ANC 114 jaar oud, maar staar groot uitdagings in die gesig onder verkiesingsdruk

  • 0

Die ANC, Afrika se oudste bevrydingsbeweging, het gister (Donderdag) sy tradisionele 8 Januarie-stigtingsvierings afgeskop ter herdenking van die organisasie se 114de bestaansjaar.

Die week lange program, wat gemeenskapsbesoeke, deur-tot-deur-veldtogte en ontmoetings met tradisionele leiers insluit, het plaasgevind in aanloop tot môre (Saterdag) se hoofverrigtinge wat by die Moruleng-stadion in Noordwes plaasvind. Daar sal Cyril Ramaphosa die party se jaarlikse politieke agenda uiteensit in ’n verklaring wat vanjaar besonder groot gewig dra.

Die ANC is in 1912 in Bloemfontein gestig as die South African Native National Congress, met die doel om swart Suid-Afrikaners teen koloniale onderdrukking te verenig. Dit het later die stryd teen apartheid gelei, en in 1994 die nasionale regering geword. Vandag, 114 jaar later, vier die party sy ontstaan te midde van diepliggende uitdagings en interne faksiegevegte.

Die ANC se eerste adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, het benadruk dat hierdie ’n “jaar van dinge anders doen” sal wees, met ’n fokus op sigbare verbeterings in dienslewering.

ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula het beklemtoon dat die viering nie bloot ’n seremonie is nie, maar ’n keerpunt moet wees. “Dit gaan oor vernuwing, oor die herstel van vertroue met Suid-Afrikaners en oor die skep van werkgeleenthede,” het hy gesê. Hy het gewaarsku teen interne magstryde en loopbaanpolitiek, en benadruk dat leierskapsposisies ’n verantwoordelikheid is, nie ’n geboortereg nie.

Inwoners van Noordwes het egter hul frustrasies gelug tydens hierdie besoeke. Baie het gekla oor swak dienslewering, werkloosheid en korrupsie. “Ons wil nie net beloftes hoor nie; ons wil sien hoe dinge verander,” het een inwoner gesê.

Vanjaar se beleidsverklaring is besonder belangrik op die vooraand van die 2026- munisipale verkiesings. Die ANC het in 2024 sy parlementêre meerderheid vir die eerste keer verloor en regeer nou saam met ander partye in ’n Regering van Nasionale Eenheid (RNE). Die party wil graag verlore steun herwin, veral in munisipaliteite waar dienslewering ’n groot kwessie is.

Volgens ontleders sal Ramaphosa se verklaring Saterdag sterk fokus op die voorbereiding vir die 2026- munisipale verkiesings. Die ANC wil beter kandidate aanstel, dienslewering verbeter en kiesers mobiliseer deur inisiatiewe soos die Mayihlome-fase, wat opleiding van vrywilligers insluit. Die party belowe om “dinge anders te doen” en sigbare verbeterings in munisipaliteite te bewerkstellig.

Ramaphosa sal waarskynlik ook die RNE se werkwyse bespreek, asook uitdagings soos die party se swak vertoning tydens verlede jaar se verkiesing, korrupsie en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) se besluit om onafhanklik deel te neem aan vanjaar se munisipale verkiesings.

Die ekonoom en skrywer van Lessons from past heroes, Phumlani M Majozi, het op X gesê Suid-Afrika het ’n nuwe 21ste-eeuse narratief nodig. Daarom is die ANC nie meer relevant nie en moet dit so gou as moontlik van die toneel verdwyn. “As jy sy ondersteuners vra waarom hulle die party steeds ondersteun, hoor jy niks van substansie nie. Suid-Afrika moet van die ANC af wegbeweeg.”

Politieke kenners soos Levy Ndou het aan die SAUK gesê vanjaar se verklaring sal “anders” wees weens die druk op die ANC. “Mense wil konkrete planne sien, nie net retoriek hoor nie,” het hy gesê.

Ander, soos Ntsikelelo Breakfast, twyfel of daar werklike verandering sal kom.

Internasionale sake, soos die situasie in Venezuela, sal waarskynlik ook aan geraak word.

Terwyl die ANC sy ryk geskiedenis vier, wat strek van die stryd teen apartheid tot demokrasie, staar dit ’n onsekere toekoms in die gesig. As een van Afrika se oudste bevrydingsorganisasies moet hy bewys dat hy steeds relevant is in ’n land waar werkloosheid veral onder die jeug hemelhoog is en vertroue in die regering afneem.

Die ANC se 114de verjaardag is ’n indrukwekkende mylpaal. Tog is die viering onlosmaaklik verweef met harde vrae oor die party se toekoms.

Van die vrae op baie se lippe is: Kan die ANC sy tradisie van bevryding en nasionale eenheid omskep in ’n moderne boodskap van dienslewering en ekonomiese groei? En kan dit die vertroue van kiesers terugwen en sy plek as dominante politieke mag behou?

Die hoofgeleentheid Saterdag sal direk uitgesaai word op kanale soos SABC en eNCA en ook op die internet gestroom word. Dit sal ’n toets wees of die ANC se boodskap van hernuwing by kiesers aanklank vind.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top