John F Kennedy het in Berlyn gedurende 1963 in een van sy bekendste toesprake gesê: “Ich bin ein Berliner.” In ’n heel ander konteks kan ek, ná my onlangse besoek aan Amsterdam, erken: “Ik ben een Amsterdammer.” Almal wat al hul hart deur hierdie historiese stad laat verower het, kan sekerlik hulself ’n Amsterdammer noem.
Gedurende Junie 1991 het ek Amsterdam vir die eerste keer besoek en was totaal deur die stad se kanale, fietse, taal, museums en kafees oorweldig. Sedertdien het ek gereeld teruggekeer om Nederland verder te verken. In 2007 het ek selfs aan die Amsterdam-maraton deelgeneem en dit voltooi.
Draai die horlosie vorentoe na 2024 en dié keer was ek vasbeslote om nuwe dele van die stad te ontdek en te verken. Amsterdam is ’n stad wat spog met van die voorste argitekte, ontwerpers en grondherwinnaars in die wêreld. Met byna ’n derde van die land onder seevlak en Amsterdam self twee meter onder seevlak, is die Nederlanders meesters wanneer dit kom by drooglegging en herwinning van grond, die bou van massiewe bergingstore en byna alle aanverwante industrieë. Daarbenewens beskik die stad oor ongelooflike kunsskatte soos die Rijksmuseum met skilderye deur Rembrandt en Vermeer, asook die Van Gogh Museum.
Eerste op my lys was ’n staptog deur die sewentiende-eeuse kanaalarea binne die Singelgracht, wat ’n UNESCO-erfenisgebied is, met die Heerengracht ’n hanetreetjie daarvandaan. Mens kan jou verkyk aan al die smal huise met hul uitsonderlike vooraansigte, gewels en deure. Ek wou egter gaan kyk waar die Zuid-Afrikahuis is. Wat sou mens sonder Google Maps doen? Keizersgracht 141 – en daar wapper die Suid-Afrikaanse vlag!
Dis etenstyd en ’n jongman staan buite op die stoep. Hy stel homself voor as Wessel van Arnhem en werk die afgelope jaar by Zuid-Afrikahuis in die biblioteek en argief. Hy help ook met die organisasie van spesiale geleenthede. Ek en ’n vriendin wat by my aangesluit het, word sonder seremonie ingenooi. Ons voel onmiddellik tuis, want Wessel verduidelik “iedereen met hart voor Zuid-Afrika is baie welkom in het Huis”.
As ’n afgestudeerde student in die geskiedenis met ’n passie vir Suid-Afrika, is hy ’n bron van kennis wat deur ’n borrelende persoonlikheid aangevul word. Zuid-Afrikahuis is ’n kennis- en kultuursentrum oor Suid-Afrika in Nederland en Vlaandere. Die grootste versameling van Suid-Afrikaanse (vak-) literatuur in Europa word hier in die biblioteek en argief gehou.
Die huis was voorheen die eiendom van die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij, wat hul hoofkantore in Pretoria en Amsterdam gehad het. Hulle was hoofsaaklik verantwoordelik vir die bou van die spoorlyn tussen Maputo (destyds Algoabaai) en Pretoria. Dis ’n fassinerende plek met soveel sterk wortels in Afrikaans en Suid-Afrika. Ek wens ek het meer tyd gehad om langer in die argief te vertoef, veral om meer te lees oor die Anglo-Boereoorlog en te kyk na van die soms komiese foto’s, prente en voorstellings, soos die foto hier onder toon.
’n Klomp vriendelike Amsterdammers nooi my om by ’n gemeenskaplike vriendin te gaan drankies drink. Sy het voorheen lank in sentraal-Amsterdam gewoon, maar het die besige strate en kanale van die stad vir ’n rustiger bestaan op ’n huisboot verruil. Blykbaar is dit deesdae byna ’n onbegonne taak om een van die bote te bekom, omdat die waglys lank is vir ’n boot wat reeds ’n permanente vasmeerpermit (ligplaats) het, aangesien nuwe permitte nie meer uitgereik word nie.
Die rit soontoe is per fiets, wat ’n ervaring op sy eie is. In Amsterdam is die fiets koning. Dit verbaas my dat byna alle fietsryers sonder valhelms ry. En hulle trap daai fietse en lui die klokkies indien jy in die verkeerde baan is. Ons klim met fietse en al op ’n veerboot en vaar (kosteloos) na Amsterdam-Noord. Vandaar al met ’n kanaal af na ’n area met die naam Schellingwoude. Die huisboot is verbasend groot en goed ingerig met al die moderne geriewe. Indien rustigheid en stilte vir jou belangrik is, is dit die lewe vir jou.
’n Nuwe dag bring ’n besoek aan die Schoonschip-woonbuurt. Dit is ’n drywende woonbuurt op die Hasselt-kanaal met 30 bote en 46 huishoudings. Die projek is in 2008 begin met die idee om ’n ekologiese en sosiaal-duursame woonbuurt op die kanaal te vestig en in 2020 te voltooi. Tans wek hulle self elektrisiteit op met sonpanele en daar is slegs een aansluiting met die nasionale kragvoorsiener in geval van nood. Gryswater (van toilette en wasmasjiene) word afgevoer en omgesit in energie. Elektriese motors en e-fietse word gedeel. Op sosiale vlak verbind huishoudings almal om saam te werk tot die verbetering van die hele groep.
