Amy’Leigh se beweerde ontvoerders gaan onskuldig pleit

  • 0

Drie van die vier verdagtes wat daarvan aangekla word dat hulle die sesjarige Amy’Leigh de Jager ontvoer het, sal tot volgende Vrydag agter tralies moet bly voordat hulle sal weet of hulle op borg vrygelaat sal word.

Die drie beskuldigdes wie se borgaansoek Dinsdag in die landdroshof in Vanderbijlpark aangehoor is, Tharina Human (27), Laetetia Nel (40) en Pieter van Zyl (50), se regsverteenwoordigers doen aansoek dat hulle op borg vrygelaat word maar die staat staan die aansoek teen.

Die vierde beskuldigde, Bofokeng Molemohi, wat die dogtertjie na bewering voor die skool gegryp het, verskyn na verwagting Woensdag weer in die hof.

Al drie die beskuldigdes wat aansoek doen vir borg, ontken die aanklagte teen hulle en het aangedui dat hulle onskuldig gaan pleit. Hulle staan tereg op aanklagte van ontvoering en afpersing.

Die ouers en ander familie van die ontvoerde Amy’Leigh sowel as familie van die beweerde ontvoerders het Dinsdag se hofverrigtinge bygewoon. Die pa van die graad-RR juffrou, Tharina Human, in wie se klas die ontvoerde dogtertjie was, het ook die hofverrigtinge bygewoon.

.................

“Een van die beskuldigdes, naamlik Human, is glo ’n dwelmverslaafde wat geld skuld aan ’n Nigeriese dwelmhandelaar. Die staatsaanklaer sê die Nigeriër wag vir sy geld en is kwaad omdat hy ontbloot is.” 

.................

Die staatsaanklaer, Luanda Ngcobo, het betoog dat dit nie in belang van reg en geregtigheid sal wees as die drie op borgtog vrygelaat word nie. Sy het in haar betoog gesê die saak geniet landswye belangstelling in die media en dis in almal se belang dat die verdagtes aangehou word. Sy sê die staat het ’n sterk saak en ’n staatsgetuie sal kom getuig van die planne wat die beweerde ontvoerders in die mou gevoer het.

Volgens die staatsaanklaer is die getuie wat teen Human sal getuig haar skoonsuster. Sy sal glo getuig dat Human eers beplan het om haarself te laat ontvoer.

Een van die ander beskuldigdes, Laetetia Nel, was by meer as een geleentheid emosioneel tydens die borgaansoek wat regstreeks op Netwerk24 se internetkanaal uitgesaai is, en het in snikke uitgebars.

Volgens die staatsaanklaer sal die publiek in gevaar wees indien die drie beskuldigdes op borg vrygelaat word. Sy sê die land hou die saak met ’n arendsoog dop en enigiets kan gebeur as die beskuldigdes op borg vrygelaat word. Selfs die beskuldigdes se veiligheid kan volgens haar in gevaar wees.

Foto: Pixabay.com

Een van die beskuldigdes, naamlik Human, is glo ’n dwelmverslaafde wat geld skuld aan ’n Nigeriese dwelmhandelaar. Die staatsaanklaer sê die Nigeriër wag vir sy geld en is kwaad omdat hy ontbloot is. Daarom is Human se veiligheid volgens haar ook in gevaar as sy borg sou kry.

Ngcobo het aan landdros Hussain Kotha wat die borgaansoek moet oorweeg, gesê mense is moeg vir die dinge wat in Suid-Afrika gebeur, veral waar vroue en kinders die slagoffers is.

Sy sê die sesjarige Amy’Leigh leef in vrees sedert haar ontvoering en wil elke keer by haar ma weet wat in die hof gebeur en of die ontvoerders haar weer gaan kom vat. Diegene wat haar ontvoer het, is wreed en het haar by ’n onveilige plek langs ’n kroeg afgelaai en nie eers die moeite gedoen om haar by ’n veiliger plek af te laai nie, het die staatsaanklaer gesê.

Al drie die beskuldigdes se prokureurs het egter betoog dat die beskuldigdes geen vlugrisiko inhou nie en sê daar is geen rede waarom hulle borg geweier moet word nie aangesien hulle onskuldig is totdat hulle bo alle twyfel skuldig bevind word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top