Die bekgeveg tussen die ANC en AfriForum oor wie nou eintlik verantwoordelik is vir Amerika se diplomatieke klappe aan Suid-Afrika duur steeds voort.
Die twee organisasies en hulle ondersteuners het mekaar die afgelope week oor en weer in die hare gevlieg nadat president Trump van Amerika vlugtelingstatus aan Afrikaners belowe het.
Die twee organisasies gee mekaar die skuld dat Suid-Afrika nou skynbaar die muishond van Amerika is.
Die ANC beskuldig AfriForum daarvan dat hulle en ander “teenrevolusionêre partye” die VSA besoek het met die doel om hul “regressiewe retoriek” te dryf wat daarop gemik is om Suid-Afrikaners op rassebasis te verdeel. Hulle sê in ’n verklaring dit vermy die werklike kwessies wat sou kon verseker het dat almal wat in die land woon, daarby baat vind.
AfriForum blameer op hulle beurt die ANC en sê húlle moet die skuld kry vir die krisis. Hulle beskuldig die ANC se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, van opruiende bewerings oor AfriForum.
“Haar bewering dat die ANC se fokus nou op die vereniging van Suid-Afrikaners moet wees, strook nie met die party se verdelende optrede en uitsprake teenoor AfriForum nie. Anders as wat sy beweer, is dit die ANC se binne- en buitelandse beleid wat die skade aan Suid-Afrika se beeld veroorsaak het,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, in ’n verklaring.
Hy sê AfriForum beskou Bhengu-Motsiri “opruiende opmerking” oor AfriForum in ’n baie ernstige lig.
Die ANC het vroeër ’n beroep gedoen “op alle Suid-Afrikaners oral en burgers van die wêreld wat toegewyd is aan waarheid en geregtigheid, om saam te staan vir die finale aanslag op kolonialisme en imperialisme”.
In die verklaring wat Donderdag uitgereik is, kap AfriForum ook na Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, se uitspraak dat AfriForum “rasseverdeeldheid en vrees saai”. Hulle sê dit is eenvoudig onwaar.
Hulle sê AfriForum werk aktief saam met verskeie tradisionele gemeenskappe en in dorpe oor kultuurgrense heen om die lewensomstandighede van burgers op voetsoolvlak te verbeter.
Die ANC het vroeër in hulle verklaring gesê AfriForum se optrede is gewortel in “die afskuwelike ideologieë wat aan apartheid, wit oppergesag en neo-imperialisme herinner”.
Hulle sê die ANC veroordeel saam met ’n oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners die VSA se nuwe administrasie se volgehoue inmenging in Suid-Afrika se sake ten sterkste. “Hierdie optrede is ’n direkte aanslag op ons soewereiniteit en territoriale integriteit en ’n belediging vir die fundamentele beginsels van internasionale reg. Dit herinner aan ’n tyd in ons land toe diegene wat, as gevolg van die kleur van hul vel, aan hulself die reg verleen het om mense soos Nelson Mandela te onderdruk, te verban en tronk toe te stuur omdat hulle bloot ’n regverdige wêreld en Suid-Afrika gevra het.”
Volgens die ANC is AfriForum se aksies in die buiteland om steun te werf teen die land se binnelandse beleid die middelpunt van ’n internasionale veldtog om doelbewus leuens en waninligting oor die realiteite in die land te versprei.
“Vandag blameer dieselfde AfriForum die ANC soos tipiese rasgedrewe regsgesinde magte wat nooit verantwoordelikheid neem vir hul noodlottige optrede nie. Die ANC-geleide regering is gefokus op die verdieping van demokrasie, stabilisering van die ekonomie deur fiskale en monetêre hervormings, infrastruktuurontwikkeling en beleggingsgroei. Die optrede van die teenrevolusie is ’n poging om al die harde werk uit te wis wat uiteindelik alle Suid-Afrikaners sal bevoordeel, ongeag ras, kleur of geloof.”
Volgens Uys is dit juis uitsprake van regeringslui soos Magwenya en politici soos Bhengu-Motsiri wat in werklikheid rasseverdeeldheid veroorsaak en vreedsame naasbestaan in Suid-Afrika in gedrang bring. Hy sê hierdeur beskuldig die ANC AfriForum inderwaarheid van dít waaraan die ANC self skuldig is.