’n Koor van verontwaardiging het Woensdag onder Suid-Afrikaners opgeklink toe die ANC een van sy prominente lede wat verlede jaar onder ’n wolk van beweerde korrupsie as burgemeester van eThekwini afgedank is, in ’n nuwe posisie aangestel het in KwaZulu-Natal se wetgewer.
Zandile Gumede is Woensdag ingehuldig ten spyte van die voortslepende bedrog- en korrupsiesaak teen haar wat verband hou met ’n multimiljoenrand-vullisverwyderingstender. Sy is tans op borgtog van R50 000 uit. Gumede word ook daarvan beskuldig dat sy haar politieke status gebruik het om verskeie senior aanstellings in die provinsie te doen.
Die ANC se woordvoerder in KwaZulu-Natal, Nhlakanipho Ntombela, sê die party het verskeie faktore oorweeg voor hulle die besluit geneem het. Ntombela sê Gumede is steeds ’n lid van die ANC en kan ’n groot bydrae in die wetgewer lewer.
Die ANC het Gumede as burgemeester herroep, asook as lid van eThekwini se uitvoerende komitee, maar geen dissiplinêre stappe teen haar ingestel nie. Sy is na haar herroeping as burgemeester toegelaat om aan te bly as raadslid tot met haar nuwe aanstelling Woensdag in die wetgewer. Die 62 raadslede wat in die hof genoem is as mense wat saam met haar gewerk het se dienste is ook nie opgeskort hangende die ondersoek teen hulle nie.
Die DA in die provinsie het Woensdag saam met verskeie gewone lede van die publiek uitgevaar teen haar nuwe aanstelling. Die party het op Twitter gesê dit is duidelik dat die voormalige burgemeester ’n baie magtige figuur in die ANC is wat beskerming in hoë kringe geniet. “Waarom anders word sy toegelaat om so ’n belangrike posisie te beklee terwyl haar afkeurenswaardige gedrag so duidelik vir almal is om te sien?” het die DA gevra.
Die DA sê in ’n mediaverklaring die party is geskok deur die ANC se besluit om haar ’n sagte kussing in die wetgewer aan te bied. Hulle sê Gumede, wat van 2016 tot 2019 eThekwini se burgemeester was, het die stad op sy knieë gedwing.
Volgens die DA is die ANC se optrede ’n klap in die gesig van elke inwoner van eThekwini en elke inwoner van die provinsie wat moet opdok vir Gumede se duur lewenstyl.
The DA is disgusted by the ANC’s move to elect Zandile Gumede to a cushy seat in the KZN Legislature.
Gumede, who served as eThekwini’s Mayor from 2016 to 2019 and brought the City to its knees, is out on bail in an elaborate corruption and fraud case relating to DSW. pic.twitter.com/J2GNJsYZxt
— DA KZN (@DA_KZN) August 19, 2020
Daar was ook reaksies van Gumede se vriende, wat gesê het sy is onskuldig totdat sy skuldig bevind word deur ’n hof. “Suid-Afrika is nie ’n piesangrepubliek nie; ons het ’n Grondwet. Artikel 35(3) stel dit duidelik almal is onskuldig totdat hulle deur ’n hof skuldig bevind word. Hierdie boendoehof wat sonder enige bewys sê dat Gumede skuldig is, is ongrondwetlik,” het een van die ANC-volgelinge wat haarself Marxist noem, getwiet.
South Africa is not a Banana Republic, we have the constitution.
Section 35(3) clearly stipulate that everyone is innocent until proven guilty by a court of law.
This kangaroo/public court saying Zandile Gumede is guilty on the basis of an accusation is unconstitutional.
— Marxist (@Kgomo389) August 19, 2020
Die VF Plus sê intussen in ’n verklaring oor ’n ander saak hulle is geensins verbaas oor die hofverskyning van Stanley Khanyile, munisipale bestuurder van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, in die King William’s Town-landdroshof op klagte van bedrog, diefstal en geldwassery nie aangesien die Gautengse wetgewer ook reeds besig was met ’n ondersoek na beweerde ongerymdhede in dié distriksmunisipaliteit. Khanyile en twee ander persone staan tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal van meer as R29 miljoen terwyl hy die hoof van die Departement van Ontwikkeling in die Oos-Kaap was. Hy en sy medebeskuldigdes moet weer in Oktober in die hof verskyn.
Die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, het onlangs ’n ondersoek aangevra na die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, waaronder die plaaslike munisipaliteite van Emfuleni, Midvaal en Lesedi val, asook na die munisipale bestuurder. William Mokhari is deur Cogta aangestel om ongerymdhede van korrupsie, wanadministrasie, finansiële wanbestuur en nepotisme deur Khanyile en die Sedibeng-distriksmunisipaliteit te ondersoek
Buro: MvH