Die ANC bevind hom in ’n diep politieke en organisatoriese krisis nadat die party nie betyds al sy kandidatelyste by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingedien het nie.
Die spertyd van 17:00 die afgelope Vrydag (28 Augustus 2026) is in verskeie munisipaliteite nie nagekom nie. Die gevolge kan vernietigend wees vir ’n party wat reeds swaar gebuk gaan onder dalende steun.
Wat die situasie veral problematies maak, is dat die ANC en die OVK twee heeltemal uiteenlopende persverklarings oor dieselfde saak uitgereik het. Die ANC het Maandag beweer dat tegniese probleme met die kommissie se aanlyn nominasiestelsel ’n klein aantal van sy inskrywings geraak het, en dat die party “konstruktief” saamwerk met die OVK om die uitstaande lyste te finaliseer.
Die party se nasionale woordvoerder, Mahlengi Bhengu, het selfs gesê die oorgrote meerderheid van die party se meer as 10 000 kandidate is betyds ingedien en dat die saak deur die OVK se gevestigde prosesse hanteer word.
Die OVK het egter Dinsdag ’n skerp teenstrydige verklaring uitgereik. Die kommissie het by implikasie die ANC se weergawe volledig verwerp. Die OVK het dit duidelik gestel dat sy aanlyn kandidaatnominasiestelsel deurgaans tot op die presiese spertyd om 17:00 op 28 Augustus beskikbaar was.
Die stelsel was al van 21 Junie af oopgestel, lank voor die amptelike nominasieperiode, juis om vir partye genoeg tyd te gee om te sorg dat hul kandidatelyste betyds by die OVK ingedien word.
Die kommissie het verder verklaar dat geen party of onafhanklike kandidaat ’n ekstra geleentheid sal kry om ná die spertyd name in te dien nie.
Hierdie openlike teenspraak tussen die twee verklarings laat die ANC in ’n uiters ongemaklike posisie. Die party se narratief van ’n “tegniese probleem” en samewerking word deur die OVK se amptelike standpunt weerspreek. Dit skep die indruk dat die ANC óf die feite verdraai, óf dat die party se administrasie so swak is dat dit selfs nie die basiese spertyd kon haal nie.
Volgens beskikbare inligting het die ANC nie die volledige wyks- en proporsionele (PR-) lyste vir Port St Johns en Ingquza Hill in die Oos-Kaap ingedien nie. In Sondagsriviervallei ontbreek die PR-lys, en daar is ook berigte dat Walter Sisulu geraak word. Dit beteken die party kan moontlik in hele munisipaliteite, of minstens in talle wyke, nie op die stembrief vir die plaaslikeregeringsverkiesings van 4 November verskyn nie.
Vir die ANC is dit ’n nagmerrie. Port St Johns en Ingquza Hill is tradisionele sterk ANC-vestings in die Oos-Kaap, ’n provinsie waar die party reeds intern verdeeld is en sy greep op mag besig is om te verslap. As die party nie daar kan meeding nie, kan opposisiepartye soos die DA, EFF of MK dié setels op ʼn skinkbord kry. Dit kan lei tot die verlies van raadslede, beheer oor munisipaliteite en ’n verdere knou aan die party se nasionale beeld.
In 2021 het die ANC ook nie die spertyd gehaal in tientalle munisipaliteite en honderde wyke nie. Die OVK het toe, in die konteks van die Covid-tyd, die proses heropen en die party ’n nippertjie-uitstel gegee. Vanjaar is die omstandighede heeltemal anders. Daar is geen pandemie nie, die stelsel was maande lank oop, en die OVK hou by die reëls en het dit in sy verklaring onomwonde bevestig.
Ander politieke partye hou die situasie met ’n valkoog dop juis omdat hulle nie wil sien dat die OVK weer, soos in 2021, vir die ANC uitsonderings maak nie. Die MK-party se sekretaris-generaal, Sibonelo Nomvalo, het gewaarsku dat hulle nie sal toelaat dat die OVK “gunste” aan die ANC bewys nie en sê die MK-party het die spertyd ten volle nagekom.
Die DA en EFF het bevestig dat hulle geen probleme met die stelsel ervaar het nie en hul lyste betyds ingedien het.
Politieke ontleders sien die spertyd wat verpas is en die openlike teenspraak met die OVK as ’n teken van diep organisatoriese verval in die ANC. Die gevolge kan wydlopend wees. Behalwe die direkte stemverlies in die Oos-Kaap skep dit ’n beeld van ’n party wat nie eers sy basiese administratiewe werk regkry nie, en wie se amptelike verklaring deur die verkiesingsliggaam self weerspreek word.
Of die ANC nog regstappe sal oorweeg, is onduidelik. Wat wel seker is, is dat die OVK vanjaar nie dieselfde soepelheid as in 2021 toon nie.
Vir ’n organisasie wat reeds swaar dra aan dalende steun, kan hierdie dilemma ’n uiters nadelige slag wees wat sy pad na 4 November nog steiler maak.
- Lokprent van Pixabay.

