Sewe politieke partye het hulle die afgelope week amptelik daartoe verbind om die ANC-regering volgende jaar in ’n gesamentlike poging uit die kussings te probeer lig.
Hulle hoop dat nog partye en burgerlike organisasies hulle daarby sal aansluit.
Die partye wat reeds ooreengekom het om op 16 en 17 Augustus deel te neem aan ’n nasionale konvensie om hulle doelwit te probeer bereik is die DA, IVP, Vryheidsfront Plus, ActionSA, United Independent Movement, die NFP en die Spectrum National Party.
Die partye het in ’n gesamentlike verklaring gesê die 2024-verkiesing bied ’n ongekende geleentheid vir die mense van Suid-Afrika om ’n nuwe regering te kies.
Worried about the ever-rising cost of living?
Register to vote for a responsible multi-party coalition government which will reduce food prices and fuel levies.
Your vote is your voice! pic.twitter.com/EjxUjk2568
— Multi-Party Coalition Advocacy Group (@MultiCoalition) July 5, 2023
Die Multi-Party Coalition Advocacy Group, wat hulle beywer vir ’n veelpartykoalisieregering ná aanstaande jaar se verkiesing, sê egter dit sal nie genoeg wees om Suid-Afrika te red as hulle daarin slaag om die ANC se steun tot net onder 50% te laat daal nie, aangesien dit die ANC steeds met te veel weë laat om aan bewind te bly.
“Selfs met minder as 50% steun kan die ANC aan bewind bly met die hulp van partye soos die EFF en kleiner partye,” waarsku hulle op Twitter.
In the interests of doing what Cyril Ramaphosa cannot, of rising above petty partisan politics, of putting South Africa first and of keeping the ANC-EFF Doomsday Coalition out, the Multi-Party Coalition Advocacy Group calls for likeminded political parties, to defeat the ANC, to… pic.twitter.com/TenSU2qgtO
— Multi-Party Coalition Advocacy Group (@MultiCoalition) July 2, 2023
Die groep waarsku ook teen ’n “impotente, onstabiele minderheidskoalisie”. Hulle sê die ervaring in plekke soos Johannesburg en Ekurhuleni het gewys dat minderheidskoalisies wat nie 50%+1 kan haal nie, inherent onstabiel is.
“Wat dit beteken, is dat die partye waarvoor die Multi-Party Coalition Advocacy Group pleit, moet saamwerk om die punt van 50%+1 te bereik, sodat hulle die ANC en sy gevolmagtigdes kan verslaan, en die EFF uithou.”
Die konvensie van 16 en 17 Augustus sal by dieselfde plek plaasvind waar die Kodesa-onderhandelinge plaasgevind het in aanloop tot die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994.
Die partye wat reeds ooreengekom het om deel te wees van volgende maand se konvensie sê in hulle verklaring vir die heel eerste keer sedert 1994 kan die sittende regerende party sy meerderheid verloor wanneer kiesers volgende jaar gaan stem.
Die partye sê die moontlikheid van ’n verandering in die regering volgende jaar is rede tot optimisme. “Maar dit plaas ook ’n diepgaande verantwoordelikheid op die skouers van opposisiepartye wat Suid-Afrika in ’n fundamenteel beter rigting wil neem.”
Hulle sê dit is ’n verantwoordelikheid wat hulle as die leiers van die verskillende politieke organisasies ernstig opneem.
“Ons weet dat baie burgers angstig is oor die toekoms. Ons weet dat hulle sekerheid wil hê dat die nuwe nasionale regering wat ANC-oorheersing volgende jaar vervang, stabiel, lewensvatbaar en doeltreffend sal wees. Bowenal wil hulle hê dat opposisiepartye ’n lewensvatbare pad moet bied om die 50%+1-meerderheid te bereik wat ons nodig het om ’n regering te vorm sonder die ANC, die EFF en hul gevolmagtigdes wat ’n voorspoedige toekoms vir alle Suid-Afrikaners kan lewer.”
Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus, wat die afgelope tyd intens betrokke is by onderhandelings om koalisieregerings op plaaslike vlak te bewerkstellig, sê die voorgenome droompakt om die ANC uit die kussings te lig kan slegs slaag as kerke, die sakegemeenskap, organisasies sonder winsbejag, akademici en die breër burgerlike saamlewing ook daarby betrek word.
Hy het aan Netwerk24 gesê politieke partye sal wyer moet dink as om slegs politieke partye by die voorgenome pakt te betrek as hulle in hulle doel wil slaag
????️Dít is nodig vir ‘droompakt’ om te slaag, sê VF Plus - @MulderCorn Lees die artikel hier: https://t.co/lYbydOk4bP @Netwerk24
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) July 5, 2023
DA-leier John Steenhuisen sê as alles goed gaan, sal die pakt tydens volgende maand se konvensie vorendag kom met duidelik gedefinieerde waardes en beginsels, ’n gemeenskaplike minimum-aksieprogram, en ’n formule wat Suid-Afrika sal wys hoe ’n paktkabinet kan lyk.
▶️ KYK HIER || Die “gruwelike” voorval waar polisielede motoriste op die N1-snelweg aangerand het, wys waarom ’n pakt tussen opposisiepartye belangrik is om die #ANC te ontsetel, sê John Steenhuisen. || @christiaan2plus https://t.co/k8hbhxQoqN
— Netwerk24 (@Netwerk24) July 4, 2023
Steenhuisen sê as alle lede van die pakt daarop fokus om voormalige ANC-ondersteuners te wen en ontnugterde kiesers te kry om te registreer en in groot getalle op te daag, kan hulle by 50% uitkom en ’n nuwe regering vorm om Suid-Afrika te red.