ANC-kaders maak bokspronge voor Zondo

  • 0

’n Lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee wat na bewering tydens haar termyn as ANC-minister met omkoopgeskenke van Bosasa oorlaai is, het Donderdag voor die Zondo-kommissie behoorlik kleigetrap om die bewerings teen haar te verduidelik.

Nomvula Mokonyane (Foto: YouTube)

Nomvula Mokonyane het tydens haar vorige verskyning voor die kommissie ontken dat Bosasa ’n uitspattige verjaarsdagpartytjie vir haar gehou het by ’n gastehuis. Tydens Donderdag se verskyning moes sy ’n ander deuntjie sing toe sy met haar vorige getuienis gekonfronteer is.

Adv Viwe Notshe van die kommissie se ondersoekspan het dit aan haar gestel dat sy in haar vorige verklaring gesê het sy het nooit ’n verjaarsdagpartytjie by die Victoria-gastehuis aan die Wes-Rand gehad nie. Die eienaar van die gastehuis, Frederick Coetzee, het egter voor die kommissie getuig dat Bosasa meer as R40 000 betaal het vir haar verjaarsdagpartytjie by sy gastehuis. Dit sluit nie die drankrekening van R40 000 in wat ook deur Bosasa vir die partytjie gekoop is nie.

Notshe wou van Mokonyane weet waarom haar getuienis voor die Zondo-kommissie nie klop nie. In haar vorige getuienis het sy gesê daar was nooit so partytjie nie, terwyl sy Donderdag gesê het die partytjie sou aanvanklik net ’n aandete wees, maar het later in ’n veel groter partytjie ontaard wat nie beplan was nie.

Mokonyane het ook gesukkel om die vrae te beantwoord oor die werk wat deur kontrakteurs van Bosasa aan haar huis gedoen is.

Haar regsverteenwoordiger, adv Laurence Hoades, het voordat sy begin getuig het, gekla dat die kommissie se sittings sleg is vir haar gesondheid. Volgens hom benadeel dit haar gesondheid om voor die kommissie te getuig omdat die media telkens haar karakter aanval.

Voordat Mokonyane in die kabinet gedien het, was sy premier van Gauteng na 2009 se algemene verkiesing. Sy is in 2018 deur president Ramaphosa aangestel as minister van omgewingsake, maar is al in Mei 2014 deur oudpresident Jacob Zuma in die kabinet aangestel as minister van waterwese en sanitasie, en was later ook minister van kommunikasie onder Ramaphosa.

As minister van waterwese en sanitasie was sy aan die stuur van die Lesotho Hoogland-waterskemaprojek, waarvan die begroting vermoedelik reeds met miljoene rand oorskry  is.

Mokonyane het glo verskeie geskenke van Bosasa gekry, maar kon weinig daarvan onthou toe sy voor die Zondo-kommissie daaroor uitgevra is.

Die kommissie sit met ’n tameletjie as gevolg van die soort getuienis wat mense soos Mokonyane voor die kommissie lewer. Al hoe meer getuies het skynbaar geheueverlies, in so ’n mate dat hulle mylpaalverjaarsdae en selfs hul eie troudatums vergeet, het Vrye Weekblad verlede week berig. “Hulle kan nie onthou dat daar ’n miljoen of twee (of twee-en-’n-half, om presies te wees) in hulle bankrekening is nie en ook nie of dit ooit aan hulle betaal is nie. Ook dit wat hulle weet, het hulle vergeet. Of dit wat hulle weet, vergeet hulle om te noem.” 

Einde Julie nog het Mokonyane getuig dat die omstrede firma Bosasa nooit vir enige van haar verjaarsdagpartytjies betaal het nie. Dit was nadat Angelo Agrizzi, Bosasa se voormalige bedryfshoof,  aan die kommissie gesê het dat Mokonyane se 40ste-verjaardagpartytjie by die Victoria-gastehuis op die maatskappy se rekening was.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top