Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het hom sterk uitgespreek teen die afgelope naweek se wetteloosheid by oudpresident Jacob Zuma se woning, Nkandla, in KwaZulu-Natal.
Die NUK het veral te velde getrek teen die militêre vertoon onder die vaandel van die Umkhonto we Sizwe Militêre-veterane-vereniging (MKMVA) waarvan die omstrede Carl Niehaus die woordvoerder is.
Die ANC sê in verklaring wat Dinsdag tydens ʼn nuuskonferensie in Johannesburg uitgereik is die organisasie neem kennis van die “teenrevolusionêre oproepe tot geweld en selfs burgeroorlog, die openbare vertoon van gewapende groepe, die flagrante vertoon en afvuur van vuurwapens asook die aktiwiteite van spesifieke individue van die MKMVA”.
@MYANC statement on the outcomes of the special meeting of the National Executive Committee held on the 5th July 2021 #ANCNEC pic.twitter.com/CSj0DqSbXV
— African National Congress (@MYANC) July 6, 2021
Die NUK het opdrag gegee dat daar met tugstappe begin word teen diegene in die ANC wat verantwoordelik was vir die wetteloosheid by die Zuma-woning.
Die party het hom opnuut verbind tot die oppergesag van die reg en die beginsel dat almal gelyk is voor die reg.
Die ANC veroordeel ook wat hulle noem die “populistiese pogings” deur sommige lede van die organisasie om etniese mobilisasie te gebruik om politieke motiewe te bewerkstellig.
Die doelbewuste verontagsaming van COVID-19-regulasies om mense in groot groepe na die afgelope naweek se protes na Nkandla aan te ry word ook die deur die ANC se leierskap veroordeel.
Die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Jessie Duarte, het op ʼn nuuskonferensie wat ook virtueel uitgesaai is, gesê die party is diep bekommerd oor die gebrek aan dissipline wat die afgelope naweek deur sommige lede van die ANC openbaar is.
Dinsdag se nuuskonferensie en die ANC se amptelike verklaring wat na afloop van die NUK se vergadering uitgereik is, onderstreep die spanning en verdeeldheid wat daar tans in die regerende party bestaan.
Die gespanne situasie rondom Zuma se vonnis weens minagting van die hof het Dinsdag voortgeduur. Die polisie het ’n wakende oog gehou by die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, waar Zuma se regsverteenwoordigers gevra het dat die lasbrief om hom in hegtenis te neem nie nou uitgevoer word nie.
Die Hooggeregshof het twee dae vir die saak opsygesit om te besluit of Zuma in hegtenis geneem moet word voordat die Konstitusionele Hof volgende week sy vertoë aan daardie hof sal aanhoor.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het die Departement van Polisie en Bheki Cele, die minister van polisie, van dubbele standaarde beskuldig omdat hulle versuim om uitvoering te gee aan die Konstitusionele Hof se bevel dat Zuma in hegtenis geneem word as hy homself nie vrywillig oorhandig nie.
Cele het die kantoor van die hoofregter in kennis gestel dat oudpresident Zuma nie in hegtenis geneem sal word voordat die huidige regsproses afgehandel is nie.
AfriForum sê in hulle verklaring die publiek is deeglik bewus van hierdie dubbele standaarde, waar restaurateurs vervolg word wanneer hulle ’n bestaan probeer maak en wetsgehoorsame burgers soos geharde misdadigers hanteer word wanneer hulle vergeet om ’n gesigmasker te dra.
𝗠𝗲𝗱𝗶𝗮𝘃𝗲𝗿𝗸𝗹𝗮𝗿𝗶𝗻𝗴
.@afriforum waarsku oor grootskaalse verset ná dubbele standaarde in Nkandla https://t.co/Mao31kEvzp
— AfriForum (@afriforum) July 5, 2021
“Suid-Afrikaners is lank reeds keelvol vir hierdie ingrypende, onlogiese inperkings wat mense se lewens verwoes. Noudat dit duidelik is dat sekere mense hulle nie aan die inperkings hoef te steur nie, gaan al hoe meer mense dieselfde begin doen,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van veldtogte.
“Die feit dat Zuma steeds nie gearresteer is nie, maar eerder spesiale behandeling ontvang vanaf die hoogste hof in die land, beklemtoon net weer eens dat sommige mense meer gelyk is as ander en ek is bevrees dit gaan tot wye verontagsaming van die wet lei,” het Broodryk gesê.
Die Konstitusionele Hof sal volgende week Zuma se versoek aanhoor om sy vonnis van 15 maande tronkstraf sonder die keuse van ’n boete te heroorweeg. Zuma voer onder meer aan dat sy ouderdom en gesondheidstoestand nie deur die hof in ag geneem is toe hulle hom sonder die keuse van ʼn boete tronkstraf opgelê het nie. Hy sê in sy hofstukke om hom op sy ouderdom en in die middel van ’n pandemie tronk toe te stuur is dieselfde as om hom die doodsvonnis op te lê.