Amerika vorder met strafmaatreëls teen Suid-Afrika, maar daar is nog blaaskans

  • 0

Vordering is die afgelope week deur Amerikaanse wetgewers gemaak met ‘n nuwe wet om Suid-Afrika te teiken weens sekere beleidsaspekte waarmee die VSA nie saamstem nie.

Die omstrede wetsontwerp is die afgelope Dinsdag deur die Huis van Verteenwoordigers se komitee vir buitelandse sake goedgekeur met ’n stemming van 34–16. Die kans dat dit in sy huidige vorm wet sal word, is egter skraal, aangesien die wetgewende proses kompleks is en die wetsontwerp nog deur die volle Huis en die Senaat moet gaan en dan deur die president onderteken moet word. Suid-Afrika het nog tyd om sy huis in orde te kry en die diplomatieke skade tussen die twee lande te beperk.

Die wetsontwerp, bekend as die US-South Africa Bilateral Relations Review Act of 2025 (HR 2633), vereis ’n omvattende hersiening van die bilaterale verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika. Dit fokus op die vraag of Suid-Afrika se buitelandse beleid, insluitend bande met China, Rusland, Iran en Hamas, wat deur die VSA as ’n terroristiese organisasie geklassifiseer is, die VSA se nasionale veiligheid ondermyn. In die wetsontwerp word die ANC-regering daarvan beskuldig dat Suid-Afrika nie sy beleid van onverbondenheid nakom nie.

Een van die Republikeinse kongreslede, Ronnie Jackson, wat die wetsontwerp ingedien het, sê Suid-Afrika het hom die afgelope paar jaar aan Amerika en sy bondgenote onttrek terwyl hy sy verhoudings met die VSA se buitelandse teenstanders, soos China, Rusland, Iran en Hamas, versterk het. Hy sê Amerika se minister van buitelandse sake, Marco Rubio, stem saam dat ’n volledige hersiening van die VSA se bilaterale verhouding met Suid-Afrika voordelig vir Amerika sal wees.

Demokrate soos Jonathan Jackson  het teen die wetsontwerp gepraat en sê daar is geen wit volksmoord in Suid-Afrika nie. Hierdie valse narratief moet volgens hom verwerp word.

Die wetsontwerp gee president Donald Trump die mag om sanksies in te stel teen Suid-Afrikaanse amptenare en ANC-leiers wat as korrup beskou word of by aktiwiteite teen VSA-belange betrokke is.

Dit bedreig ook Suid-Afrika se deelname aan die African Growth and Opportunity Act (Agoa), wat belastingvrye toegang tot VSA-markte bied, veral met die sterk moontlikheid dat Agoa nie hernu gaan word in September vanjaar nie.

Vroeër  vanjaar het Trump ’n uitvoerende bevel onderteken wat buitelandse hulp aan Suid-Afrika verbied en versnelde vlugtelingstatus aan ongeveer 49 Afrikaners toegestaan het, met die bewering dat die Suid-Afrikaanse regering rassediskriminasie en ‘n sogenaamde wit volksmoord teen die wit minderheid pleeg.

Volgens GovTrack.us het die wet (HR 2633) slegs ’n 7%-kans om in die komiteefase te slaag en ’n 1%-kans om wet te word, hoofsaaklik weens die afwesigheid van ’n parallelle wetsontwerp in die Senaat, lae wetgewende prioriteit, en beperkte politieke steun.

Die goedkeuring van die omstrede stuk wetgewing deur die komitee vir buitelandse sake die afgelope week is wel ’n belangrike stap, maar geen datum vir ’n stemming in die volle Huis is nog bevestig nie.

Kritici sê die wetsontwerp word gedryf deur ’n verkeerde persepsie van Suid-Afrika wat beïnvloed word deur Trump se raadgewers, eerder as rasionele beleid.

Indien die wetsontwerp wel wet word, kan dit ernstige ekonomiese en diplomatieke gevolge hê. Die verlies van Agoa-toegang sal Suid-Afrika se uitvoere, veral in die landbou- en motorsektore, benadeel. Lesetja Kganyago, die president van die Suid-Afrikaanse Sentrale Bank, het gewaarsku dat Trump se voorgestelde 30%-tariewe tot 100 000 werksverliese kan lei. Sanksies teen ANC-leiers kan politieke spanning vererger en Suid-Afrika se internasionale reputasie skade aandoen.

Op diplomatieke vlak vererger die wetsontwerp reeds gespanne verhoudings, veral na die VSA se besluit om Suid-Afrika se ambassadeur, Ebrahim Rasool, as persona non grata te verklaar weens sy kritiek op Trump. Suid-Afrika se sogenaamde onverbondenheid wat deur die VSA as pro-China en pro-Rusland geïnterpreteer word, bly ’n kernpunt van konflik.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top