By Schoonschip loop ek vir Warren Gregory (54) raak. Hy is oorspronklik van Florida in Amerika. Sy huisboot is aan ’n brug langs die woonbuurt vasgemeer. Hy en sy vrou, Michelle, het Amsterdam gedurende 2004 vir die eerste keer besoek. Hulle sou 10 dae kuier en dan na Parys aanbeweeg. Hulle raak so verlief op Amsterdam dat hulle ná agt dae die reis na Parys kanselleer en besluit om te bly.
Michelle vind vinnig ’n werk, maar sy ly aan chroniese epileptiese aanvalle wat haar geheue aantas – in so ’n mate dat sy gedurig vergeet waar sy haar fiets geparkeer het. Dis toe dat Warren besluit het om haar fiets met blomme te versier, sodat sy dit makliker kan vind. Indien jy nou ’n versierde “blommefiets” iewers in Amsterdam gewaar, is dit dalk heel moontlik een van Warren s’n!
’n Hoogtepunt van my kuier in Amsterdam bly ’n besoek aan die NDSM (Nederlandsche Dok en Scheepsbouw Maatschappij) in Amsterdam-Noord. Dis ’n moderne kulturele kookpot, ’n nuwerwetse uithangplek en vol kunstenaars wat hulself op maniere uitdruk wat ver verwyderd is van die kunsstereotipe in die Rijksmuseum.
Die roete na hierdie fassinerende plek kan nie makliker wees nie. Daar is ’n veerboot wat elke 20 minute agter Centraal Station vertrek. Dit rit oor die IJ-rivier is kosteloos, fietse mag natuurlik aan boord geneem word en dit duur ongeveer 15 minute. Die NDSM-hawe aan die anderkant is stapafstand na die hoofgeboue, restaurante en ander besienswaardighede.
Die NDSM was ’n skeepsboumaatskappy wat in Amsterdam vanaf 1946 tot 1979 gebaseer was. Ná jare se agteruitgang is daar weer gedurende 2013 begin om die area te omskep in ’n moderne stadsdistrik in Amsterdam-Noord en wat steeds ontwikkel word.
Vandag is die ou industriële skeepswerf ’n lewendige en borrelende sosiale omgewing met ’n unieke karakter. ’n Groot hoeveelheid aktiwiteite word binne ’n klein area aangebied wat mens maklik te voet of met ’n fiets kan verken.
Hierdie area is natuurlik geskik vir nuuskierige stedelike ontdekkers wat ’n bietjie wil wegkom van die oordrewe toeristeattraksies van Amsterdam met sy kanale en tulpe. Tussen al die skeepshouers en graffiti-versierde skure, kan jy jouself maklik vir ’n dag verloor tussen al die modebewuste wyn- en bierkroeë, waterfrontkafees en die ekovriendelike restaurante. Soos met alle groot Europese stede, is eko tans die gonswoord. Alles van die klere wat jy dra, die kos wat jy eet en die drankie wat jy drink, moet ekovriendelik wees – soos die algemene stemming dikteer.
Anders as die bekende Albert Cuyp-mark in sentraal-Amsterdam, is hier ’n vlooimark een keer per maand in die massiewe IJ-saal. Dis die grootste mark van sy soort in Europa. Indien die weer dit toelaat, is daar ’n opelugteater en die Straat Museum met al sy graffiti is aan die kant van die ou skeepswerfgebou.
Ek besluit om die dag se oordosis reuke, smake, kleure, beelde, geboue, argitektuur en mense af te sluit en alles net vas te lê met ’n rustige biertjie by die Noorderlicht Kafee. Dit was voorheen ’n kweekhuis en is nou in ’n kroeg/kafee/biertuin omskep. Die dekor en meubels is totaal onvanpas saamgeflans, maar dit is perfek vir my gemoed.
Nederland, Suid-Afrika, Amsterdam en Afrikaans se wortels is so inmekaargevleg, dit sal moeilik wees om daardie vlegsel los te maak. Vir my is die gemene deler natuurlik die taal. As Afrikaanssprekende verstaan ek die Nederlanders heel goed en vind dit maklik om oor te slaan na ’n Afrikaans/Nederlandse mengsel, wat die Nederlanders somtyds vreeslik amusant vind. By die Zuid-Afrikahuis was die boodskap duidelik dat hul uitreiking na Suid-Afrika deesdae daarop gemik is om meer inklusief te wees, maar nie ten koste van Afrikaans nie. Dis verblydend om dit te hoor.
Daar is net skuim oor onder in my bierglas en my veerboot wag, maar dis beslis nie my laaste kuier in Amsterdam nie.
Dank je wel, Amsterdam, fijne dag nog!
- Teks en foto’s: Stephen Fourie
Lees meer oor Warren hier: https://www.iamsterdam.com/ontdek/echt-amsterdams/de-echte-amsterdammer-flowerbikeman
Lees meer oor die NDSM hier: https://www.iamsterdam.com/en/explore/neighbourhoods/ndsm