“Hie’ gat ôs al wee’,” sou ’n mens in Kaaps kon sê in reaksie op die volgende waarneming: Nóg ’n week in die Suid-Afrikaanse politiek beteken nóg ’n krisis vir die land se regering van nasionale eenheid (RNE). Of anders gestel: nóg ’n bedreiging vir die voortbestaan van die RNE. Of dalk nie?
Pas terug van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF), land pres Cyril Ramaphosa die ander dag op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg, breë bors oor ’n goeie besoek aan Davos, Switserland, waar hy ’n geleentheid gekry het om ’n spesiale toespraak te lewer.
Dié toespraak gebruik hy toe om oor die suksesse van die RNE te praat – seker maar vernaamlik omdat hy dit altyd sal kan voorhou as sy een groot prestasie as staatshoof, of is sy werklike prestasie dat hy die (staatskaping-) skade van sy Zuma-voorganger probeer herstel het?
Ramaphosa prys doer annerkant in Davos die “kultuur van samewerking” wat oor jare deur Suid-Afrika ontwikkel is. Nou het die samestelling van die RNE – na afloop van die Mei 2024-verkiesing – “ons na ’n hoër vlak geneem”. En dan ’n klop op die skouer: “Die regering van nasionale eenheid, of RNE soos wat ons daarna verwys, bestaan uit 10 politieke partye – ’n regering wat ons binne presies vier weke kon saamstel, terwyl talle ander lande, spesifiek in die Globale Noorde, tot op ’n jaar neem om dieselfde te doen as wat ons in slegs 30 dae reggekry het.”
Ramaphosa is oortuig daarvan dat dié stap noodsaaklik was vir stabiliteit – en inklusiewe regeerkunde in die land – en dat dit bygedra het tot groter belangstelling onder beleggers in Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte. Oor wat presies hierdie “ekonomiese vooruitsigte” is, bestaan daar meningsverskille. Die regering self het die verwagte ekonomiese groei oor die volgende drie jaar op ’n gemiddeld van 1,6% groei gestel in die Nasionale Tesourie se 2024-Begrotingsoorsig – ’n “matige” verbetering, word bygevoeg, teenoor voorheen se 1,4% groeiverwagting.
’n Ander mening, dié deur die African Development Bank Group, laat jou kopkrap met die verwagte groei vir 2024 wat deur hulle op ’n laer (“weekly positive”, pap-positiewe) 1,3% gestel is, hoewel hulle ook verbeterde groei van tot 1,6% vir vanjaar verwag. KPMG South Africa se (ooroptimistiese?) voorspelling van 1,5% ekonomiese groei vir vanjaar is die voorspel tot ’n aansienlike sprong na 1,8% in 2026. Sien is glo, lui die spreekwoord. Nou kan die kollig teruggedraai word na Ramaphosa se “triomfantelike” terugkeer van oorsee.
Terwyl die president onlangs in die buiteland was, en voordat hy kamstig met eie bagasie in die hand by die OR Tambo-lughawe geland het, het hy egter ook (omstrede) agterstallige werk ingehaal deur die Onteieningswet te onderteken – sonder dat hy dit enigsins met sy RNE-vennote bespreek het. Dit laat stabiliteit en inklusiewe regeerkunde se bene bewe. Sowel die DA as die VF Plus, asook burgerlike organisasies, het opsluit met regstappe gedreig en die minister van openbare werke, Dean Macpherson van die DA, sweer hy sal alles in sy mag doen om ’n stokkie voor die inwerkingstelling van die wet te steek.
Opnuut ontstaan die vraag dan of ’n minister strydig met die magte van die staatshoof mag optree, siende dat jy in die kabinet dien op grond van die guns en genade van die president? Maar ook – belangriker – die vraag oor of jy jou partybeleid moet volg of gelei moet word deur wat jou “werkgewer” wil hê? Macpherson loop in die spoor van ’n party- en kabinetskollega, Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, wat aanvanklik vasgeskop het teen ’n ander stuk onlangs-ondertekende (en eweneens omstrede) wetgewing, naamlik die Bela-wet oor basiese onderwys. Hierdie beleid maak onder meer daarvoor voorsiening (rooi lig flikker!) dat ’n provinsiale onderwyshoof die finale sê oor skole se taal- en toelatingsbeleid sal hê, maar ook (groen lig!) maak dit skoolbywoning vir kinders van ’n sekere ouderdomsgroep verpligtend.
