...
En nie die ANC óf die DA sal hul hande in onskuld kan was nie.
...
Sedert die aanvang in Junie verlede jaar van Suid-Afrika se 2024-weergawe van ’n regering van nasionale eenheid was daar kort-kort nuusopskrifte oor ’n rooi streep wat deur die ANC oorgesteek sou word en wat tot ’n verwagte skeuring of ontbinding van die RNE sou kon lei.
Agterna, wanneer die stof weer gaan lê, het dit voorgekom asof die “krisis” dalk maar ietwat van ’n oorreaksie of selfs lui ontleding was deur kommentators wat heel gereeld onder druk is om nuwe insigte op te dis. Telkens, het ons gelees of gehoor, was daar ’n kwessie waaroor die DA – die grootste vennoot naas die ANC in die RNE – só ongelukkig sou wees dat verwag is die party uit die regering gaan onttrek.
Tot nog toe het daar egter niks van gekom nie. Dit was elke keer, uhm, ’n valse alarm: Nie die Bela-wetgewing of die ondertekening van wetgewing deur die President oor nasionale gesondheidsversekering of, mees onlangs, die omstredenheid rondom die nuwe onteieningswet, het die RNE breekpunt laat bereik nie.
Maar dit was vóór daar oor die 2024/20525-begroting gestem moes word. In ’n ongekende stap is die datum van die minister van finansies, Enoch Godongwana, se begrotingstoespraak uitgestel – enkele ure voordat hy dit op 19 Februarie sou lewer. Die haakplek was ’n ernstige meningsverskil tussen die RNE-vennote oor die voorgestelde verhoging van 2% op belasting op toegevoegde waarde (BTW). Sonder dié verhoging, het die minister verduidelik, sou die staat sukkel om byvoorbeeld meer onderwysers aan te stel, staatsamptenare se verhogings te betaal en sy verantwoordelikheid ten opsigte van maatskaplike toelae aan nagenoeg 30 miljoen behoeftige Suid-Afrikaners na te kom.
Teenstanders van ’n verhoging in BTW – oorspronklik in 1991 op 14% ingestel; in 2018 tot 15% verhoog – tot 17% het daarop gewys dat dit juis die arm mense is wat die meeste onder ’n verhoogde BTW-koers sal ly. Dié standpunt is deur sowel politieke partye as nieregeringsorganisasies gehuldig. Nóg oorlegpleging sou dus moes plaasvind, is besluit, en derhalwe is die datum vir die lewering van Godongwana se toespraak tot 12 Maart uitgestel. Maar die BTW-verhoging het nie van die minister se agenda verdwyn nie: toe hy wel sy rede lewer, was dit met 0,5% vir hierdie boekjaar en is ’n verdere verhoging van 0,5% op 1 April 2026 in die begroting ingesluit.
Hieroor het die DA toe besluit om verlede Woensdag teen die begroting te stem, wat die party in dieselfde geselskap as politieke vyande soos die EFF en MK party laat beland het, asook ’n party soos die VF Plus, met wie hy tans ’n stram verhouding het. Hoewel met ’n klein meerderheid van 194 teen 182, is die begroting wel aanvaar ... maar met ’n voorwaarde van ActionSA en ander ja-stemmers daaraan gekoppel, naamlik dat die BTW-kwessie binne 30 dae in heroënskou geneem moet word – behalwe dat krediet- en diensverskaffers kliënte reeds begin inlig het oor die implikasies vir hulle van ’n verhoogde BTW-persentasie vanaf 1 Mei.
Ofskoon ’n aantal partye die ANC se BTW-partytjie bederf het, is dit die DA wat die meeste onder skoot kom: Hoe kan jy teen ’n begroting stem, wil kritici by die party weet, wat lede van jou eie party (in hul hoedanigheid as RNE-kabinetslede) tot uitvoering moet bring? Naas skerp uitlatings teen die DA van die ANC se adjunkleier (en ook adjunkpresident van die land), Paul Mashatile, en die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance en minister van sport en kultuur, hom die mag toegeëien om die DA mondelings die trekpas uit die RNE te gee.
Die DA het dit ook laat voorkom asof hulle dit sterk oorweeg om vanself te loop. Maar nadat voorste sakelui die partyleierskap hieroor geroskam het, het die trant van die uitsprake algaande sagter begin raak – ewe so vanaf die McKenzie-kant. Selfs al haat hy die DA, sê hy nou, is hy lief vir die land en sal die land en regering meer skade ly met die DA buite eerder as binne die RNE.
Die afgelope naweek het die groot (RNE-) kanonne aan die beurt gekom, insluitend die DA – en wat by daardie vergadering gebeur het, sal van so ’n aard wees dat dit die toekomstige aard en voortbestaan van die RNE sal bepaal.
Ons land is reeds sedert die Jacob Zuma-termyn (2009–2018) in ’n gemors. Ons moet nog volkome daaruit kom. Indien die RNE nou, ná slegs nege maande, sal vou of verswak, sal ons dieper in die gemors verval. En nie die ANC óf die DA sal hul hande in onskuld kan was nie.