ANC slaan vure dood oor “geheime komplot”

  • 0

Die ANC slaan links en regs vure dood nadat Sunday Times die naweek berig het senior lede van die ANC is besig met ’n geheime komplot om van president Cyril Ramaphosa ontslae te raak.

Oud-president Jacob Zuma en verskeie senior ANC-lede het volgens die koerant in Durban vergader om hulle planne te bespreek.

Die ANC het die berigte ten sterkste ontken maar die koerant hou voet by stuk en sê die berig is op feite gegrond. Die koerant weier ook om die artikel terug te trek soos wat die ANC versoek het.

Volgens die berig het die vorige president, Jacob Zuma, die ANC se sekretaris-generaal Ace Magashule en die voormalige premier van Noordwes, Supra Mahumaphelo en andere die vergadering by ’n hotel in Durban bygewoon. Die doel van die vergadering was blykbaar om planne te beraam om die uitslag van Desember se verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg te beveg.

Een van die joernaliste wat aan die artikel gewerk het, Qaanitah Hunter, het aan die SABC gesê die berig is op feite gebaseer, soos voriges oor staatskaping. Hunter sê die ANC het baie van dié berigte ontken. Hunter sê daar sou nie nou ’n staatskapingskommissie gewees het as die koerant nie die berig geplaas het dat Mcebisi Jonas bekendgemaak het dat hy ’n ministerspos aangebied is nie.

Die sekretaris van die ANC-jeugliga in KwaZulu-Natal, Thanduxolo Sabelo ontken intussen dat hy ’n verklaring uitgereik het waarin hy ’n strategie bevestig om president Cyril Ramaphosa uit die kussings te lig. Sabelo het vroeër amptelik ontken dat hy deel was van die ontmoeting in Durban. ’n Tweede verklaring doen nou die ronde, waarin aangevoer word dat Sabelo sy gewete wil skoon kry en die ontmoeting en planne bevestig Sabelo sê die tweede verklaring is vals.

Zuma het tot dusver soos die graf geswyg hoewel hy vir kommentaar genader is.

Die geheime vergadering is glo in die Maharani-hotel in Durban gehou. Selfs nadat die Sunday Times foto’s gepubliseer het van die klomp in die hotel saam met Zuma, het diegene wat teenwoordig was ontken dat hulle Zuma in die hotel ontmoet het.

Die vergadering het glo strategie bespreek om ’n terugvegveldtog teen Ramaphosa te begin en sy verkiesing as ANC-leier tydens verlede jaar se ANC-konferensie op tegniese punte ongedaan te maak deur middel van ’n hofaansoek.

Die vakbond Cosatu het by monde van hul algemene sekretaris, Bheki Ntshalintshali, gesê die beweerde komplot teen Ramaphosa is dalk nie algemeen bekend nie, maar almal kan sien wat besig is om binne die ANC te gebeur.

Cosatu is een van die ANC se alliansievennote en sê die gerugte is kommerwekkend.

Hoewel die ANC die berig ten sterkste ontken het, het hulle dit aan die sekretaris-generaal Ace Magashule oorgelaat om self te verduidelik of hy so geheime vergadering saam met Zuma bygewoon het.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top