’n Yslike bekgeveg het op Twitter uitgebreek tussen twee senior lede van die ANC, naamlik die minister van vervoer, Fikile Mbalula, en een van oudpresident Jacob Zuma se vurigste ondersteuners, Carl Niehaus.
Mbalula het op Twitter gesê Niehaus is ’n “welbekende boef” wat deur die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, in diens geneem is by die ANC se hoofkantoor, Luthulihuis in Johannesburg.
Mbalula se twiet het ’n vloedgolf reaksies op Twitter veroorsaak en die tweespalt wat in die regerende party tussen die ondersteuners van Cyril Ramaphosa en Jacob Zuma bestaan, opnuut op die spits gedryf. Een van die twiets waarin hy sê hy is nie bang vir Zuma en sy ondersteuners nie, is later deur Mbalula verwyder.
Ondersteuners van beide faksies het mekaar oor en weer in die hare gevlieg. Baie ander mense het die spot gedryf met die tweespalt wat daar in die ANC bestaan.
Een van Zuma se ondersteuners het gesê Zuma was die gom en die ruggraat van die ANC en die leier wat die beweging bymekaar gehou het. “Kyk wat gebeur nou met hom. Wat Fikile oor die sekretaris-generaal sê, spreek boekdele. Dit is hartseer en suur. Ons kan nie so voortgaan nie, tensy ons klaar is met die beweging.”
Niehaus het op Twitter te velde getrek teen Mbalula en sê hy sou sy plig as woordvoerder van MK se militêre veterane versaak as hy die Minister se opmerking ongesiens sou laat verbygaan. Niehaus het geëis dat Mbalula sy opmerking terugtrek en verskoning vra. “Minister @MbalulaFikile dit is genoeg! Jy noem nie MK-kaders, van wie baie ouer is as jy, boewe nie. Sommige van die kaders is oud genoeg om jou ouers te wees. Hierdie kaders het hulle lewe vir ons vryheid op die spel geplaas, vir joune ook, en hulle ly onder verwaarlosing en armoede. Respek!” het Niehaus stoom afgeblaas op Twitter.
Niehaus het die afgelope paar weke ontpop as die mees uitgesproke ondersteuner van mense soos Zuma en Magashule en die faksie in die ANC wat bekendstaan as die faksie vir radikale ekonomiese transformasie (RET).
Hy sê eers wanneer Mbalula ’n 42 jaar lange veteraan van die ANC is en, soos hy, 10 jaar lank in die tronk was as gevolg van sy ANC- en MK-lidmaatskap, kan hy dit durf waag om hom aan te spreek soos wat hy op Twitter gedoen het. “Jy is nie die ou skoene werd waarin daardie MK-lede geloop het wat jy so beledig nie,” het Niehaus in nog ’n twiet voortborduur.
Hierop het een van die deelnemers aan die gesprek onder die naam Sbonelo “Star” Radebe getwiet 10 jaar in die tronk as politieke gevangene vrywaar jou nie van boewery nie. “Wat is regtig jou posisie in die ANC en wat is jou rol,” wou hy weet, “anders as die leier van elke faksie wat vorendag kom om die leierskap te ondermyn.”
Niehaus word daarvan verdink dat hy ook die ware outeur is van ’n brief wat onlangs onder Zuma se naam aan Ramaphosa geskryf is. Daarin trek die oudpresident te velde teen die manier waarop Ramaphosa die ANC lei. Niehaus het ontken dat hy Zuma se brief bewoord het, maar talle waarnemers glo vas dit was wel hy en dat sy styl duidelik herkenbaar is in die brief.
Daar word ook wyd bespiegel dat Niehaus deel is van ’n groep wat die fopnuus aan die Engelse media versprei het dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) reeds ’n lasbrief uitgereik het vir die inhegtenisname van Ace Magashule.
Mbalula het in opvolgtwiets gesê die kaartehuis sal nog in duie stort. Hy sê hy is nie bang vir boewe nie; net God kan hom oordeel. “Om uMkhonto we Sizwe te wees was ’n teken van dood maar vandag is dit lafaards en verdagte kriminele wat hulself so noem.”
Die geveg teen Mbalula spruit uit ’n eis van Gauteng se MK-veterane dat hy gearresteer behoort te word as gevolg van die provinsie se disfunksionele treindienste.