Die ANC se mislukte poging dié week in die parlement om artikel 25 van die Grondwet te wysig wat die onteiening van grond sonder vergoeding sou moontlik maak, is ’n oorwinning vir Suid-Afrika se grondwetlike bestel.
Dit was die reaksie van landbou-organisasies, burgerregtegroepe en politieke partye wat die wetsontwerp teengestaan het. Die ANC kon nie daarin slaag om die tweederdemeerderheid te kry wat nodig was om die wetsontwerp aanvaar te kry nie.
Die president van Agri SA, Jaco Minnaar, sê die uitslag is positief vir die toekoms van Suid-Afrika en sal tot hernude vertroue in die ekonomie bydra.
Agri SA sê in ’n verklaring die gronddebat het die afgelope dekade toenemend radikaal geword. “Die poging om artikel 25 van die Grondwet te wysig was hopelik die laagste punt in die radikale benadering tot grondhervorming. ’n Gebrek aan vordering met grondhervorming het waarskynlik bygedra tot hierdie klimaat van radikalisme en polarisasie,” sê Minnaar.
MEDIA RELEASE | Focus on effective implementation of land reform plans
Read more: https://t.co/BA1Jliyro3#agriculture #land #expropriation #landreform #Section25 pic.twitter.com/ubKnzWVONj
— Agri SA (@AgriSA1904) December 7, 2021
Die voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Grond, Willem de Chavonnes Vrugt, het in sy reaksie gesê dit is uiters belangrik dat daar nou daadwerklike vordering gemaak word met doeltreffende en volhoubare planne om ’n sukses van grondhervorming te maak. Hy sê dit moet binne die bestaande beleids- en wetgewende raamwerk gebeur, insluitend programme soos gemengde finansiering en die landbou- en landbouverwerkingsmeesterplan (AAMP).
“Aandag moet ook gegee word aan werkbare aansporings vir grondhervorming, en die vennootskapbenadering moet sterk ondersteun word,” het hy gesê.
AfriForum het in hulle reaksie gesê die mislukking van ’n “diep immorele wetsontwerp wat goedgekeurde diefstal en menseregteskendings deur die staat sou toelaat, is ’n groot oorwinning vir Suid-Afrikaners. Onteiening sonder vergoeding is ’n onmenslike beleid wat gemotiveer word deur ’n kombinasie van korrupte hebsug en wrok,” sê Ernst van Zyl, veldtogtebeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
𝗢𝗻𝘁𝗲𝗶𝗲𝗻𝗶𝗻𝗴 𝘀𝗼𝗻𝗱𝗲𝗿 𝘃𝗲𝗿𝗴𝗼𝗲𝗱𝗶𝗻𝗴
.@AfriForum verwelkom mislukking van grondonteieningswetsontwerp https://t.co/KCKqN22p7Y
— AfriForum (@afriforum) December 7, 2021
“Ons het die katastrofiese verwoesting gesien wat onteiening-sonder-vergoeding-beleide in lande soos Zimbabwe en Venezuela veroorsaak het, asook die lyding wat hierdie beleide vir die gemiddelde burgers van daardie lande veroorsaak het. Daarom moet die nederlaag van ’n poging om daardie aaklige en vernietigende beleide hier in Suid-Afrika te herskep gevier word,” sê Van Zyl.
AfriForum sê hulle is bewus daarvan dat die stryd om eiendomsreg in Suid-Afrika te beskerm nie verby is nie en dat hierdie regte weer in die toekoms bedreig kan word. “Daarom herbevestig die organisasie sy toewyding om as burgerregtewaghond op te tree teen sulke skendende beleide en om dit ten sterkste teen te staan sou dit weer oorweeg word.”
Die DA en die VF Plus het ook die uitslag van die stemming verwelkom. Die voorsitter van die DA se parlementêre koukus, Annelie Lotriet, sê in haar verklaring dié week se uitkoms was ’n hoogtepunt van drie vermorste jare waarin die parlement gevra is om ’n wetsontwerp goed te keur wat ’n ernstige impak op die ekonomie, die oppergesag van die reg en voedselsekerheid sou hê.
Sy sê wat Suid-Afrika nodig het, is ’n pragmatiese en rasionele benadering wat binne die grense van huidige grondwetlike bepalings oor grondhervorming sal funksioneer.
“Nasionalisering van grond en die uitsluiting van die howe om grondonteieningsake te bereg, soos voorgestel deur die ANC en die EFF, sou die oppergesag van die reg ondermyn en Suid-Afrika tot ’n ekonomiese woesteny gereduseer het.”
Die DA-leier, John Steenhuisen, sê “die ineenstorting en nederlaag van die populistiese wetsontwerp is ’n oorwinning vir alle hardwerkende Suid-Afrikaners”. Hy sê die wysiging van artikel 25 sou verwoestend gewees het en daar moet nou op betekenisvolle hervorming gefokus word.
The collapse and defeat of the ANC-EFF EWC populist Bill is a victory for all hardworking South Africans. 🇿🇦
The amendment of Section 25 of the Constitution to allow for the expropriation of land without compensation would be devastating.
Now let's focus on meaningful reform. pic.twitter.com/5gTWSMcBWM
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) December 7, 2021
Corné Mulder van die VF Plus sê die 145 stemme teen 204 sluit aan by die boodskap wat kiesers op 1 November met die plaaslikeregeringsverkiesing aan die ANC gegee het, naamlik dat die regerende party nie meer namens die meerderheid Suid-Afrikaners praat nie.
Die 145 stemme teen 204 wat voor die tweede lesingsdebat gestem het teen die wetsontwerp om die Grondwet te verander, sluit aan by die boodskap wat kiesers op 1 November met die plaaslike regeringsverkiesing aan die ANC gegee het:
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) December 7, 2021
Mulder sê in sy verklaring die VF Plus geargumenteer al lankal teen die noodsaaklikheid om artikel 25 van die Grondwet te wysig, omdat dit in sy huidige vorm reeds genoeg bepalings het om ’n regverdige en billike grondhervormingsproses moontlik te maak.