Amnestie Internasionaal sê rooi ligte flikker vir Suid-Afrika 

  • 0

Amnestie Internasionaal (AI) skets ’n ontnugterende prentjie oor verskeie kwessies wat Suid-Afrika in die gesig staar op die vooraand van Menseregtedag wat dié naweek gevier word.

Die organisasie kyk elke jaar ​​na die stand van menseregte regoor die wêreld. Hulle jaarlikse The state of the world’s human rights-verslag beoordeel menseregte in 155 lande.

AI se Jaarverslag vir 2023/24 laat die rooi ligte flikker oor verskeie sake in wat bestempel word as ’n waterskeidingsoomblik in Suid-Afrika se geskiedenis.

Van die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, en in die verslag uitgelig word, is geslagsgeweld, die hoë moordsyfer en toegang tot veilige drinkwater.

AI waarsku dat Suid-Afrikaners se stryd om menseregte, vryheid en menswaardigheid ná 30 jaar van demokrasie steeds problematies is. Hulle woordvoerder in Suid-Afrika, Genevieve Quintal, sê hoewel baie kwessies die afgelope drie dekades ten goede verander het, is daar ’n toename in misdaad, geslagsgeweld, probleme met onderwys en ongeletterdheid, en basiese dienslewering soos waterverskaffing, swak infrastruktuur, en mense wat steeds nie behoorlike toegang tot gesondheidsorg het nie.

“Dertig jaar ná die einde van apartheid word die reg op lewe en waardigheid steeds vertrap. Sommige lewens word meer werd geag as ander. Niemand word gespaar nie, van vroue en meisies wat hoë vlakke van geslagsgebaseerde geweld verduur tot moedige menseregteverdedigers. Aktiviste en joernaliste wat die aanhoudende gevare onderstreep, staar dreigemente en pogings om hul stemme stil te maak in die gesig,” het Shenilla Mohamed, uitvoerende direkteur van AI Suid-Afrika, gesê.

Sy sê te midde van al hierdie uitdagings bly die moordsyfer in Suid-Afrika verbysterend hoog. Die oormatige gebruik van geweld deur die polisie in reaksie op betogings duur ook voort.

“Terwyl ons nadink oor Suid-Afrika se reis sedert die einde van apartheid, is dit ’n pynlike herinnering dat die stryd vir vryheid, waardigheid en menseregte nog lank nie verby is nie. Terwyl Suid-Afrika vanjaar op 29 Mei na die stembus gaan, het ons die geleentheid om gesamentlik die toekoms van die land te vorm en vir menseregte te stem.”

Die verslag verwys ook na internasionale konflik en spesifiek na die situasie in Israel.

“Israel se flagrante verontagsaming van internasionale reg word vererger deur die mislukkings van sy bondgenote om die onbeskryflike burgerlike bloedvergieting in Gaza te stop.

“Tesame met die voortslepende oorlog tussen Rusland en Oekraïne, die groeiende aantal gewapende konflikte en massiewe menseregteskendings wat byvoorbeeld in Soedan, Ethiopië en Mianmar gesien word, loop die wêreldwye orde, gebaseer op reëls, die risiko van vernietiging,” lui die verslag.

“Amnestie Internasionaal se verslag skets ’n droewige prentjie van kommerwekkende menseregte-onderdrukking en toenemende internasionale miskenning van menseregte te midde van toenemende globale ongelykheid, supermoondhede wat meeding om oppergesag en ’n eskalerende klimaatkrisis,” het Shenilla Mohamed gesê.

Die verslag wys ook op die VSA se “brutale gebruik van sy vetoreg” om die VN-Veiligheidsraad maande lank lam te lê oor ’n broodnodige resolusie vir ’n wapenstilstand in Israel.

Dit beklemtoon die groteske dubbele standaarde van Europese lande soos die VK en Duitsland, gegewe hul verklaarde teenkanting teen oorlogsmisdade deur Rusland en Hamas, terwyl hulle terselfdertyd die optrede van Israeliese en Amerikaanse owerhede in hierdie konflik versterk.

“Die verwarrende mislukking van die internasionale gemeenskap om duisende burgerlikes, onder wie ’n verskriklik hoë persentasie kinders, te beskerm teen dood in die besette Gaza-strook, maak dit duidelik dat die einste instellings wat opgerig is om burgerlikes te beskerm en menseregte te handhaaf, nie meer vir die doel geskik is nie,” het Mohamed gesê .

Sy sê wat die wêreld in 2023 gesien het, bevestig dat baie magtige state die grondliggende waardes van menslikheid en universaliteit wat in die Universele Verklaring van Menseregte vervat is, laat vaar het.

  • Amnestie Internasionaal se volledige jaarverslag vir 2023/24 kan hier afgelaai word.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top