Die land is voorbereid vir die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS-) eksamen waar byna 900 000 graad 12-leerders Maandag begin het met hulle matriekeksamen toe hulle die eerste Engels-vraestel afgelê het.
Sowat 16 400 kandidate sal vanjaar die eksamens van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) aflê.
Daar is meer as 727 000 voltydse en 155 215 deeltydse kandidate by vanjaar NSS-eksamens betrokke,
Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, sê haar departement het streng veiligheidsmaatreëls getref om die integriteit van eksamens te handhaaf deur met die nasionale en provinsiale gesamentlike bedryfskomitees saam te werk.
Sy het die afgelope naweek die media ingelig oor haar departement se gereedheid, gebeurlikheidsplanne en strategieë om ’n gladde eksamenproses vir beide die NSS- en die Onafhanklike Eksamenraad-eksamens te verseker.
Vanjaar se matrieks het Vrydag ’n NSS-eksamen-eed onderteken om etiese standaarde te handhaaf.
Gwarube en Gauteng se LUR vir onderwys, Matome Chiloane, het Maandag ook die Soshanguve-Oos Sekondêre Skool in die noorde van Pretoria besoek om leerders aan te moedig waar hulle hul matriekeksamen begin skryf het.
Gwarube sê ekstra maatreëls is getref om te verhoed dat enige verbode items, insluitend wapens, in lokale ingeneem word en om te verseker dat leerders daarop kan fokus om hul beste te lewer sonder enige vrees of afleiding.
This morning, I visited Soshanguve East Secondary School in Tshwane to monitor the start of the 2024 NSC Examinations, together with MEC Chiloane. I am pleased to share that the school was fully prepared, with all the necessary precautions in place to ensure a safe and… pic.twitter.com/pCr59ywcOC
— Siviwe Gwarube (@Siviwe_G) October 21, 2024
Die nasionale matriekeksamens het ’n jaarlikse gebeurtenis van groot openbare belang geword. Dit dui volgens die departement nie net op die hoogtepunt van 12 jaar se formele skoolopleiding nie, maar is ook ’n barometer van die gesondheid van die land se onderwysstelsel.
Vanjaar se eksamen duur tot 27 November.
President Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê al die nodige stelsels is daargestel om te verseker dat die eksamentydperk glad sal verloop. Hy sê die Departement van Basiese Onderwys en die kwalifikasiestandaarde-owerheid Umalusi is hard besig om die meer as 9 200 eksamensentrums te oudit, eksamennasieners aan te stel en te keur, en vraestelle goed te keur. Dit sluit aangepaste vraestelle vir leerders met spesiale behoeftes in.
On behalf of the government I wish all our learners wellat this challenging and exciting time. These exams arethe culmination of many years of hard work, perseverance and resilience, often in the face of difficult odds.
https://t.co/okEShHzGYs#Matric2024 pic.twitter.com/fLl7ofEmnl— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 (@CyrilRamaphosa) October 21, 2024
Politieke partye het die matrieks ook sterkte toegewens.
Die ANC sê hulle wens die klas van 2024 sterkte toe vir wanneer hulle hierdie belangrike fase van hul akademiese reis aanpak: “Harde werk, tesame met die ondersteuning van julle ouers, onderwysers en gemeenskappe, sal sekerlik tot sukses lei,” het die party op X gesê.
The ANC wishes the Class of 2024 the best of luck as they embark on this significant phase of their academic journey; hard work, coupled with the support of your parents, teachers, and communities, will surely lead to success.#LetsDoMoreTogether pic.twitter.com/XbXzkjpfln
— African National Congress (@MYANC) October 21, 2024
Die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, Delmaine Christians, sê haar party wens die 2024-matriekklas die beste toe.
Sy sê in ’n verklaring die party erken die harde werk en toewyding van beide leerders en onderwysers, asook die uitdagings wat hulle in die gesig gestaar het, insluitend kwessies met leerdervervoer, oorvol klaskamers, en onvolledige toegang tot voedingsprogramme by skole.
Die DA moedig matrikulante aan om gefokus te bly op hul doelwitte en ywerig te werk tydens hierdie finale fase van hul skoolopleiding. Hulle spreek ook die hoop uit vir positiewe resultate wanneer die Departement van Basiese Onderwys die resultate volgende jaar bekendmaak.
Daarbenewens bevestig die DA sy verbintenis daartoe om die eksamen-, nasien- en verifikasieprosesse noukeurig te monitor. “Ons vertrou dat vanjaar se eksamen sonder skandaal sal wees en dat geen leerders of studente hulle aan enige vorm van bedrog skuldig sal maak nie.”
Christians sê die DA wil ook die tussen 39,5% en 43,2% jongmense wat voor matriek uitgeval het, aanmoedig om hul opleiding deur TVET-kolleges voort te sit. Die kolleges fokus op beroepsonderrig en -opleiding en berei studente voor om funksionele werkers in ’n geskoolde ambag te word.
Ongeveer 3,6 miljoen jongmense tussen die ouderdomme van 15 en 25 het nie werk nie en ook nie voldoende opleiding nie.
Die voorsitter van ActionSA se jeugforum, Hluphi Gafane, het in ’n verklaring gesê ActionSA bly onwrikbaar daartoe verbind om kwaliteitonderwys vir alle Suid-Afrikaners te verseker. “Ons glo dat om ons jeug toe te rus met die vaardighede wat nodig is om in die werkplek te floreer, die kragtigste instrument is wat ons as ’n nasie het om die toenemende kwessies van jeugwerkloosheid en armoede aan te pak.”
ActionSA extends its best wishes to the matric class of 2024 as they begin their final exams today.
All the best Class of 2024, make us proud! 💚🇿🇦 pic.twitter.com/bFPwakjqlQ
— ActionSA (@Action4SA) October 21, 2024
Hy sê goeiekwaliteitonderwys is die beste manier om te verseker dat jongmense uit armoede gelig word.