
Grafika: © Clker-Free-Vector-Images, geplaas op 13 April 2012 (Pixabay.com)
Die ANC het die naweek amptelik sy veldtog vir die munisipale verkiesing van 4 November afgeskop deur sy manifes in Riverside, Diepsloot, noord van Johannesburg te loods met ’n sak vol beloftes.
Die party, onder leiding van Cyril Ramaphosa. het sy program van aksie bekendgestel waarin hy belowe om plaaslike regering vir almal te verbeter.
Dit was egter opvallend dat die ANC nie sy burgemeesterskandidate vir die agt metro’s aangekondig het soos wat aanvanklik beplan was nie. Die party het vroeër aangedui dat die aankondiging van kandidate saam met die manifes sou plaasvind, maar dit is nou tot September uitgestel. Die party het wel die name van 42 moontlike kandidate vir die metro’s bekendgemaak, maar geen name finaal bevestig nie. Dit laat opnuut vrae oor die party se gereedheid vir die komende verkiesing.
Die manifes, getiteld “Masakhe: Let us build”, is Sondag (23 Augustus) by ’n lewendige byeenkoms onthul. Ramaphosa het die geleentheid gebruik om die party se ses-punt-aksieplan uiteen te sit. Hierdie plan fokus op die lewering van gehalte- basiese dienste en infrastruktuur, die dryf van beleggings en werkskepping, veilige, skoon en gesonde gemeenskappe, volhoubare en mensegesentreerde munisipale finansies, verantwoordbare plaaslike regering en gemeenskapsdeelname.
Een van die opvallendste beloftes is dat byna 30 miljoen ontvangers van maatskaplike toelae outomaties as behoeftiges geklassifiseer sal word en by gratis basiese water, elektrisiteit, sanitasie en vullisverwydering sal baat. Die party sê die staat weet reeds wie hierdie begunstigdes is omdat daar maandeliks toelaes aan hulle uitbetaal word, en dat die huidige stelsel onnodige rompslomp skep.
Die ANC belowe ook om dienste soos vullisverwydering te verbeter en om korrupsie en tenderpreneurskap te bekamp. Munisipale skuld aan Eskom en watervoorsieningsagentskappe moet teen 2031 met minstens 30% verminder word. Tans beloop die totale munisipale skuld meer as R161 miljard, waarvan Eskom alleen meer as R110 miljard opeis.
Ramaphosa het beklemtoon dat etiese leierskap sentraal staan. Burgemeesters en raadslede sal 100 dae hê om vordering te toon. Dié wat misluk, sal verwyder word. ’n Nuwe moniteringstelsel sal van dag 1 af elke munisipaliteit se vordering dophou. Die party erken frustrasies oor dienslewering, maar wys op suksesse soos die oorhandiging van meer as 4 000 staatgesubsidieerde woonstelle in Diepsloot self as bewys dat dit resultate kan lewer.
Die manifes beloof verder betroubare en bekostigbare elektrisiteit, die opgradering van informele nedersettings, die vermindering van water- en elektrisiteitsverliese, uitbreiding van gratis openbare Wi-Fi by munisipale fasiliteite, en die skep van toestande vir belegging en kleinsake-ondersteuning. Munisipaliteite moet “enjins van ontwikkeling” word.
Die ANC is nie die eerste party wat sy manifes bekendgestel het nie. Die EFF het reeds in Julie 2026 sy manifes in Thohoyandou geloods onder die leuse “Victory or death”. Die EFF het sy metroburgemeesterskandidate aangekondig en fokus sterk op dienslewering, gratis basiese dienste vir armes, jeugwerkskepping en die afskaffing van tenders.
The EFF commits to providing immediate financial relief to households facing rising municipal costs through adjusted tariffs, targeted subsidies, affordable payment arrangements, and municipal debt-relief programmes. Municipalities will ensure that essential services remain… pic.twitter.com/b1VZxA5oXs
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) August 24, 2026
Die DA het op 8 Augustus 2026 sy manifes in Newtown, Johannesburg, onthul. Die party beloof streng optrede teen korrupsie, die aanstelling van gekwalifiseerde persone in munisipale poste en zeroverdraagsaamheid vir wanbesteding, en stel hul visier op die oorname van tot 60 munisipaliteite.
Partye wat nog hul volle manifes moet bekendstel, sluit die MK-party, die Inkatha Vryheidsparty (IVP), ActionSA en die Vryheidsfront Plus in.
Die MK-party het aangedui dat sy manifes ná ’n beleidswerkswinkel geloods sal word, terwyl die IVP reeds sekere verbintenisse oor dienslewering en plaaslike ekonomiese ontwikkeling uitgespreek het, maar nog nie ’n omvattende nasionale manifes onthul het nie. ActionSA het kandidate in verskeie munisipaliteite aangekondig, maar sy volledige program is nog nie amptelik bekend nie.
Met minder as drie maande tot die verkiesing op 4 November is die stryd om die 257 munisipaliteite nou amptelik aan die gang. Die ANC probeer met sy “Masakhe”-boodskap vertroue herwin ná jare van diensleweringsklagtes en finansiële krisisse in plaaslike regering. Of kiesers hierdie beloftes sal aanvaar, sal eers by die stembusse duidelik word.
