ANC se faksiegevegte steek die land aan die brand

  • 0

Suid-Afrika sit op ’n tydbom van toenemende geweld en burgerlike onrus wat toegeskryf kan word aan die ANC se onvermoë om die faksiegevegte in eie geledere te bestuur. Dit kan waarskynlik lei tot groter onstabiliteit in die land en meer gewelddadige onluste.

Hierdie somber voorspelling vir die land kom uit ’n verslag van die dinkskrum Government and Public Policy (Gapp) en die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) wat dié week vrygestel is.

Volgens die verslag beskik president Cyril Ramaphosa nie oor die vermoë om die groeiende burgerlike onrus te bekamp nie, aangesien die faksies in die ANC met mekaar meeding om invloed, posisies en staatskontrakte.

Die studie, getiteld “The near future of south africa: protest and political stability”, deur Ivor Chipkin en Jelena Vidojević, saam met Laurence Rau en Daniel Saksenberg, sê daar is genoegsame bewyse dat die faksiegevegte in die regerende party die belangrikste oorsaak is vir die politieke onstabiliteit en konflik in die land.

Die toename in onstabiliteit dui volgens die verslag daarop dat Ramaphosa nie soveel beheer oor die ANC het as wat Zuma gehad het nie. Hy is nie in staat of bereid om geweld en patronaatskap tot dieselfde mate as Zuma te gebruik om sy gesag af te dwing nie.

Dit beteken Suid-Afrika het waarskynlik ’n fase van voortdurende, gewelddadige onstabiliteit betree, lui die verslag.

Die verslag het politieke stabiliteit in Suid-Afrika bestudeer deur gebruik te maak van kwantitatiewe tegnieke wat uit datamodellering bekom is deur die Hanns Seidel-stigting sowel as die Sweedse Internasionale Ontwikkelingsamewerkingsagentskap.

Die studie het die ISS se databasis oor protesgebeure as ’n basislyn gebruik, aangevul met kruisverwysing na ander databasisse, insluitend dié van die Suid-Afrikaanse Nasionale Polisiediens en ander bronne.

Die aantal betogings wat jaarliks ​​in die land gehou word, het volgens die verslag verdubbel tot meer as 1 000 sedert Ramaphosa vroeg in 2018 die ANC se leierskap met ’n skrale meerderheid oorgeneem het.

Die skrywers van die verslag beveel aan dat die ruimte vir patronaatskap verminder moet word. Hervorming in die staatsdiens moet bespoedig word, insluitend die professionalisering van openbare administrasies. Dit sal ook die kwaliteit van dienste wat deur die staat gelewer word, verbeter.

Aanbevelings van die studie sluit ook in dat daar groter steun aan die veiligheidsdienste gegee moet word as hulle “die gewelddadige en kriminele gevolge van politieke konflik wil bestuur” en dat “swart bemagtiging” bespoedig word ter wille van groter ekonomiese uitbreiding sodat daar nie op partypolitieke gunste gesteun hoef te word nie.

Verdere aanbevelings is dat daar ’n nasionale gesprek gevoer word oor die plek van politieke partye in Suid-Afrika. Daar behoort navorsing gedoen te word oor presies wie Suid-Afrika se sogenaamde politieke elite is, hoe hulle organiseer, die basis van hulle ondersteuning, asook hul houding en gedrag ten opsigte van parlementêre demokrasie.

Die opstellers van die verslag glo pogings om eenheid in die ANC ten alle koste te handhaaf het geskied ten koste van die land se grondwetlike raamwerk, die ekonomie en die vermoë van staatsentiteite soos SAL, Eskom en Prasa om doeltreffend te funksioneer.

Nog een van die sleutelbevindings is dat namate die ANC agteruitgaan, dit minder aantreklik sal word vir aspirant-elite-lede van die ANC om hulle doelwitte binne in die organisasie te verwesenlik. Hulle sal hulle belange op ander maniere probeer nastreef wat tot meer gewelddadige opsies mag lei namate die koek om voordeel binne die organisasie te trek besig is om te krimp.

Terwyl massawerkloosheid en armoede politieke brandstof verskaf het vir politieke entrepreneurs om voordeel te trek en moontlik die vonk in die kruitvat kon wees vir protes en opstand, was daar in die geheel geen spontane massa-opstand van die armes en werkende mense nie, het die studie bevind.

Die volledige verslag kan hier gelees word: https://www.gapp-tt.org.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top