ANC dreig Carel Niehaus met skorsing

  • 0

Die omstrede en uitgesproke senior ANC-lid Carl Niehaus is in die moeilikheid by sy eie party en staar skorsing in die gesig wat sy toekoms in die ANC finaal kan kelder.

’n Kennisgewing van skorsing hangende ’n dissiplinêre verhoor is Dinsdag aan Niehaus gestuur terwyl hy nog van COVID-19 herstel.

Niehaus, die afgelope ruk ook die woordvoerder van uMkhonto we Sizwe se Militêre Veterane-vereniging, was gereeld in onderonsies met lede van sy party gewikkel.

Die kennisgewing van skorsing, hangende die uitslag van ’n dissiplinêre verhoor, is op ’n briefhoof van die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, in wie se diens hy tans is. Niehaus is ’n vurige ondersteuner van Magashule en die voormalige president, Jacob Zuma.

In ’n persoonlike brief van Magashule wat saam met die kennisgewing van skorsing aan Niehaus gestuur is, distansieer Magashule hom egter van Niehaus se optrede in die party.

’n Verklaring wat Niehaus verlede week vanuit sy hospitaalbed in sy persoonlike hoedanigheid uitgereik het, oorskry volgens die ANC se brief aan hom alle redelike grense wat van ’n ANC-werknemer verwag word.

In die verklaring het Niehaus uitgevaar teen die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Jessie Duarte. Die ANC sê dit kom neer op wangedrag en is strydig met die ANC se personeelbeleid.

Niehaus het Duarte in sy verklaring  skerp gekritiseer en van ondermyning teen hom beskuldig terwyl hy nog besig was om van COVID-19 te herstel.

In die brief uit Magashule se kantoor word gesê sy gedrag is kommerwekkend en dit skep die indruk dat Magashule hom instruksies gee om so op te tree.

“U is sedert 1 Maart 2019 ontplooi in die kantoor van die sekretaris-generaal om direkte ondersteuning te verleen aan die sekretaris-generaal se werksaamhede. U is by meer as een geleentheid geadviseer dat u openbare uitsprake en poste op sosiale media onbetaamlik is vir iemand in hierdie belangrike kantoor, wat die primêre verantwoordelikheid het om die werk van al die strukture in die ANC te bestuur en koördineer,” lui die brief aan Niehaus.

Daar word ook genoem dat hy reeds op 22 Oktober verlede jaar ’n skriftelike waarskuwing in dié verband ontvang het.

Die laaste strooi wat tot sy skorsing uit die organisasie kan lei was die verklaring wat hy op 12 Oktober uitgereik het met die opskrif “Personal Statement by Carl Niehaus about his ongoing Recovery from Covid-19 Pneumonia”.

Daarin vertel hy hoe hy glo by die dood omgedraai het as gevolg van COVID-19 en vaar hy uit teen sekere koerante en organisasies in die media. Hy beskuldig hulle daarvan dat hulle ’n smeerveldtog teen hom voer terwyl hy om sy lewe moes veg.

Hy beskuldig Duarte daarvan dat sy doelbewus daaraan meegedoen het om hom te ondermyn.

Niehaus sê ten spyte van die veldtog teen hom het hy COVID-19 deur God se genade oorleef. Hy sê hy is egter bitter hartseer dat selfs Duarte teen hom gedraai het en, volgens Niehaus, meegedoen het aan die beweerde propaganda- en smeerveldtog teen hom.

Die brief aan Niehaus is deur die ANC se algemene bestuurder in Luthulihuis, FC Potgieter-Gqubule, onderteken. Sy uitlatings word beskou  as ’n direkte aanval op die organisasie se verkose leierskap, wat in stryd is met die ANC se gedragskode.

Niehaus moet binne 48 uur na ontvangs van die brief redes gee waarom hy nie met volle betaling geskors behoort te word totdat ’n dissiplinêre verhoor afgehandel is nie.

Die ANC sê hulle betreur dit dat hy ook teen COVID-19 moes veg en wens hom ’n spoedige herstel toe. “Werknemers het die reg om hulle mediese toestand na buite te kommunikeer, maar dit is jammer dat die eerste wat ons daarvan gehoor het, deur middel van ’n mediaverklaring was. Ons wens u ’n voortgesette en spoedige herstel toe. Laat weet my indien ons van enige bystand kan wees,” eindig die brief.

  • Die volledige brief aan Niehaus kan hier gelees word.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top