ANC moet dié week besluit wie staan almal opsy

  • 0

Die ANC se provinsiale strukture moet voor die einde van die week, meer bepaald voor die einde van Donderdag se werksdag, die name indien van sy lede wat aangekla word van korrupsie en ander ernstige misdade.

Dit volg nadat die party se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) vroeër die maand besluit het partylede wat aangekla is van sulke misdade moet binne 30 dae enige poste wat hulle in die ANC beklee, vir die duur van die hofsake ontruim. Indien hulle weier, sal hulle uit die party geskors word.

Die brief met die betrokke opdrag is deur die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, onderteken.

Magashule se kop is self op die blok, aangesien hy een van dié is wat van ernstige misdade aangekla word. Hy moet dus ook sy pos voor die einde van die maand ontruim as hy nie geskors wil word nie. Magashule speel tot dusver ’n kat-en-muis-speletjie met sy party en het nog geen aanduiding gegee van wat hy gaan doen as die 30 dae verstryk nie. Hy word aangekla van korrupsie in verband met ’n asbesprojek terwyl hy premier van die Vrystaat was.

Dit gons die afgelope week op sosiale media oor wat Magashule gaan doen. Die meeste mense is dit eens dat hy nie sy lot sommer stilweg gaan aanvaar en sy pos sal ontruim nie. “Die ANC se sekretaris-generaal wil nie alleen val nie. Provinsies sal ook nie enige name indien nie. Pleks dat die ANC sy ministers adviseer oor die ernstige sake wat die land in die gesig staar, is hulle besig om onder mekaar te baklei. Kan ons hulle asseblief uitstem sodat hulle eenkant verder kan baklei,” lui een van vele soortgelyke boodskappe oor die saak op Twitter.

Intussen het die ANC se Jeugliga ook hulle stem dik gemaak. Die hersaamgestelde struktuur sê hulle gaan nie langer toekyk hoe faksiegevegte die party uitmekaar skeur nie. Die liga se spesiale taakspan het die afgelope naweek in Benoni vergader, waar hulle deur van die ANC se top amptenare, insluitend Cyril Ramaphosa, Kgalema Motlanthe en Ace Magashule toegespreek is.

Die nuwe struktuur wat die ANC-Jeugliga oorneem, het die naweek sy eerste vergadering gehou. Verskeie kwessies is bespreek, insluitend die ontbinding van ANC-Jeugligastrukture in provinsies en streke.

Intussen hou opposisiepartye die binnegevegte in die ANC met ’n arendsoog dop. Dit is veral die EFF wat hoop om die meeste baat te vind by die ANC se interne gevegte.

Die EFF-leier, Julius Malema, skaar hom openlik by die Magashule-kamp. Malema het tydens ’n  nuuskonferensie gesê die ANC maak ’n geweldige fout deur op dié manier van Magashule ontslae te raak. Hy beskuldig die ANC se NUK daarvan dat hulle tydens ’n Zoom-vergadering besluit het om van Magashule ontslae te raak pleks van deur middel van die takke op grondvlak. Malema meen dit is ongehoord.

Hy sê die sekretaris-generaal kan nie op so ’n wyse verwyder word nie. “Julle sit op Zoom agter julle rekenaars en verwyder ’n sekretaris-generaal deur middel van Zoom vanuit julle badkamers of toilet. Ek dink nie julle weet wat behels die posisie van ’n  sekretaris-generaal nie,” het Malema gesê

Malema lê die skuld van die onenigheid in die ANC voor die deur van Cyril Ramaphosa. Hy beskuldig hom oudergewoonte daarvan dat hy deel is van die sogenaamde witmonopoliekapitaal en deur mense soos Anton Rupert voorgesê word wat om te doen.

Malema sê dit is goed vir die EFF as hulle op dié manier van Magashule wil ontslae raak, maar vir die ANC is dit ’n verkeerde besluit om te neem.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top