Suid-Afrikaners begin die nuwe jaar met ’n pikdonker vooruitsig nadat Eskom Woensdag beurtkrag onbepaald tot fase 6 verhoog het.
Eskom het aangekondig dat fase 6-beurtkrag vanaf 16:00 Woensdag ononderbroke geïmplementeer sal word tot verdere kennisgewing.
Dit was as gevolg van ernstige kapasiteitsbeperkings, met 11 kragopwekkers, wat 5 084 MW se kapasiteit verteenwoordig, wat Dinsdagoggend onklaar geraak het.
Stage 6 loadshedding will be implemented from 16:00 on Wednesday until further notice pic.twitter.com/8wLr5r1lNW
— Eskom Hld SOC Ltd (@Eskom_SA) January 11, 2023
“Dit was ’n eenheid elk by die kragstasies by Camden, Duvha, Grootvlei, Hendrina en Kendal, en twee eenhede elk by Kriel, Majuba en Matla,” het Eskom in ’n verklaring gesê.
’n Eenheid elk by Camden, Duvha, Hendrina, Kriel, Matimba en Matla is terug in diens, wat 2 540 MW se kapasiteit verteenwoordig.
[LOAD SHEDDING] South Africans can expect to endure Stage 6 load shedding continuously until struggling power utility #Eskom says otherwise, starting from 16:00 on Wednesday afternoon.#Moneyweb #Loadshedding https://t.co/knPnfwxefM
— Moneyweb News (@Moneyweb) January 11, 2023
Intussen het die DA gesê die ANC se oppervlakkige maatreëls om Eskom te probeer red is so effektief soos om dekstoele op die Titanic te herrangskik.
Twee van die DA se parlementlede, Dion George en Ghaleb Cachalia, sê in ’n gesamentlike verklaring die aankondiging dat Eskom-toesig na die Departement van Energie oorgedra gaan word, laat finansiële alarmklokke lui en skiet ver te kort van die werklike hervorming van die energiesektor wat Suid-Afrika broodnodig het.
Dit is volgens die DA onvoldoende, kortsigtig en ’n stap in die verkeerde rigting.
Die party het gesê hy deel die mening van Anton Eberhard dat dit ’n ernstige fout sal wees om Eskom na die Departement van Energie of selfs ’n aparte energieministerie te skuif.
Eberhard is die direkteur van Power Future Lab, wat fokus op infrastruktuursektorinvestering, bestuur, hervorming en regulering in Afrika.
Volgens Eberhard is daar ’n ooglopende belangebotsing daarin dat ’n energieministerie Eskom se aandeelhouer is terwyl hy ook verantwoordelikheid vir mededinging en regulering in die sektor het. Die DA deel hierdie mening.
Daar is ’n duidelike en huidige gevaar dat indien dit gebeur, Eskom nooit ten volle ontbondel sal word soos wat nodig is nie, het die DA gesê.
“Private belegging sal op die agtergrond geskuif word, en onder ’n ander weergawe van die status quo sal korrupsie en beurtkrag weer floreer.”
Volgens die DA is dit algemene kennis dat die grondoorsaak van Eskom se probleme spruit uit ’n gebrek aan strukturele hervorming, wanbestuur, korrupsie op ’n industriële skaal, onvoldoende mededinging in die elektrisiteitsmark, en swak bestuur en regulering.
“Om bloot die toesig oor die maatskappy na ’n ander staatsdepartement te verskuif, doen niks om hierdie onderliggende kwessies aan te spreek nie, en Eskom sal sy huidige trajek van finansiële en operasionele agteruitgang voortsit.”
Die verandering in toesig het aansienlike finansiële kommer onder beleggers veroorsaak en het daartoe gelei dat ’n aantal vrae geopper is oor die toekomstige bestuurstruktuur van Eskom en die status van Eskom se massiewe skuld.
Die DA het ’n beroep gedoen op die regering om duidelike en deursigtige antwoorde te verskaf op die finansiële bekommernisse wat geopper is, en om beslissende stappe te doen om die grondoorsake van Eskom se probleme aan te spreek deur werklike strukturele hervormings, eerder as om by oppervlakkige maatreëls betrokke te raak.
Die party sê Eskom is ten duurste “gekorporatiseer” en daardie struktuur het erg misluk. Beleggers wil weet watter vorm die nuwe bestuurstruktuur sal aanneem en veral wat met Eskom se skuld gaan gebeur.
“Effektebeleggers is reeds uiters senuweeagtig dat Eskom nie hul rente en kapitaal kan terugbetaal nie. As Eskom in die Departement van Energie opgeneem gaan word, kan dit beteken dat die skuld nie betaal sal word nie en dat beleggers ’n verlies moet ly?” wil die DA weet. Hulle sê die nasionale tesourie kan in elk geval nie die voorgestelde omskakeling bekostig nie. “Die verhoging van die nasionale skuldlas in ’n tyd wanneer die land se ekonomiese groei verlangsaam, sal neerkom op ’n growwe nalatigheid van fiskale verantwoordelikheid.
“Die gebrek aan deursigtigheid en duidelike antwoorde op hierdie kritieke vrae van die regering beklemtoon die behoefte aan ware en omvattende hervorming van Eskom.”
Die DA sê hulle het deurgaans ’n oproep gedoen om werklike en strukturele hervorming van Eskom, insluitend die ontbondeling van die nutsdiens in afsonderlike opwekkings-, transmissie- en verspreidingsentiteite, en die aanmoediging van onafhanklike kragprodusente om die mark te betree om mededinging te verhoog.