Amerika se "Gupta-sanksies" moet SA help op voete kry

  • 0

Die nuus het heel onverwags verlede Donderdag gekom – dat Amerika finansiële sanksies ingestel het teen die berugte Gupta-broers, Ajay, Atul en Rajesh, en hul sakevennoot Salim Essa – en dit was nie ’n oomblik te vroeg nie.

Dit is gedoen ingevolge die sogenaamde Magnitsky-wet, wat Amerikaanse maatskappye en individue verbied om sake te doen met mense wat gelys is in dié land se “korrupsie-register”.

Die eens magtige Guptas, wat gedurende die ampstermyn van oudpresident Jacob Zuma op ’n onbehoorlike wyse miljoene uit staatskontrakte verdien het, word allerweë as die “gesigte van staatskaping” beskou.

In die Amerikaanse tesourie se verklaring word dit onomwonde as volg gestel: “The Gupta family leveraged its political connections to engage in widespread corruption and bribery, capture government contracts, and misappropriate state assets.”

Die Gupta-broers (Foto: YouTube)

Die bewerings wat teen die Guptas gemaak word, word deur die Amerikaners as genoegsame bewys beskou dat hulle deel van ’n “gevestigde korrupsienetwerk” was.

Maar net verlede week nog het Zuma se seun, Duduzane, voor die Zondo-kommissie oor staatskaping getuig oor sy eie verhouding met die Guptas vir wie hy gewerk het en mee sake gedoen het. Dat hy onder meer vergaderings met ander rolspelers in die “gevestigde korrupsienetwerk” by die Guptas se Johannesburg-woning gehou het, was op geen wyse onvanpas nie, glo hy.

Dit was nie lank ná die nuus uit Amerika nie dat die vraag gevra is of dit die resultaat is van ’n ooreenkoms tussen dié wêreldmoondheid en Suid-Afrika. Een teorie is dat Suid-Afrika sou ingestem het om die voormalige Mosambiekse minister van finansies, Manuel Chang, nie meer aan Mosambiek nie maar aan Amerika uit te lewer.

’n Meer siniese teorie is dat die aankondiging die aandag moes aflei van die Amerikaanse kongres se ondersoek na die moontlikheid om president Donald Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas omdat hy die president van die Oekraïne vermoedelik sou probeer oorreed het om bewerings van korrupsie teen Joe Biden, die voormalige adjunk-president van Amerika en sy voorste teenstander in die 2020-veldtog, te ondersoek.

Hoe ookal, die Suid-Afrikaanse publiek vra lank reeds teen wanneer die werk van die Zondo-kommissie, wat die belastingbetaler dermiljoene rande kos, dividende gaan oplewer.

Hoewel president Cyril Ramaphosa ’n spesiale ondersoekeenheid by die Nasionale Vervolgingsgesag ingestel het om die bewerings wat uit die Zondo-kommissie se sittings voortspruit, te ondersoek, groei die frustrasie oor die traagheid waarmee die land se wetstoepassingsagentskappe reageer op dié inligting.

Ramaphosa se boodskap is dat korrupsie iets van die verlede is, maar hy het vermoedelik self ’n skenking van R500 000 vir sy ANC-leierskapsveldtog van Bosasa, nou bekend as African Global Operations, ontvang. Dié maatskappy word ook in staatskaping geïmpliseeer.

Die afgelope week se aankondiging is egter die grootste oorwinning vir Ramaphosa self: Meteens ontstaan die indruk dat daar aksie teen staatskaping, teen korrupsie, geneem word. Dit word deur sommige beskou as ’n aanduiding van die nuwe daeraad wat hy belowe het toe hy die bewind by Zuma oorgeneem het; dit beklemtoon vir ander die afwesigheid van plaaslike aksie.

Wat Amerika se toetrede tot die stryd teen korrupsie en staatskaping in Suid-Afrika vir ons land beteken, is dat die wêreld nou deeglik bewus is van die korrupsie wat die “nuwe hoop van Afrika” beet het, wat deel is van die rede waarom graderingsagentskappe soos Moody’s die land se vlak van beleggingsvertroue afskaal.

Die hoop is dat dit die vertrekpunt sal wees van daadwerklike optrede teen staatskapers – spesifiek van ons eie wetstoepassers. Hierdie naweek het die Sunday Times in redaksionele kommentaar geskryf: “The imposition of sanctions on the Guptas and their associates by the US government is an indictment of our law enforcement agencies.” En dan: “It has taken a while, but it looks like the long arm of the law may finally catch up with those who were central in almost bringing the country to its knees.”

Bringing the country to its knees: En Ramaphosa gee die hoop dat hy die land, 25 jaar ná demokrasie na Suid-Afrika gekom het, weer op die voete sal kry.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top