Ondersteuners van oudpresident Jacob Zuma onder leiding van die omstrede Carl Niehaus wil president Cyril Ramaphosa en sy kabinet nou by die internasionale hof in Den Haag aankla van menseslagting, misdaad teen die mensdom en die opsweping van etniese geweld.
Niehaus en ’n groep van 18 ander Zuma-ondersteuners sê in ’n verklaring op sosiale media hulle meen dat daar ’n sterk prima facie-saak bestaan op grond waarvan hulle die klag kan indien.
Niehaus en sy bondgenote vaar nie net uit teen Ramaphosa nie, maar ook teen sy hele kabinet en verskeie ander persone, onder andere die parlement en selfs die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Daar is altesaam tien beskuldigdes op Niehaus-hulle se lys. Hulle is: president Cyril Ramaphosa (beskuldigde nr 1); die nasionale uitvoerende gesag of kabinet (beskuldigde nr 2); die speaker van die parlement, Thandi Modise (beskuldigde nr 3); die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NPR), Amos Masondo (beskuldigde nr 4); die parlement van Suid-Afrika (beskuldigde nr 5); die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula (beskuldigde nr 6); die minister van polisie, Bheki Cele (beskuldigde nr 7); die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, luitenant-generaal Udzani Maphwanya (beskuldigde nr 8); die hoof van die Leër, luitenant-generaal Lawrence Khulekani Mbatha (beskuldigde nr 9); en die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, generaal Khehla Sitole (beskuldige nr 10).
Van die redes wat aangevoer word vir die klagte, is volgens die groep ingevolge artikel 5 van die Statuut van Rome dat Ramaphosa meegedoen het aan etniese mobilisasie wat gelei het tot die geweld in Phoenix waar meer as 200 mense dood is.
Hulle beweer ook dat Ramaphosa in stryd met die Grondwet buite sy mag opgetree het toe hy 25 000 troepe ontplooi het tydens die geweld wat gevolg het nadat Zuma in hegtenis geneem is.
Niehaus sê in die verklaring ’n volledige klagstaat sal later by die internasionale hof ingedien word. Dit word glo tans deur hulle regsverteenwoordigers voorberei, waarna dit openbaar gemaak sal word.
Die groep dring ook in hulle verklaring daarop aan dat Zuma onmiddellik vrygelaat word uit die tronk. Zuma dien op die oomblik 15 maande tronkstraf in die Estcourt-gevangenis uit vir minagting van die hof.
Zuma moet volgende Dinsdag weer in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn op verskeie klagte in verband met die omstrede wapenskandaal. Sy ondersteuners word deur Niehaus en sy makkers aangemoedig om in groot getalle na die hof op te ruk om Zuma te ondersteun.
Media Advisory: The State v Zuma and the Thales Group matter (Case number: CCD30/2018) will be heard at the Pietermaritzburg High Court on Tuesday, 10 August 2021. pic.twitter.com/oQhVgtxna4
— RSAJudiciary (@OCJ_RSA) August 4, 2021
Die Jacob Zuma Stigting het Woensdag bevestig dat die saak van die gewese president en die Thales-wapenmaatskappy in ’n oop hof aangehoor gaan word en dat Zuma persoonlik teenwoordig sal wees. Regter Piet Koen het teen ’n aansoek van die staatsaanklaer, advokaat Billy Downer, beslis dat die saak virtueel aangehoor word.
BREAKING NEWS
Victory to the Constitution.
Thank you to the Legal Team.
10 August in Pietermaritzburg will be OPEN Court as per the submission of our capable legal team.
Now Mr Downer, will be processed properly, Adv Mpofu SC can't wait.#WenzenuZuma pic.twitter.com/3dHCUxs0gB— JGZuma Foundation (Official) (@JGZ_Foundation) August 4, 2021
Zuma se regspan, wat wil hê dat Downer hom aan die saak onttrek, het aangevoer dat Zuma nie ’n regverdige verhoor sal kry as die saak virtueel aangehoor word nie. Regter Koen het beslis dat al die partye persoonlik in die hof moet wees.
Die volgende persone het die verklaring saam met Niehaus onderteken: Andile Lungisa (Oos-Kaap), Nkosentsha Shezi (KZN), Phapano Phasha (Gauteng), Mabel Rweqana (Gauteng), Shirley Willemse (KZN), Vanessa Calvert (Wes-Kaap), Londi Shezi (KZN), Pascaline Nqobile Mazibuko (Mpumalanga), Tshepiso Mishack Boksraal (Limpopo), Boipelo Jarvis (Noord-Kaap), Olebogeng Leserwane (Noord-Kaap), Castro Setlhogomi (Noord-Kaap), Lufuno Gogoro (Gauteng), Gundo Munyai (Gauteng), Brian Tloubatla (Gauteng), Lopang Rothman (Noordwes), Banele Nkosi (Mpumalanga) en Thembinkosi Mgidi (Oos-Kaap).