Opposisiepartye in die parlement gaan nie tou opgooi om antwoorde uit Cyril Ramaphosa te probeer kry oor die inbraak by sy Phala Phala-plaas nie.
Dit volg nadat die ANC die afgelope week daarin geslaag het om met hulle meerderheid teen ’n mosie van die DA te stem om te verhoed dat ‘n parlementêre ad hoc-komitee aangestel word om die Phala Phala-kwessie te ondersoek.
Die DA sê in ’n verklaring dit is dieselfde as wat die ANC in die vyfde parlement gedoen het om Jacob Zuma en sy ministers te beskerm ten opsigte van Nkandla en staatskaping.
[LISTEN] @Our_DA's chief whip @Siviwe_G says the message sent by opposition parties was not about politics but accountability to request an establishment of an ad hoc committee to conduct an inquiry into the Phala Phala matter
🔗 https://t.co/ogDxnQ4kgf#sabcnews #FirstTakeSA pic.twitter.com/bKpyt5S3Pt
— #FirstTakeSA 📻 (@FirstTakeSA) September 29, 2022
Feitlik alle opposisiepartye het ten gunste van die DA se mosie gestem. Die ANC en die Good-party het daarteen gestem.
Opposisiepartye sê hulle gaan dit nie daar laat nie. Hulle sal ander middele oorweeg om Ramaphosa tot verantwoording te dwing oor hierdie saak.
Die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, sê deur hulle optrede het die ANC weer eens sy grondwetlike verpligtinge versuim deur Ramaphosa en sy kabinet te beskerm teen aanspreeklikheid en ondersoek oor beweerde misbruik van openbare hulpbronne en instellings op sy Phala Phala-wildplaas.
Ramaphosa is Donderdag tydens vraetyd in die parlement ook weer met vrae gepeper oor die Phala Phala-kwessie.
Tydens die vorige vraag-en-antwoord-sessie ’n maand gelede moes die speaker dit staak toe opposisiepartye die wyse waarop Ramaphosa die vrae beantwoord het, verwerp het.
Ramaphosa se enigste reaksie tot dusver was om te sê dat die wet sy gang moet gaan.
[PHOTOS]: President @CyrilRamaphosa responding to Questions for Oral Reply in the National Assembly at the Good Hope Chamber in Parliament, Cape Town.#RamaphosaQandA pic.twitter.com/Ox3Mcdqx1N
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) September 29, 2022
Die DA-leier, John Steenhuisen, wou Donderdag by Ramaphosa weet hoekom daar geen saaknommer vir die Phala Phala-diefstal was nie.
Ramaphosa het gesê prosesse sal mettertyd ontvou en op die ou end sal die polisie-generaal daardie vraag kan beantwoord.
Volgens hom is daar sowat agt owerhede wat Phala Phala ondersoek. Hy sê sy aanspreeklikheid teenoor die parlement sal blyk uit sy samewerking met die artikel 89-ondersoek na die saak.
"Ek sal myself aan al die prosesse onderwerp. Ek sal tot die beste van my vermoë saamwerk," het Ramaphosa gesê.
Vuyolwethu Zungula, die ATM-leier, wou ook weet waarom Ramaphosa nie die misdaad by Phala Phala by die betrokke instansie aangemeld het nie. Ramaphosa sê hy het erken daar was ’n diefstal by sy plaas en hy het dit by ’n generaal van die polisie aangemeld. "Hulle hanteer dit. Daar was geen vorm van geldwassery nie. Dit was opbrengs van die verkoop van wild. Ek is al ’n aantal jare ’n wildboer. Dit is ’n aktiwiteit wat soms lei tot die verkoop van diere."
Die DA sê in hulle verklaring die ANC is verby die punt om homself reg te ruk. “Hulle het geen lesse van die afgelope dekade geleer nie, maar gaan voort om die parlement te verlam en te keer dat mense in hul geledere aanspreeklik gehou word. Dit is werklik ’n hartseer dag in ons demokrasie wanneer ’n logiese mosie wat bedoel is om parlementslede in staat te stel om hul werk te doen, afgeskiet word weens eng politieke belange.”
Volgens die DA herhaal die geskiedenis homself.
“Dit is presies wat die Zondo-kommissie se staatskapingsverslag bedoel het toe dit bevind het dat die parlement ‘versuim het om die toesig- en aanspreeklikheidsmaatreëls tot sy beskikking te gebruik’ gedurende die Zuma-jare. Dit is duidelik dat hierdie neiging voortduur onder die Ramaphosa-presidentskap, bygestaan en gedryf deur die huidige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula,” het Gwarube gesê.
Hy sê parlementslede het die afgelope week ’n unieke geleentheid gehad om hul grondwetlike verpligtinge na te kom om die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep, maar die regerende party het weer eens sy minagting vir die instelling getoon.
“Die geskiedenis sal elke LP wat teen aanspreeklikheid gestem het, hard oordeel. In effek was ’n stemming teen hierdie mosie ’n duidelike boodskap aan die mense van Suid-Afrika dat daar ’n stel reëls vir die ANC en sy politieke bondgenote is terwyl daar ’n ander stel reëls vir gewone mense is,” het Gwarube gesê.