ANC en DA skud albei vere reg vir koalisieregerings

  • 0

Die land se twee grootste politieke partye, die ANC en die DA, is albei besig om hulle vere reg te skud vir moontlike koalisieregerings na afloop van volgende jaar se algemene verkiesing.

Volgens politieke waarnemers en meningspeilings is die kanse groot dat die ANC aanstaande jaar minder as 50 persent van die stemme op nasionale vlak op hom sal  verenig. Daar is ook meer as een provinsie wat tans onder ANC beheer is wat moontlik na volgende jaar se verkiesing deur koalisies regeer sal word, onder meer Gauteng en KwaZulu-Natal.

Die ANC het hulle die afgelope naweek tydens die party se vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) bereid verklaar om met alle politieke partye in koalisies saam te werk solank daardie partye sy beginsels aanvaar.

Dit verskil van die DA se standpunt, wat reeds voor die tyd besluit het daar is sekere partye met wie hulle nie bereid is om ’n koalisie te vorm nie, onder andere die EFF.

Die ANC sê die NUK het hom die afgelope naweek se vergadering toegespits op die kwessie van die bestuur van effektiewe koalisies gebaseer op die 55ste Nasionale Konferensie se resolusies.

Die DA gaan intussen voort met die indiening van ’n reeks wetsontwerpe by die parlement wat sal poog om koalisieregerings te stabiliseer.

Na die publikasie van die eerste reeks wetsontwerpe in die Staatskoerant vir openbare kommentaar ’n paar weke gelede, het die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, dié naweek aangekondig dat hierdie wetsontwerpe nou ook in die parlement ingedien word.

“Hierdie twee wetsontwerpe poog om stabiliteit in alle regeringsfere te bewerkstellig deur die aantal mosies van wantroue in ’n burgemeester, premier of die president wat ingedien kan word, en die omstandighede waaronder dit kan plaasvind, te beperk.” Alhoewel mosies van wantroue ’n deurslaggewende aanspreeklikheidsmeganisme is, is dit volgens die DA vatbaar vir misbruik soos reeds op plaaslikeregeringsvlak gesien is.

Tans kan koalisieregerings ingestem word, en ’n begroting aanvaar wat hulle dalk nooit sal kan uitvoer nie.  Die DA sê in ’n verklaring dit is onmoontlik om hierdie regerings aanspreeklik te hou vir goeie bestuurspraktyke en dienslewering as dit gereeld verander. “Dit gebeur dikwels as gevolg van agterkamertransaksies wat geen bedoeling het om die mense te dien nie, wat altyd die hoofprioriteit van enige regering behoort te wees”.

Die party sê dit is van kritieke belang dat die parlement proaktief is om ’n wetgewende raamwerk te skep wat bestuurstabiliteit en betroubare dienslewering sal verseker.

“Dit is belangrike wysigings aan die Grondwet en bestaande wetgewing terwyl ons op pad is na die 2024 nasionale en provinsiale verkiesing.”

Die DA sê hulle sal voortgaan om verskeie politieke partye binne en buite die parlement se steun te kry om hierdie wetswysigings te ondersteun. “Suid-Afrikaners maak staat op hul verkose verteenwoordigers vir oplossings vir die koalisieregerings se onstabiliteit en diensleweringsobstruksies.”

Die ANC se NUK het die afgelope naweek ook die moontlikheid bespreek om wetgewing in te stel om koalisieregerings te bestuur.

David Makhura, ’n lid van die NUK, het die media oor die besprekingsdokument ingelig en gesê verskeie voorstelle is ter tafel gelê.

Dit sluit in die beperking van die aantal mosies van wantroue wat binne ’n bepaalde tydperk gebring kan word.

Die DA glo ook dat mosies van wantroue tot ’n jaar te beperk moet word. Hulle glo egter dat daar ’n veiligheidsnet ingebou moet wees wat bykomende mosies binne hierdie tydperk sal toelaat wat voorsiening maak vir uitsonderlike omstandighede, soos ’n oortreding van die Grondwet of ’n wet; wangedrag of die onvermoë om die funksies van die amp te verrig. Dit is ’n baie hoër drempel vir ’n mosie van wantroue en dwing die voorstellers om dit op feite of volgens wet te baseer.

Nog ’n voorstel wat die ANC bespreek het, is dat die party wat die meeste stemme gekry het, die uitvoerende gesag moet lei.

Makhura sê die NUK het ’n aantal waarnemings gemaak wat verband hou met die onstabiliteit rondom koalisies. Een van die belangrikste uitdagings is volgens hom dat daar onstabiele en disfunksionele koalisies is wat ’n groot impak op dienslewering in munisipaliteite het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top