Amokmaker op FlySafair-vlug se "verskoning" oor rassisme maak geen indruk

  • 0

Die voormalige SAUK-werknemer Nobuntu “Nobs” Mkhize, wat einde verlede jaar ’n FlySafair-vlug ontwrig het toe sy na bewering nog drank wou hê, dreig nou die lugredery en die polisie, sowel as die SAUK, wat haar na die voorval in die pad gesteek het, met regsoptrede.

In ’n onderhoud met Newzroom Afrika, waartydens sy haar kant van die storie wou stel, het Mkhize gesê dat die stryery op 26 Desember begin het toe sy ’n ligter wyn aangevra het as die merlot wat die vlugkelnerin aangebied het. Die lugwaardin het glo geweier om vir haar die wyn te bedien wat sy wou hê, en toe het die situasie vererger toe die lugwaardin saam met ’n ander bemanningslid teruggekeer het.

Na ’n hewige woordewisseling met die kajuitpersoneel waarin sy een van hulle selfs te lyf gegaan het, is sy met die hulp van die passasiers in bedwang gebring.

Ná die voorval is Mkhize deur die polisie verwyder toe die vliegtuig geland het, uit haar pos by die SAUK ontslaan, en as ’n ongewenste passasier deur FlySafair verklaar.

Sy voer nou aan dat haar afdanking by die SAUK sonder ’n behoorlike ondersoek plaasgevind het en arbeidswette oortree het, en het planne aangekondig om die afdanking in die Arbeidshof te betwis. Sy sê sy is ook besig om die lugredery en die polisie vir skadevergoeding te dagvaar.

Mkhize sê in die onderhoud sy het oor die gebeure besin en erken: “Ek kon dit beter hanteer het.”

Haar regsverteenwoordigers het volgens haar reeds aanmaningsbriewe aan FlySafair en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gestuur wat volgens haar versuim het om behoorlik ondersoek in te stel ná die voorval. Sy beplan om die SAUK na die Arbeidshof te neem. “Hoe durf hulle dit doen? Dit is oneties,” het sy gesê.

Beeldmateriaal van die voorval wys hoe Mkhize ’n blikkie na die een lugwaardin gooi, gevolg deur ’n gestoei met die bemanning en passasiers wat probeer het om haar in bedwang te hou.

Wat egter veral die poppe laat dans het, was toe Mkhize na vroue van Mitchells Plain verwys het as onopgevoed en nie in staat om te bestuur of motorvoertuie te besit nie. Sy word ook daarvan beskuldig dat sy gesê het dat bruin vroue net goed is om hul “bene te sprei”.

“Jy is ’n kleurling van Mitchells Plain, al hierdie goue ringe, maar geen graad nie. Wanneer ons land, gaan ek ’n Uber huis toe neem. Jy het nie eens ’n [rybewys] nie. Jy het nie eens ’n kar nie,” het sy destyds gesê terwyl van die passasiers die hele twis met sy/haar selfone afgeneem het.

In haar onderhoud met Newzroom Afrika vra sy halfhartig verskoning vir haar opmerking rakende bruin vroue. Sy ontken egter dat dit rassisties was. Volgens haar word bruin, swart en Indiërs almal as swart beskou, daarom kon haar uitlatings nie rassisties wees nie, maar hoogstens klassisisties, het sy gesê.

Mkhize beweer sy het uit selfverdediging opgetree. In die verskillende video’s wat destyds op sosiale media gedeel is, het Mkhize dreigende taal gebruik en gesê sy sal verseker dat die voorval op die SAUK uitgesaai word, hoe sy ’n ANC-b*tch is, en vra die lugdienswerknemers of hulle weet wie haar pa is.

Haar halfhartige verskoning aan bruin vroue word oor die algemeen as oppervlakkig en oneg afgemaak.

Die DA-raadslid wat die lugwaardin wat deur Mkhize beledig en aangerand is, gehelp het om ’n klag van aanranding by die polisie in te dien, het aan Netwerk24 gesê hy aanvaar nie haar verskoning nie en dat dit nie opreg was nie.

Tydens die onderhoud met Newzroom Afrika het Mkhize die rol van slagoffer probeer speel. Sy beweer sy is die een wat geboelie is op sosiale media en sê daarom wil sy nou ook haar kant van die storie vertel.

Dit wil egter voorkom of sy haar nog net meer argwaan op die hals gehaal het en dat haar poging om haar naam in ere te herstel tevergeefs was as mens na die algemene reaksie op sosiale media kyk.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top