Amerika gee Suid-Afrika nóg ’n dwarsklap in die gesig

  • 0

Amerika is besig om Suid-Afrika onder die Trump-administrasie al hoe meer die rug toe te keer as gevolg van Suid-Afrika se binnelandse beleid.

Kort op die hakke van president Donald Trump se dreigement om alle hulp aan Suid-Afrika op te skort vanweë die land se Onteieningswet, het die VSA se minister van buitelande sake, Marco Rubio, nou ook Woensdagaand op X geskryf dat hy nie later vanjaar die G20-beraad in Johannesburg sal bywoon nie. Hy sê “Suid-Afrika doen baie slegte dinge. Onteiening van private eiendom. Die gebruik van die G20 om solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid en klimaatsverandering te bevorder.”

Hy sê sy werk is “om Amerika se nasionale belange te bevorder, nie belastingbetalersgeld te mors of anti-Amerikanisme te koester nie.”

Die aankondiging kom twee dae nadat Trump Suid-Afrika oor die Onteieningswet en ander kwessies voor stok gekry het.

DGI (Engels DEI) oftewel diversiteit, gelykheid en insluiting is van die kwessies waaroor Trump hom sterk uitgespreek het sedert hy verlede maand na die Withuis teruggekeer het.

Die G20-Johannesburg-beraad sal die 20ste vergadering wees van die Groep van Twintig, ’n groep staatshoofde en regeringshoofde, wat van 22 tot 23 November 2025 gehou word. Dit sal die eerste G20-beraad wees wat in Suid-Afrika en op die Afrika-vasteland gehou word.

Amerika se besluit om die G20-beraad te boikot word allerweë beskou as ’n groot slag vir die beraad, wat ten doel het om die wêreld se grootste ekonomieë te verteenwoordig. Die VSA is die wêreld se grootste ekonomie. Dit is nog onduidelik of die VSA vanjaar heeltemal uit die G20 gaan onttrek en of hulle dalk op ’n laer vlak steeds sal voortgaan om deel te neem.

Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, het spoedig op X op Amerika se besluit gereageer. Hy het ontken dat die regering beoog om private grond sonder vergoeding te onteien.

“Ons is ’n soewereine en demokratiese land wat verbind is tot menswaardigheid, gelykheid en regte, wat nierassigheid en nieseksisme voorstaan​, ​terwyl ons ons Grondwet en die oppergesag van die reg op die voorgrond plaas,” het Lamola getwiet en ook die aanhef van die land se Grondwet by wyse van ’n foto by sy boodskap gevoeg.

Lamola het op X gesê daar is geen arbitrêre onteiening van grond of privaat eiendom in Suid-Afrika nie. Hy sê die wet waaroor Trump so te kere gaan, is soortgelyk aan onteieningwetgewing in Amerikaanse deelstate, naamlik die sogenaamde eminente domein, waar regerings die mag het om private eiendom vir openbare gebruik te neem, soos vir paaie en brûe. Die regering moet die eienaar “regverdige vergoeding” vir die eiendom betaal.

Lamola sê in ’n verklaring Suid-Afrika bly daartoe verbind om die regering van die VSA te betrek.

“Solidariteit/Ubuntu-filosofie bevorder kollektiewe probleemoplossing. Ons G20-presidentskap is nie net tot klimaatsverandering beperk nie, maar ook tot billike behandeling vir nasies van die globale Suide, wat gelyke globale stelsel vir almal verseker. Dit is belangrike beginsels wat ons oop bly om na te streef en die Verenigde State by te betrek,” het Lamola gesê.

Elizabeth Sidiropoulos, nasionale direkteur van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede, het volgens mediaberigte gesê Rubio se besluit stel Suid-Afrika voor ’n besondere uitdaging, aangesien die VSA, in sy hoedanigheid as volgende jaar se president van die G20, deel is van die troika van lande wat veronderstel was om Suid-Afrika te help om sy presidentskap te bestuur.

Sy sê die afwesigheid van die VSA se minister van buitelandse sake by die G20-beraad as verteenwoordiger van die grootste ekonomie ter wêreld en ’n uiters belangrike speler, sal ’n groot impak op die beraad hê.

Dit sou ook die eerste geleentheid vir Rubio gebied het om sy Russiese eweknie, Sergei Lavrov, minister van buitelandse sake, te ontmoet waartydens hulle onder andere oor die oorlog in Oekraïne sou kon gesels het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top