Dit gons behoorlik onder politici oor ’n uitgelekte opname van ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) waarin Cyril Ramaphosa na bewering omstrede uitlatings maak wat met volgende maand se verkiesing verband hou.
In die opname kan na bewering gehoor word hoe Ramaphosa die media wil manipuleer en aan partylede die Leviete voorlees voor die Mei-peilings om te verseker dat hulle die verkiesing wen.
Hy het lede glo aangespoor om minstens 14 miljoen stemme te kry om die verkiesing te wen en seker te maak dat sy party op 57% van die kiesers se stemme sou kon reken.
Die ANC sê hulle het kennis geneem van die media se belangstelling in die uitgelekte opname van die ANC se NUK-vergadering wat die ANC se 2024-verkiesingsveldtog bespreek, maar weier om daarop kommentaar te lewer.
“Die ANC se jare lange beginsel is om nie kommentaar te lewer op uitgelekte inligting nie, want ons wil nie hierdie onetiese gedrag met ’n reaksie waardig maak nie,” het die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, in ’n verklaring gesê,
Volgens mediaberigte het daar skokkende onthullings in die opname aan die lig gekom rakende die manipulasie van die staatskas om die ANC se verkiesingsveldtog te finansier.
????️LISTEN: Here's how the ANC plans to abuse public funds to win votes. This leaked recording is proof of how Ramaphosa's ANC continues to manipulate voters into believing that they have people’s interests at heart.
The DA is filing a Public Protector complaint to stop this. pic.twitter.com/bjq6fprrhG
— Democratic Alliance (@Our_DA) April 22, 2024
Die DA sê hierdie uitgelekte opname is ’n bewys van hoe Ramaphosa se ANC steeds kiesers manipuleer om te glo dat die ANC mense se belange op die hart dra.
Die DA sê hulle gaan ’n klag by die openbare beskermer indien om dit stop te sit.
Die DA sê dit ondermyn nie net die beginsels van demokrasie nie, maar val ook mediavryheid direk aan.
In die opname kan na bewering duidelik gehoor word dat Ramaphosa sê: “TV-stasies het geen reg om negatief teenoor ons te wees nie ... Ons wil meer hê as regverdige behandeling (van die media). Daar sal ’n span kamerade wees wat die hele tyd hierdie spasie sal dophou.”
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê hulle veroordeel die onderskepping van inligting uit ANC-vergaderings. Hy het ’n beroep op mense binne sowel as buite die ANC gedoen om hulle van sulke “onwettige optrede” te weerhou.
[WATCH] We condemn the interception of our meetings as the ANC, and we urge the to refrain from this unfair treatment of the ANC as we have observed that other political parties do not get intercepted as they discuss their election activities planning meetings.
Allow the ANC to… https://t.co/xomXWdrJSj pic.twitter.com/R83rTXGor7
— ANC SECRETARY GENERAL | Fikile Mbalula (@MbalulaFikile) April 22, 2024
Hy sê ander partye se vergaderings word nie op dié manier onderskep nie en die ANC moet ’n billike geleentheid gegun word om sy verkiesingsveldtog te voer.
Die DA se adjunk- federale verkiesingsveldtogbestuurder, Ashor Sarupen, sê Ramaphosa se opdrag om medianarratiewe te beheer en negatiewe dekking van die ANC te onderdruk, is diep kommerwekkend en herinner aan vorige pogings om lewensbelangrike instellings soos die SAUK vas te vat. Hy sê “hierdie blatante manipulasie” poog om die openbare mening te swaai en die demokratiese proses te ondermyn.
“In die lig van hierdie onthullings doen die DA ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) om hierdie gruwelike manipulasie van die media te veroordeel. Sanef, as ’n kampvegter vir mediavryheid en demokrasie, moet nie stilbly in die aangesig van sulke flagrante magsvergrype nie.”
Sarupen sê in ’n verklaring Sanef moet vinnig en beslis optree om die integriteit van die media te beskerm en joernaliste teen onbehoorlike invloed en intimidasie te beskerm. Versuim om dit te doen sal volgens hom nie net die geloofwaardigheid van die pers in gevaar stel nie, maar ook die grondslag van die land se demokrasie in gevaar stel. “Die DA sal nie staan en toekyk terwyl mediavryheid bedreig word nie. Ons sal parlementêre kanale gebruik om teen hierdie manipulasie te veg en te verseker dat die stemme van joernaliste teen sulke misbruik beskerm word.”
Bhengu-Motsiri sê terwyl die ANC nie ingetrek sal word om kommentaar te lewer op uitsprake wat individuele leiers tydens sy vergaderings gemaak het nie, is die ANC vol vertroue dat die impak van sy verkiesingsveldtog oor die lengte en breedte van die land positiewe ontvangs geniet.
Sy sê die ANC respekteer die skeiding van party en staat. Mbalula het op sy beurt voorgestel dat sy party die staat se beskerming soek nadat die opname van hul vergadering uitgelek het. Hy sê as dit die ANC was wat vergaderings van politieke partye onderskep het, sou hulle daarvan beskuldig word dat hulle staatshulpbronne misbruik.
Dit is nog onbekend wie die opname uitgelek het, maar Mbalula sê hulle sal verseker dat hulle die "kwaaddoenerige” individu wat agter die lekkasie sit, vind.