ANC in hoek oor grondonteiening sonder vergoeding

  • 0

Die ANC gaan Dinsdag in die parlement uitgedaag word om te sê hoe hulle grond sonder vergoeding wil onteien.

Grondonteiening sonder vergoeding is ʼn emosionele saak vir Suid-Afrikaners van alle rasse. Die grondkwessie het opnuut uiteenlopende emosies uitgelok sedert die ANC op sy nasionale konferensie verlede Desember in Johannesburg onteiening sonder vergoeding as beleid aanvaar het.

Die debat daaroor was so heftig dat dit die ANC se konferensie byna skipbreuk laat ly het.

Intussen het die debat landwyd uitgekring. Dit gaan die week in die parlement op die spits gedryf word wanneer daar van die ANC geëis gaan word om antwoorde te gee hoe hulle dit wil doen.

Die populistiese EFF het ʼn mosie ingedien waarmee hulle die Grondwet se eiendomsklousule wil wysig om dit moontlik te maak dat grond sonder vergoeding onteien kan word. Die EFF se mosie wat Dinsdag in die parlement bespreek word, plaas die ANC in ʼn ongemaklike situasie.

Die EFF-leier Julius Malema het tydens die staatsrede gesê Ramaphosa bluf Suid-Afrikaners oor grondonteiening en is besig om leë beloftes aan Suid-Afrikaners te maak oor grondonteiening sonder vergoeding. Landbou-organisasies wil ook by Ramaphosa weet hoe hy grond sonder vergoeding wil onteien en watter grond hy in gedagte het.

Ramaphosa het tot dusver weggeskram van die saak deur elke keer te sê grondonteiening sal binne die raamwerk van die wet geskied en dit mag nie ekonomiese groei en voedselsekerheid bedreig nie. Die huidige grondwet laat dit egter nie toe nie.

Die enigste manier hoe grond sonder vergoeding onteien kan word is om die grondwet met ʼn tweederde meerderheid te wysig. Die DA wat die amptelike opposisie in die parlement is en sommige van die ander kleiner partye soos die Vryheidsfront Plus en Cope is ten sterkste gekant teen grondonteiening sonder vergoeding.

Die leier van Cope, Mosiuoa Lekota, het hom verlede week die gramskap van sowel die ANC as die EFF op die hals gehaal toe hy president Ramaphosa openlik uitgedaag het om te verduidelik hoe hy grond sonder vergoeding wil onteien terwyl die land se huidige grondwet nie daarvoor voorsiening maak nie.

Parlementslede van die ANC en die EFF het hom uitgejou en daarvan beskuldig dat hy onsimpatiek is oor swart Suid-Afrikaners se frustrasie rakende die grondkwessie. Die politieke kommentator Max du Preez het vir Lekota in die bres getree en sê die vrae wat hy daaroor vra is billike vrae wat antwoorde verg.

Die ANC bevind hom nou tussen die duiwel en die diepsee wanneer daar oor die EFF se mosie gestem sal moet word. Hulle het ʼn jaar gelede teen ʼn soortgelyke mosie van die EFF gestem, maar intussen het die party die beginsel onderskryf dat grond sonder vergoeding onteien kan word en president Ramaphosa het dit onderskryf.

Die DA se woordvoerder oor landbou het volgens Netwerk 24 gesê sy is nie bekommerd oor die EFF se mosie nie. Volgens haar sal die ANC steeds nie vir so ’n mosie stem nie omdat daar ʼn parlementêre komitee is wat deurlopend na moontlike veranderinge aan die grondwet kyk.

Sy sê die EFF probeer om politieke munt te slaan met hulle mosie wat ten doel het om die grondwet te wysig ten einde dit moontlik te maak.

Gewone Suid-Afrikaners wag egter in spanning om te hoor wat die ANC hierdie week oor die saak gaan sê. Die parlement het 85 minute opsy gesit vir Dinsdag se debat maar niemand wil dit waag om te voorspel wat die uiteinde van die debat gaan wees nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top