Die ANC-jeugliga (ANCYL) word daarvan beskuldig dat hulle Oekraïne se immigrasiewette verontagsaam het toe hulle as internasionale waarnemers opgetree het tydens die referendums wat Rusland gehou het om sy militêre anneksasie van sekere dele in Oekraïne te bekragtig.
Oekraïne se ministerie vir herintegrasie het in ’n verklaring gesê ’n aantal lande, insluitend Suid-Afrika, het verteenwoordigers gestuur (in Suid-Afrika se geval die ANCYL) wat deelgeneem het aan “’n kollektiewe misdaad teen die soewereine onafhanklike staat van Oekraïne”.
Die ministerie het ook ’n beroep op Oekraïense wetstoepassingsagentskappe gedoen om “bewyse te ondersoek wat betrekking het op die uitvoer van kamstige referendums – veral die legitimiteit van toegang, verblyf en werking van sogenaamde buitelandse waarnemers ...”
ANC Youth League in Ukraine to observe Putin's sham referendum in Russian occupied territories... Business Day, Wednesday 28 September 2022 #UkraineWar pic.twitter.com/6xZQGyj7ke
— Brandan Reynolds (@brandanrey) September 28, 2022
Die deelname van lede van die ANCYL as sogenaamde onafhanklike internasionale waarnemers is uit verskeie oorde gekritiseer omdat dit volgens die meeste politieke kommentators ’n skyn van amptelike geloofwaardigheid verleen aan peilings wat elders algemeen as ’n skyn beskou word om Moskou se gedwonge beslaglegging op vier Oekraïense provinsies te regverdig.
Die ANC-jeugliga-amptenare word onder andere deur die Russiese staatsmedia aangehaal as regverdiging van die Russiese besetting van provinsies soos Donetsk, Luhansk, Cherson en Zaporizhzhia.
Die DA sê in ’n verklaring hulle ondersteun die ondersoek wat deur Oekraïne se regering aangekondig is teen lede van die ANC-jeugliga, wat daarvan beskuldig word dat hulle die land se immigrasiewette verontagsaam het.
“Suid-Afrikaanse burgers is deur ’n buitelandse regering van ’n ernstige oortreding beskuldig en dit is belangrik dat die Suid-Afrikaanse regering sy verpligting onder internasionale reg nakom deur saam te werk met die Oekraïense ondersoek,” sê die DA in hulle verklaring.
Die DA het ’n beroep gedoen op Suid-Afrika se Departement van Buitelandse Sake (Dirco) sowel as die minister van polisie, Bheki Cele, om hul volle samewerking in die ondersoek te verleen.
Volgens die DA se Darren Bergman het die ANCYL ’n ernstige oortreding van internasionale reg gepleeg.
Die DA sê hulle sal ook ’n vergadering met die Oekraïense ambassadeur in Suid-Afrika, Liubov Abravitova, aanvra om die DA se ondersteuning van hierdie ondersoek en hulle bystand in hierdie verband te bevestig.
Die ANCYL het Dinsdag in ’n verklaring gesê hulle is genooi om die referendums waar te neem en dat waarnemersmissies alledaags is in die arena van internasionale politiek.
Die groep se objektiwiteit word egter ernstig bevraagteken omdat dit ’n duidelike boodskap uitstuur dat die hou van hierdie referendums volgens die ANC geloofwaardig en wettig is. Sommige van die ANCYL-ampsdraers wat die referendums waargeneem het, het openlik hulle steun uitgespreek vir Rusland se reg om Oekraïners te vra of hulle wil hê dat ’n deel van hul land deel van Rusland moet word.
Een van die ANC-waarnemers, Stella Mondlane, is volgens die Daily Maverick deur die amptelike Russiese nuusagentskap Tass aangehaal wat die referendums beskryf as “’n projek van historiese belang” en bygevoeg het dat mense wat vir ’n lang tyd ontneem is van die reg om te kies, nou die geleentheid gekry het om te herenig met die land (Rusland) waarvan hulle nog altyd deel was.
Mondlane het gesê die meeste mense van Suid-Afrika ondersteun Rusland se optrede en glo dat dit nodig is om “sy burgers te beskerm en vir vryheid te veg”.
Sy het gesê sy hou die stemming by verskeie stemlokale dop. Sy het egter ook gesê sy is verbaas dat die referendums nie kieserslyste aan ’n spesifieke gebied toegewys het nie en dat kiesers eerder hul paspoorte gehad het om te wys waar hulle vandaan kom.
“Ek dink ons kan dit by ons ook toepas as die beste praktyk,” het Tass haar aangehaal.