Amerika ook warm onder die kraag oor SA-weemaghoof se uitlatings

  • 0

Die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), generaal Rudzani Maphwanya, se politieke uitlatings onlangs in Iran het nou ook die Amerikaners warm onder die kraag.

Die Amerikaanse regering wil glo duidelikheid hê oor Suid-Afrika se beleid teenoor Iran ná die wyd gepubliseerde kommentaar van Maphwanya, tydens sy reis na Iran.

Maphwanya het na bewering verklaar dat Suid-Afrika en Iran gemeenskaplike doelwitte het en “langs die onderdrukte en weerlose mense van die wêreld” staan. Hy het solidariteit met die Palestyne uitgespreek, Israel se optrede in Gaza en die Wesoewer veroordeel, en Iran se anti-apartheidsteun beklemtoon. Die Suid-Afrikaanse regering het hom van hierdie opmerkings gedistansieer.

Intussen berig verskeie mediahuise dat Suid-Afrika se parlementêre verdedigings- en internasionale betrekkinge se portefeuljekomitees met die minister van verdediging, Angie Motshekga, en die minister van buitelandse sake, Ronald Lamola, wil vergader oor Maphwanya se kontroversiële opmerkings.

Die Amerikaanse regering het volgens mediaberigte “groot kommer” uitgespreek oor Maphwanya se stellings en gevra vir ʼn verduideliking oor Suid-Afrika se amptelike standpunt teenoor Iran. Dit kom te midde van reeds gespanne verhoudings tussen Suid-Afrika en die VSA. Die VSA se kommer spruit uit Suid-Afrika se groeiende bande met Iran, asook vorige aksies, soos Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Hof van Justisie

Maphwanya het ook gepraat van “volledige politieke en militêre solidariteit” met Iran en hulle as “antikoloniale bondgenote” beskryf. Hierdie opmerkings het diplomatieke spanning veroorsaak, aangesien dit gesien word as politieke posisionering sonder magtiging.

Die Demokratiese Alliansie (DA), wat deel van die koalisieregering is, het reeds gevra dat die generaal voor ’n krygshof moet verskyn vir growwe wangedrag en skending van die SANW se gedragskode en beleid van politieke neutraliteit.

Aan die ander kant het die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) hom verdedig en die kontroversie as ’n “vervaardigde publieke skandaal” deur Westerse imperialiste beskryf.

Die uitlatings is gemaak op 13 Augustus 2025 terwyl Maphwanya Iran se verdedigingsnavorsing- en opleidingsfasiliteit (Dafoos) besoek het en oor militêre samewerking gepraat het. Dit het plaasgevind te midde van globale spanning, insluitend Israel-Iran-konflik en die VSA se kritiek op Suid-Afrika se menseregteverslag (wat deur Suid-Afrika as “onakkuraat en gebrekkig” verwerp is). Ontleders waarsku dat dit diplomatieke bande verder kan kompliseer en Suid-Afrika se ekonomie kan benadeel, veral met die G20-voorsitterskap in 2025 op die horison. Maphwanya het nog nie in die openbaar op die kontroversie gereageer nie.

Die joernalis Stephen Grootes skryf in ’n meningstuk in Daily Maverick die argument vir president Cyril Ramaphosa om Maphwanya af te dank is nou oorweldigend. Die generaal se reis na Iran, en sy gerapporteerde kommentare daar, is nie sy eerste foute nie.

Grootes sê alhoewel Maphwanya moontlik ’n goeie rede gehad het om na Iran te gaan, moes hy sekerlik geweet het dat die tydsberekening, onmiddellik na Iran se konflik met die VSA, onverstandig was, veral met Suid-Afrika se moeilike verhouding met Washington op die oomblik.

Hy moes ook geweet het dat minstens een van sy vergaderings verfilm sou word. En hoewel hy nou kan beweer dat hy verkeerd aangehaal is, moes hy homself nie in ’n posisie geplaas het waarin dit kon gebeur nie.

Grootes sê Maphwana behoort ook rekenskap te gee van sy hantering van die moord op die Valke-ondersoeker luitenant-kolonel Frans Mathipa, waarin sy soldate betrek word. Deur nou teen Maphwanya op te tree kan Ramaphosa volgens hom die beginsel herstel dat mense in uniform aan ’n demokraties verkose gesag verantwoording moet doen.

Hy sê dit uiters skaars dat ’n staatsamptenaar ’n openbare teregwysing van ’n ministerie of die presidensie ontvang. “Om teregwysings van twee ministeries en die presidensie te ontvang, is waarskynlik ongekend – selfs al het die minister van verdediging en militêre veterane, Angie Motshekga, haarself nou weerspreek en beweer dat Maphwanya niks verkeerd gedoen het nie,” sê Grootes.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top