Stad Kaapstad sien om meer onafhanklike kragprodusente (IPP's) aan boord te bring, en ons sal nou saamwerk met alle provinsiale munisipaliteite in 2023 om ons energieveerkragtigheid te verhoog, het Winde gesê.

Die kragvoorsiener City Power het op hulle beurt gesê hulle wil ook hulle  afhanklikheid van Eskom vanjaar verminder deur alternatiewe-energie-kragverskaffers te verkry.

Volgens die elektrisiteitsverspreider het die vennootskap met Eskom te duur geword, aangesien hy elke dag R3,6 miljoen begin verloor het weens beurtkrag.

Die nutsmaatskappy het volgens Eyewitness News gesê verlede maand se voortdurende  kragonderbrekings het sy elektrisiteitsinfrastruktuur verlam, wat vererger is deur weke lange swaar reën.

City Power reageer steeds op ’n agterstand van duisende onderbrekings, wat vertraag word omdat herstelwerk nie uitgevoer kan word wanneer daar geen krag is nie, en sommige gebiede was steeds sonder krag toe die nuwe jaar aangebreek het.

Woordvoerder Isaac Mangena het namens die nutsmaatskappy gesê die maatskappy is besig om van Eskom weg te beweeg. “Nie heeltemal wegbeweeg nie, maar ons oorweeg ander opsies vir elektrisiteitsvervangings soos gas- en sonkragtoevoer in die komende paar jaar en is tans in die proses om dit te werf.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top