ANC kry wind van voor om grond sonder vergoeding te onteien

  • 0

Die ANC kry die wind van voor met hulle planne om die Grondwet te verander sodat grond in Suid-Afrika sonder vergoeding onteien kan word.

Dit volg nadat die EFF besluit het om nie die ANC se voorgestelde grondwetlike wysiging wat dit moontlik sal maak te steun nie, omdat dit volgens hulle nie ver genoeg gaan nie.

Om grond sonder vergoeding te onteien verg ’n wysiging van die Grondwet, wat kan gebeur slegs as twee derdes van die parlement dit ondersteun. Aangesien die ANC nie oor ’n tweederdemeerderheid in die parlement beskik nie, benodig hulle die steun van een of meer groter opposisiepartye om die Grondwet te wysig.

Die EFF is ten gunste daarvan om die Grondwet te wysig. Hulle dring egter aan op veel radikaler onteiening as wat die ANC in gedagte het. Die ANC stel voor dat slegs sekere grond onder staatsvoogdyskap geplaas word en dat die howe steeds seggenskap daarin moet hê. Die EFF wil hê alle grond moet sonder vergoeding onteien kan word.

Die EFF beskuldig die ANC daarvan dat die Ramaphosa-faksie die konsensus tussen die twee partye in die wiele ry. Die EFF se onderleier, Floyd Shivambu, het op Twitter gesê die EFF sal later volledig reageer op die dooiepunt wat daar tussen sy party en die ANC oor die kwessie is

Die DA het verlede maand gesê hulle gaan vra dat die parlement se etiekkomitee Shivambu die hoogste moontlike sanksie oplê vir sy opmerkings oor grondonteiening. Dit volg nadat Shivambu tydens ’n sitting van die ad hoc-komitee oor grondonteiening sonder vergoeding, gedreig het dat mense prosesse buite die regstelsel gaan volg indien die politici nie daarin slaag om ’n oplossing vir die grondkwessie te vind nie.

Intussen het die publiek tot 13 Augustus 2021 geleentheid om kommentaar te lewer op die nuwe wysigings rakende artikel 25 van die Grondwet wat te make het met onteiening sonder vergoeding. Die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) het in ’n verklaring ’n ernstige beroep gedoen op Suid-Afrikaners wat besorg is oor die toekoms van grond in die land om hierdie geleentheid aan te gryp.

“Dit is uiters belangrik dat alle Suid-Afrikaners en nie net boere nie besef hoe belangrik dit is dat hierdie wysigings nie deurgevoer word nie,” sê Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “As die Grondwet toelaat dat grond sonder enige vergoeding onteien kan word verloor alle grond in die land onmiddellik alle waarde. Dit sal ’n ernstige impak hê op die verskaffing van voedsel, buitelandse belegging en die ekonomie.”

Volgens Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus en lid van die ad hoc-komitee wat met hierdie wysigings gemoeid is, is die ANC se nuwe voorstelle op die konsepwetgewing wat verlede jaar gepubliseer is, redelik ingrypend. Dit behels dat grondonteiening met die oog op grondhervorming teen nulvergoeding kan plaasvind. Verdere voorstelle handel oor die regering as kurator van sekere grond en ’n nasionale wet om die voorwaardes te bepaal vir wanneer grondonteiening sonder vergoeding kan plaasvind.

Die ANC kon hierdie wysigings vir kommentaar deurvoer omdat hulle in die komitee die meerderheid lede het. Maar, om dit heeltemal deurgevoer te kry moet twee derdes van die parlement die konsepwet aanvaar. Sedert die vorige verkiesing het die ANC nie meer ’n tweederdemeerderheid nie. Aangesien die EFF aandring op selfs meer radikale wysigings waartoe die ANC nie wil instem nie, sal die EFF dan ook nie hierdie wysiging ondersteun nie.

“Ons is dankbaar dat die publiek tot dusver aan die proses deelgeneem het en so verhoed het dat die Grondwet maklik gewysig kon word,” sê Geldenhuys.

“Die proses staan na ’n einde se kant toe en as die EFF volhou om die ANC teen te staan lyk dit of dit die gewenste uitwerking sal hê. Maar, dit is politiek en niks is seker tot die finale uitslag nie. Dit is daarom baie belangrik dat mense weer kommentaar lewer sodat ons teenstand gewig kan dra,” het Mulder gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top