ANC hou asem op vir KZN se verkiesingskonferensie

  • 0

Die verdeeldheid en faksiegevegte in die ANC kan dié naweek verder op die spits gedryf word tydens die regerende party se provinsiale verkiesingskonferensie in KwaZulu-Natal (KZN).

Die 9de verkiesingskonferensie skop volgens die meeste waarnemers af met groot onsekerheid oor wie as wenner uit die stryd gaan tree. Hulle is dit eens dat dit ’n konferensie vol verrassings en moontlike vuurwerke gaan wees.

KZN is ’n sleutelprovinsie vir die ANC. Die uitkoms van die verkiesing kan ’n deurslaggewende rol speel in die rigting wat die party besig is om in te slaan onder die leierskap van president Cyril Ramaphosa.

Belangstellendes sit ook met opgehoue asems en wag om te sien of Ramaphosa self sy opwagting in KZN gaan maak tydens die kongres, en indien wel, hoe hy daar ontvang gaan word te midde van vrese dat hy ’n koue ontvangs te wagte kan wees in oudpresident Jacob Zuma se vesting.

Die verskillende faksies het die afgelope week reeds begin om voorband te maak vir hulle onderskeie kandidate.

Sihle Zikalala, wat tydens die vorige konferensie onbestrede verkies is, sal hierdie keer waarskynlik in ’n taai wedloop gewikkel wees om sy posisie as voorsitter te behou.

Daar word geglo dat minstens ses ANC-lede hul oog op die topposisie het.

Die burgemeester van eThekwini, Mxolisi Kaunda, het hom ’n dag voor die konferensie uitgespreek ter ondersteuning van Zikalala. Volgens hom is dit omdat die ANC in KZN moet verenig ná die verdeeldheid wat tydens die vorige konferensie geheers het, het die joernalis Sihle Mavuso van ZANewsflash op Twitter geskryf.

Onder diegene wat in die wedloop is vir die voorsittersposisie, is Zikalala, die huidige premier van KZN, Sboniso Duma, ’n senior lid van die wetgewer, Nomusa Dube Ncube, die LUR vir finansies, die sakeman Sandile Zungu, Nhlanhla Ngidi, ’n voormalige direkteur-generaal in die provinsiale regering, en die huidige Emalahleni-streekvoorsitter, Ntuthuko Mahlaba.

IOL berig dat een van die voorstanders van radikale ekonomiese transformasie, of die RET-groep, en lid van die ANC in die provinsie, Nkosentsha Shezi, ’n beroep op die afgevaardigdes gedoen het om hul stemme wys te gebruik en te stem vir leiers wat die belange van die party op die hart dra. Hy het bygevoeg dat die huidige voorsitter, Sihle Zikalala, nêrens te vinde was toe die provinsie hom die nodigste gehad het tydens die Julie-onrus van 2021 nie.

Sommige takke wil glo hê dat die opsystaanklousule waarvolgens ANC-ampsdraers hul poste moet ontruim as hulle van ’n ernstige misdaad aangekla word, ook tydens die konferensie hanteer moet word. Hulle meen dit is in stryd met reël 5.1.4 van die ANC-grondwet, wat ’n ANC-lid die reg gee om "aan verkiesings deel te neem en verkies of aangestel te word in enige komitee ... van die ANC”.

Die komende naweek se konferensie is veral van belang omdat dit ook ’n toets sal wees van hoe groot oudpresident Zuma se invloed in die provinsie steeds is. Die ANC se KwaZulu-Natalse provinsiale uitvoerende komitee (PUK) het Zuma volgens berigte voortdurend ingelig gehou oor al hulle planne vir die konferensie. Dit bevestig die voormalige president se voortgesette invloed in die bestuur van die regerende party in sy tuisprovinsie.

KZN is die provinsie wat die meeste stemme op die ANC se nasionale kongres het en sal dus ’n groot rol speel om te bepaal of Ramaphosa vir ’n tweede termyn as president van die ANC verkies gaan word tydens die volgende nasionale kongres in Desember.

Politieke ontleders waarsku dat die provinsie later vanjaar dalk net so gefragmenteer en verdeeld soos in 2017 na die nasionale konferensie kan gaan as daar nie dié naweek eenheid is nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top