Macpherson en Gwarube het wel ’n belangrike kaart teen hul bors, aangesien ministers verantwoordelik is vir die opstel van regulasies, norme en standaarde vir die toepassing van nuwe wetgewing. ’n Kantaantekening hieroor: Natuurlik sou geen DA-lid hierdie soort mag (invloed, seggenskap) gehad het indien die DA nie deel van die RNE was nie, en telkens wanneer die party deur ondersteuners en drukgroepe aangemoedig word (of stemme in die party self dreig) om uit die RNE te onttrek, móét die gepaardgaande verlies aan mag ’n bepalende faktor in die oorweging van so ’n drastiese besluit speel.
Teen die tyd dat ek hierdie artikel begin skryf het, was dit net plaaslike teenstand teen Ramaphosa se ondertekening van die Onteieningswet wat ter sprake was; noudat ek dit afhandel, het die kwessie ’n internasionale twispunt geword met pres Donald Trump van Amerika wat ook sy stem hieroor laat hoor het. Sonder dat hy enige besonderhede kon verskaf, beweer hy dat die Suid-Afrikaanse regering die allerverskriklikste vergrype pleeg deur grond te gryp en deur die behandeling van “sekere klasse” van landsburgers. Hieroor sal Amerika blykbaar nou ’n deeglike ondersoek doen, wat sal bepaal watse stappe teen die land gedoen sal word. Maar Suid-Afrika voel reeds die Amerikaanse angel aan die bas met die uitvoerende bevele wat deur Trump onderteken is aangaande hulpverlening aan lande deur die USAID-agentskap.
In sy reaksie het Ramaphosa in ’n toespraak braaf in die bresse vir die land en sy regering getree: “Trump kan sy Amerika hou!” verklaar hy. Suid-Afrika weet tog wat hy doen – en niks daarvan is strydig met die grondwetlike demokrasie wat hier heers nie. En dit is goed en wel. Maar Ramaphosa het rede om te hoop dat sy verhouding met Trump spoedig herstel word, want Suid-Afrika het alle invloedryke moondhede se goedgesindheid nodig in die jaar dat die land met die presidentskap van die G20-groep van ekonomiese magte toevertrou word.
Wat egter prioriteit moet geniet, is dat Ramaphosa sy eie huis in orde moet hou. Indien die RNE vou, wat wel nie sommer sal gebeur nie, sal hy dalk groter moeilikheid op hande hê – spesifiek met die EFF-leier Julius Malema wat sy woede-karwats teen Trump inspan omdat Ramaphosa kwansuis te swak daarvoor is, terwyl die EFF nou ook openlik toenadering tot die RNE (sonder die DA!) begin soek.
Die gevolge sal aaklig wees. Al weet ek nie wat presies Totius gemotiveer het om sy gedig “Die wêreld is ons woning nie” te skryf nie, voel dit nou vir my gepas om daaruit aan te haal (en ietwat aan te pas) om ons huidige verhouding met Amerika te probeer beskryf:
[Amerika] is ons woning nie.
Dit merk ek aan die son wat wyk,
en ‘k merk dit aan die reier wat
mistroostig na die son sit kyk
op een been, in die biesiesvlei.
En is die laaste strale weg,
dan rys ’n koue op uit dié vlei.
Haal hier eers bietjie asem, neem ’n slukkie drinkgoed en lees dan verder:
’n Koue gril deurhuiwer my;
En ’k sien dit dan aan alle ding
Wat in die skemer my omring,
[Amerika] is ons woning nie.
Dalk kan Ramaphosa die gedig toonset vir insluiting in sy komende staatsrede, waarin hy, soos wat hy in Davos by die WEF gedoen het, ’n loflied vir die RNE sal sing. Hierdie keer moontlik met ’n ander stemtoon.