Alle oë is gerig op Cyril Ramaphosa wat na verwagting dié naweek sy nuwe kabinet sal bekendmaak.
Cyril Ramaphosa (Foto: Kremlin.ru [CC BY 4.0], via Wikimedia Commons)
Politieke kommentators het sedert die uitslag van die algemene verkiesing wyd en syd gespekuleer oor hoe die span gaan lyk wat die land tydens Ramaphosa se eerste volle termyn as president sal regeer.
Daar word verwag dat hy ’n hele paar belangrike skuiwe in die kabinet gaan aankondig. Hy het reeds gesê hy weet die land hou hom met valkoë dop. Hy het na sy verkiesing as president in die parlement gesê hy is deeglik bewus van die werk wat gedoen moet word.
Die president word Saterdag op Loftus Versveld in Pretoria amptelik ingehuldig en sal na verwagting kort daarna die name van sy kabinetslede bekendmaak.
Daar is veral drie dinge wat Suid-Afrikaners graag wil weet:
- Hoe groot gaan die kabinet wees?
- Wie gaan die adjunkpresident wees?
- Hoeveel van die ou Zuma-lojaliste gaan weer die kabinet haal?
Daar kan met stelligheid aanvaar word dat die kabinet kleiner gaan wees as tans. Die President het reeds tydens sy eerste staatsrede verlede jaar te kenne gegee dat hy sy kabinet wil verklein.
Daar is ook groot druk vanuit opposisiegeledere dat die kabinet verklein moet word. Die EFF-leier, Julius Malema, wil selfs hê dat daar geen adjunkministers moet wees nie, omdat hulle volgens hom geen werk doen nie. Dit is onwaarskynlik dat Ramaphosa aan dié versoek sal toegee, aangesien adjunkministers nog altyd deel van die regering se uitvoerende gesag was.
Senior ANC-lid Fikile Mbalula het vroeër die maand bespiegel dat Ramaphosa sy kabinet tot minder as 30 sal sny. Daar is tans 34 ministers en 35 adjunkministers.
Politieke waarnemers raai dat hy sommige ministeries sal saamsmelt onder een minister en ontslae sal raak van verskeie adjunkministers.
Suid-Afrika se kabinet is tans een van die grootstes ter wêreld. Amerika het slegs 15 ministers, Kenia het 18 en Engeland het 21 kabinetslede.
Dit was veral onder Thabo Mbeki en Jacob Zuma se bewind dat die kabinet buite verhouding groot geword het. In Nelson Mandela se tyd was daar altesaam 50 ministers en adjunkministers saam wat aangegroei het tot 72 kabinetslede onder Zuma.
Die tweede saak waaroor daar bespiegel word, is wie die nuwe adjunkpresident gaan wees nadat adjunkpresident David Mabuza Woensdag gevra het om nie as lid van die parlement beëdig te word nie.
Dit bied aan Ramaphosa die geleentheid om ’n vrou in die pos aan te stel. Sy voorkeurkandidaat was van die begin af Naledi Pandor, maar Mabuza het hom in die amp ingewurm toe hy Ramaphosa gehelp het om naelskraap verkies te word as president van die ANC.
’n Tweede naam wat genoem word, is dié van Nkosazana Dlamini-Zuma. Dit kan Ramaphosa se steunbasis in KwaZulu-Natal versterk en ook help om groter eenheid in die verdeelde ANC te skep. Dlamini-Zuma het in ek geval skynbaar haar volle gewig agter Ramaphosa ingegooi sedert hy haar geklop het om ANC president te word.
Die publiek se gunsteling vir die pos is die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, maar die kanse dat dit sal gebeur, is nul. Sy is nie ’n lid van die Nasionale Vergadering nie en haar naam verskyn ook nie op die ANC se partylys vir 2019 se verkiesing nie. Sy kan dus nie beëdig word as lid van die parlement nie. Die President kan wel een of twee ministers van buite aanstel indien hy wil.
Die derde kwessie waaroor bespiegel word, is hoeveel van Zuma se lojaliste wat nog in die kabinet sit, die trekpas gaan kry en watter nuwe bloed ná volgende week in die kabinet gaan wees. Daarvoor sal Suid-Afrikaners minstens tot die naweek moet asem ophou. Laastens kan Ramaphosa ook verras deur weer lede van ander partye te nooi om in sy kabinet te dien, soos tydens Nelson Mandela se bewind toe daar ’n regering van nasionale eenheid was.
Buro: MvH