ANC stel SAKP lede voor ’n streng keuse voor 2026 munisipale verkiesing

  • 0

Die eens onwrikbare alliansie tussen die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) is besig om al hoe meer te verbrokkel.

Die ANC het gister (Maandag) duidelike grense getrek toe die party tydens ’n mediakonferensie aangekondig het lede kan nie meer op twee stoele sit en albei partye in ’n verkiesing wil dien nie.

Die besluit volg op die SAKP se besluit om die 2026 munisipale verkiesing op eie houtjie aan te pak – ’n stap wat nie net die toekoms van die driepartyalliansie bedreig nie, maar ook die politieke speelveld dramaties kan herskik voor een van die mededingendste plaaslike verkiesings sedert 1994.

Die ANC het dit tydens Maandag se nuuskonferensie by Luthuli-huis duidelik gemaak: Lede wat ook aan die SAKP behoort, moet binne 10 dae skriftelik verklaar of hulle in die plaaslike verkiesings vir die ANC of die SAKP gaan stemme werf. Lede kan nie meer albei kante dien nie.

Die ANC se eerste adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, het gesê daar word nie verwag dat enigiemand uit die SAKP moet bedank nie, maar het terselfdertyd gewaarsku dat geen ANC-lid teen ANC-kandidate mag staan, veldtog voer of stemme werf nie. Dit is ’n bindende grondwetlike beginsel. Sekretaris-generaal Fikile Mbalula se kantoor sal binnekort ’n amptelike brief aan alle dubbele lede stuur met ’n sperdatum van 10 dae.

Die breuk het al in Desember 2024 begin toe die SAKP amptelik besluit het om alleen in die 2026 munisipale verkiesing te veg. Die party beskuldig die ANC daarvan dat hy ná die 2024 nasionale verkiesing na ’n “neoliberale” beleid oorgegaan het deur die RNE saam met die DA te vorm. SAKP-leier Solly Mapaila het herhaaldelik gesê die besluit is onomkeerbaar en dat die party nou sy eie sosialistiese agenda op plaaslike vlak wil dryf, van radikale grondhervorming tot sterker werkersbeskerming.

Vir die ANC bring die besluit ernstige organisatoriese gevolge mee. Duisende lede is al dekades lank lid van albei partye. Die nuwe reël beteken dat dubbele lede prakties moet kies: Werf stemme vir die ANC of verloor jou ANC-lidmaatskap. Volgens die ANC-grondwet verbeur enige lid wat teen die party ’n veldtog voer of ’n opposisieparty steun, outomaties sy lidmaatskap. Dit kan lei tot massabedankings, interne hofsake en selfs skorsings in sterk SAKP-gebiede soos sekere townships in Gauteng, Limpopo en die Oos-Kaap.

Die ANC, wat reeds in 2021 sy meerderheid in baie munisipaliteite verloor het en in 2024 nasionaal na 40% gedaal het, staan voor ’n nuwe uitdaging. Stemverdeling op die linkerkant kan die ANC verder verswak. Politieke ontleders waarsku dat elke stem wat na die SAKP gaan, ’n stem is wat die ANC nie kry nie. In werkersgebiede en informele nedersettings, waar die SAKP tradisioneel sterk steun geniet, kan dit die verskil beteken tussen ’n ANC-meerderheid en ’n gedwonge koalisie.

Die verkiesing, wat in November 2026 plaasvind, word nou meer oop en onvoorspelbaar. Die SAKP is klein, maar kan in sleutelmunisipaliteite 5–15% van die stemme steel – genoeg om die ANC se meerderhede in rade soos Ekurhuleni, Tshwane en eThekwini te laat krimp. Dit sal lei tot meer komplekse koalisies, soortgelyk aan wat nasionaal ná 2024 gebeur het.

Cosatu, die derde been van die alliansie, sit nog tussen twee vure en het nog nie besluit wie om te steun nie. Die SAKP self sien die stap as ’n kans om uiteindelik as ’n volwaardige party te groei en nie meer net ’n “ondersteuner” van die ANC te wees nie.

Politieke kommentators noem dit die grootste kraak in die driepartyalliansie sedert 1994. Terwyl die ANC hoop om sy “Year of Decisive Action” met hernude dissipline te gebruik om kiesers te wen, kan die SAKP se onafhanklike pad die begin wees van ’n nuwe era waarin die linkse stem verder verdeel word.

Die ANC het belowe om binne die volgende weke verdere riglyne vir kandidaatkeuring en sy verkiesingsveldtog te finaliseer. Intussen bly die vraag: Hoeveel lede gaan die ANC se ultimatum gehoorsaam en hoeveel gaan die SAKP se rooi vlag kies?                                                                                                 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top