Die ANC het ’n yslike bloutjie in die Konstitusionele Hof geloop. Hulle moet binne vyf werksdae al hulle kaderontplooiingsdokumente aan die DA oorhandig.
Dit sluit die ANC se volledige kaderontplooiingsrekords in wat terugstrek na 1 Januarie 2013, toe president Cyril Ramaphosa voorsitter van die kaderontplooiingskomitee geword het. Die ANC is Konstitusionele Hof toe nadat die Appèlhof in September verlede jaar die ANC se appèlaansoek met koste van die hand gewys het.
Die DA het die hof se uitspraak Maandag in ’n verklaring bestempel as een van die groot oorwinnings in die Suid-Afrikaanse regs- en demokratiese geskiedenis.
Ingevolge die uitspraak het die ANC nou vyf werksdae om alle vergaderingsnotules, CV’s, e-pos-drade, WhatsApp-besprekings en ander relevante dokumente met betrekking tot die kaderontplooiingskomitee, wat meer as ’n dekade terugstrek, aan die DA te oorhandig.
???? Victory for the DA's fight against corruption! The Constitutional Court has ruled that the ANC must make public its complete cadre deployment records dating back to 2013, when Ramaphosa became chairman of the cadre deployment committee.
Read more here: https://t.co/bbLjvTB5xy pic.twitter.com/jSE5wx4HHo
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 12, 2024
Die DA sê die ANC het nou geen ander uitweg as om die geheime bloot te lê wat hy so desperaat was om weg te steek nie.
Boonop het die DA Maandag ook formeel kriminele klagte teen adjunkpresident Paul Mashatile aanhangig gemaak ná ernstige aantygings van korrupsie wat oor byna twee dekades teen hom gemaak is.
Dit sluit in ’n ingewikkelde web van nepotisme en familiebeskerming waarvan Mashatile na bewering die uiteindelike begunstigde is, met die mees onlangse skandaal die aankoop van ’n Constantia-herehuis deur Mashatile se skoonseun, Nonkwelo, teen ’n koste van R28,9 miljoen deur sy maatskappy wat na bewering steeds die Gautengse Departement van Menslike Nedersettings R7 miljoen skuld vir ’n mislukte Alexandria-behuisingsprojek.
Die DA sê Maandag se uitspraak deur die Konstitusionele Hof sal eerstens deursigtigheid verseker, omdat dit die ANC dwing om te openbaar presies hoe Ramaphosa se kaderontplooiingskomitee die grondslag vir staatskaping gelê het deur by openbare aanstellingsprosesse in te meng.
“Dit skep ook ’n kragtige nuwe presedent wat alle Suid-Afrikaners bemagtig om die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) te gebruik om die ANC te dwing om te openbaar hoe hy by aanstellings inmeng.”
Die saak is volgens die DA ook van historiese belang in die voortdurende stryd teen staatskaping. “Die weg is gebaan om eens en vir altyd te openbaar dat president Cyril Ramaphosa persoonlik betrokke was by die staatskapingsprojek in sy hoedanigheid as kaderontplooiingsvoorsitter,” sê die party se skaduminister van staatsdiens en administrasie, Leon Schreiber.
Hy sê die staatskapingskommissie het reeds bevestig dat die ANC se ontplooiingskomitee ’n sleutelrat in die masjien was wat die openbare sektor gekorrupteer en in duie laat stort het, want dit was hierdie komitee wat onwettig ingegryp het om die aanstelling van die mense wat die staat gekaap het, te verseker.
“Danksy hierdie uitspraak sal die mense van Suid-Afrika uiteindelik die geleentheid kry om die volle omvang van die ANC se aandadigheid aan staatskaping te sien.”
Kaderontplooiing is nie ’n slagofferlose misdaad nie, sê die DA. “Dit lê in die hart van staatskaping en korrupsie. Dit is ook die grondoorsaak van die ineenstorting van staatskapasiteit, want dit stel die ANC in staat om mense in die openbare sektor aan te stel op grond van lojaliteit aan die party, eerder as op grond van meriete en vaardigheid. Dit vernietig die staat se kapasiteit om dienste te lewer, wat kaderontplooiing ’n sleuteloorsaak van krisisse soos beurtkrag, waterstorting, ineenstorting van infrastruktuur en ekonomiese agteruitgang maak.”
Wat Mashatile betref, sê die DA in ’n afsonderlike verklaring dat aangesien sy aanstelling slegs na goeddunke van die President gedoen word, hulle op Vrydag 2 Februarie 2024 ’n dossier van bewerings wat teen Mashatile gemaak is, by die Uniegebou vir Ramaphosa se aandag ingedien het.
Today, DA Leader @jsteenhuisen laid corruption charges against Deputy President Mashatile following a series of explosive exposés published by investigative journalists.
Due to the President's inaction, the DA has taken matters into its own hands to remove corrupt ANC cadres. pic.twitter.com/wrmcLyuNiJ
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 12, 2024
“Ons het president Ramaphosa ’n volle week gegee om teen sy ’nommer Twee' op te tree, en hom aangemoedig om die 2024-Staatsrede (Sona) te gebruik om aan die land die dringende en nodige optrede te verklaar om Paul Mashatile uit sy amp te verwyder, en om hom vir ’n volledige ondersoek na die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) te verwys.”
Volgens die DA-leier, John Steenhuisen, is dit geen verrassing dat Ramaphosa weer eens niks gedoen het om op te tree teen die korrupte kaders binne sy regering en binne sy eie party nie. Steenhuisen sê in die lig van Ramaphosa se onverskilligheid en pure verlamming, het die DA nou reg in eie hande geneem om die land en sy regering van die ANC se korrupsie te bevry.