Die ANC kan minder as ’n maand voor Suid-Afrika se plaaslike verkiesings steeds nie daarin slaag om sy interne gevegte onder beheer te kry nie.
Die party se probleme speel hulle nou op verskeie fronte af, van ’n bitter hofstryd tussen twee senior leiers oor beweerde stemkopery tot ’n kandidaatlysfiasko wat die party in dele van die Oos-Kaap van die verkiesingswedloop uitgesluit het.
Die jongste hoofstuk is die uitspraak van die Johannesburgse Hooggeregshof dat die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, en die ANC se nasionale uitvoerendekomiteelid, Nkosazana Dlamini-Zuma, persoonlik getuienis moet aflê en aan kruisverhoor onderwerp moet word oor bewerings van stemkopery tydens die ANC se 2022 nasionale konferensie by Nasrec.
Die hof het beslis dat daar ’n wesenlike en bona fide-geskil oor die feite bestaan wat nie bloot op grond van beëdigde verklarings besleg kan word nie. Waarnemende regter Henno Viljoen het gevolglik Mbalula se aansoek om ’n finale interdik nie toegestaan nie en gelas dat mondelinge getuienis gelewer moet word.
Mbalula het Dlamini-Zuma gedagvaar nadat sy in ’n onderhoud op die African Renaissance Podcast beweer het dat hy geld aan ANC-afgevaardigdes uitgedeel het om sy verkiesing as sekretaris-generaal te verseker. Sy het ook beweer dat geld ’n rol gespeel het in Cyril Ramaphosa se herverkiesing as ANC-president by dieselfde konferensie. Mbalula ontken die bewerings ten sterkste en het ’n terugtrekking, verskoning en ander regsremedies geëis.
Die hof se uitspraak beteken egter nie dat Dlamini-Zuma se bewerings waar bevind is nie. Mbalula het ná die uitspraak beklemtoon dat die bevel, om mondelinge getuienis aan te hoor, nie ’n bevinding is dat die aantygings teen hom waar is nie.
Judgement in the matter between myself and Dr Nkosazana Dlamini Zuma by Acting Judge HM Viljoen in the Gauteng Division of the High Court. https://t.co/wPMuePwA52
— ANC SECRETARY GENERAL | Fikile Mbalula (@MbalulaFikile) October 5, 2026
Maar die saak is vir die ANC polities ongemaklik, veral omdat dit die kwessie van geld en mag binne die party se verkiesingsprosesse weer prominent op die voorgrond plaas.
Dlamini-Zuma sê in ʼn verklaring sy verwelkom die geleentheid om haar weergawe in die hof te stel. Volgens haar dui die saak op ’n groter probleem wat die ANC sal moet aanspreek indien die party homself werklik wil vernuwe: die gebruik van geld om die uitkoms van interne verkiesings te beïnvloed.
Een van die getuies wat na verwagting ook sal moet verskyn, is volgens Eyewitness News ANC-lid Mandla Themba Sibiya. Hy het in ’n beëdigde verklaring beweer dat hy gesien het hoe Mbalula geld aan afgevaardigdes uitdeel en dat hy self van die geld ontvang het. Die hof het bepaal dat enige verdere getuies deur die hof goedgekeur moet word en ’n beëdigde verklaring moet indien waarin hul voorgestelde getuienis uiteengesit word.
Die hofsaak is maar net een van die ANC se probleme.
Die party se mislukking om volledige kandidaatlyste voor die 28 Augustus-sperdatum by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in te dien, het tot ’n reeks interne rusies en regsgevegte gelei. Die ANC het aanvanklik na ’n tegniese probleem verwys, maar ’n interne verslag het later gewys dat die party self vir ’n groot deel van die gemors verantwoordelik was. Altesaam 51 persone wat die party as burgemeesterskandidate geïdentifiseer het, is volgens berigte nie behoorlik geregistreer nie.
Die saak het selfs tot spanning tussen Mbalula en die ANC se Oos-Kaapse sekretaris, Lulama Ngcukayitobi, gelei. Ngcukayitobi het Mbalula daarvan beskuldig dat hy hom valslik vir die kandidaatlysfiasko blameer en het deur sy regsverteenwoordigers ’n terugtrekking van die beweerde lasterlike uitsprake geëis.
Die ANC se probleme is veral in die Oos-Kaap sigbaar . In Ingquza Hill en Port St Johns kan die party nie aan die verkiesing deelneem nie, omdat hy nie kandidaatlyste betyds ingedien het nie. In Walter Sisulu en Sondagsriviervallei kan die ANC nie vir proporsionele verteenwoordiging meeding nie.
Die DA het reeds die geleentheid aangegryp en nuwe burgemeesterskandidate in dié munisipaliteite aangekondig.
Daarby het die ANC se kandidaatlyskrisis reeds tot die Konstitusionele Hof gevorder. Mbalula voer aan dat die OVK se sagteware nie grondwetlike regte kan oorheers nie en dat kiesers die reg moet hê om hul voorkeurkandidate op die stembrief te kies.
Met die plaaslike verkiesing op 4 November is daar dus minder as ’n maand oor om kiesers van ’n beeld van vernuwing, eenheid en bestuurbaarheid te oortuig.
Die ironie is dat die ANC se grootste uitdaging op die oomblik nie noodwendig van sy politieke teenstanders kom nie. Die party blyk toenemend sy eie grootste teenstander te wees.
- Lokprent deur Alexandra_Koch van Pixabay

