Suid-Afrikaanse gebruikers van die internet word deur die ANC in die digitale duisternis gehou omdat hulle nie van Starlink, die satellietinternetdiens wat deur SpaceX verskaf word, kan gebruik maak nie.
So sê die DA se skaduminister van kommunikasie en digitale tegnologieë, Natasha Mazzone, in ’n verklaring nadat Argentinië onlangs ook toegang tot Space X se Starlink-internetverbinding gekry het.
Argentinië, ’n eweknie van Suid-Afrika in baie opsigte, sal nou konsekwente toegang tot die internet hê, oor stedelike, landelike en afgeleë gemeenskappe heen, danksy Starlink se groot satellietnetwerk. Hulle sluit aan by talle ander oorsese lande, sowel as lande in Afrika, soos Kenia, Nigerië, Rwanda, Malawi en Mosambiek.
Ten spyte van lande regoor die wêreld wat toustaan om toegang tot Starlink te kry, bly die ANC volgens Mazzone vasbeslote om Suid-Afrika in die Steentydperk te hou. “Terwyl hulle die 'Vierde Industriële Revolusie' voorhou, is dit soos alles wat hulle sê, lippediens. In teenstelling met om die werklikheid te aanvaar dat die digitale era op ons is, wil hulle net beheer hê,” sê Mazzone.
Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het in November 2023 ’n waarskuwing aan maatskappye gerig rakende die invoer en verkoop van Starlink-satellietinternetterminale in Suid-Afrika. Okosa het hierdie praktyk as onwettig beskou en beklemtoon dat boetes opgelê kan word.
Okosa het dit duidelik gemaak dat die verskaffing van ’n diens sonder ’n lisensie as ’n ernstige oortreding beskou word. Diegene wat skuldig bevind word, kan swaar gevolge in die gesig staar, insluitend ’n boete van tot R5 miljoen of 10% van hul jaarlikse omset. Hierdie straf geld vir elke dag of gedeelte daarvan wat die oortreding voortduur.
Die DA sê die redes waarom die ANC aanhou om landwye toegang tot die internet te smoor, is eenvoudig. “In teenstelling met om Suid-Afrikaners eerste te stel, poog hulle om te verseker dat ANC-kaders hul deel van die koek kry deur die SEB-vereistes toe te pas wat dit noodsaak dat 30% van alle aandele van die deelnemende maatskappy in hul gulsige hande oorgedra word. Weiering om eienaarskap oor te dra beteken dat geen magtiging gegee word om in die land te werk nie. Hulle gee nie om dat Suid-Afrikaners alles in hul vermoë doen om hulself uit armoede te lig, toegang tot werk aanlyn te kry, hulself vaardighede te leer en hul kinders op te voed nie.”
Die DA sê Suid-Afrika is besig om al hoe meer agter te raak in die wêreld, en die enigste manier waarop Suid-Afrika kan vorder, is om die ANC van sy mag te stroop. “Met die komende verkiesings op 29 Mei beteken ’n stem om die ANC te verdryf ’n verbintenis om toegang tot werksgeleenthede en opvoedkundige platforms te verskaf, en ons land met globale konnektiwiteit te belyn. Dit is ’n deurslaggewende stap na ’n beter, digitaal bemagtigde toekoms vir alle Suid-Afrikaners.”
Intussen word berig dat Elon Musk se Starlink besig is om op verskeie plekke op die swartmark te blom, ook in Suid-Afrika.
Starlink het onlangs die rekeninge van talle Suid-Afrikaanse gebruikers beëindig weens vermoede handelsmerk- en kopieregskendings.
Alhoewel Starlink nie ’n lisensie het om in Suid-Afrika te werk nie, kan sy swerfdienste steeds in die land verkry word. Kliënte kan die diens gebruik deur herverkopers soos StarSat, wat Starlink-swerfpakkette van gelisensieerde lande koop. Hierdie herverkopers registreer dan die dienste in daardie lande en hanteer intekeninge vir gebruikers in Suid-Afrika.
Suid-Afrika is nie die enigste land wat beperkings op die gebruik van Starlink oor die hele vasteland ingestel het nie.
In Desember 2023 het die Nasionale Kommunikasie-owerheid (NKO) van Ghana ’n waarskuwing uitgereik oor die werking van Starlink in dié Wes-Afrika-land. Die NKO het hulle regering afgeraai om Starlink toe te laat om in Ghana te werk.
Starlink het egter ’n groeiende teenwoordigheid in Afrika. Ten spyte van teenkanting is Starlink se satellietinternetdiens suksesvol in verskeie Afrika-lande bekendgestel. In November verlede jaar het Benin die sewende Afrika-land geword wat Starlink-dienste regstreeks bied.