Jacob Zuma (Foto: Copyright World Economic Forum www.weforum.org / Matthew Jordaan mattjordaanphoto@gmail.com (Jacob Zuma - World Economic Forum on Africa 2009) [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)
’n Voormalige anti-apartheidsaktivis en ANC-veteraan beskuldig oud-president Jacob Zuma op Facebook daarvan dat hy leuens voor die Zondo-kommissie vertel het oor beweerde spioene in die ANC wat daarop uit is om hom te vernietig.
Patric Tariq Mellet, wat verskeie senior poste in die ANC beklee het, ontken dat Zuma ooit hoof was van die ANC se intelligensiediens soos wat hy beweer. Volgens Mellet was Zuma hoogstens hoof van een van die onderafdelings in die ANC se intelligensiediens.
Mellet is nie die enigste ANC-lid wat die afgelope week uitgevaar het teen Zuma nie.
Die werklike hoof van die ANC se intelligensie was volgens hom ’n man met die naam Joe Nhlanhla wat ’n groot vertroueling van Oliver Tambo was.
Mellet beweer Zuma se leuens voor die Zondo-kommissie is aan baie ANC-veterane bekend. Volgens hom is Zuma ’n totale nar vergeleke met Nhlanhla. Hy sê Zuma was in werklikheid baie laag in die ANC se hiërargie van senior intelligensielui.
Hy beweer ook dat Zuma gelieg het toe hy gesê het dat hy die voormalige premier van Limpopo, Ngoako Ramatlhodi, daarvan beskuldig het dat hy ’n apartheidspioen was. Volgens hom is daar al jare lank verskeie bewerings in omloop oor Zuma en verskeie ander bedenklike karakters in die ANC, onder andere die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule.
In ’n striemende aanval op die voormalige staatshoof, sê Mellet Zuma is ten beste ’n swak skakel binne die ANC. Hy skimp selfs dat Zuma self een van die mees senior dubbelagente tydens die apartheidsera was. Dit is volgens hom alombekend in ANC-kringe dat Zuma ’n geskiedenis het van onbetroubare inligting, leuens, verraad en dat hy agter die dood sit van verskeie senior ANC-kaders. Hy noem verskeie name van senior ANC-lede in dié verband in sy Facebookpos.
Meer oor Mellet se agtergrond kan hier gelees word.
“Selfs nou wanneer Zuma ten aanskoue van die hele land voor die Zondo-kommissie getuig, het mense nie die moed om op te staan en Madiba, Tambo, Nhlanhla, Slovo, Nyanda, Chris Hani..... en vele ander te verdedig...en te sê ‘hou op met die leuens en verraad ... NIE IN ONS NAAM nie’,” sluit hy sy boodskap af.
Sy volledige tirade teen Zuma verskyn hier op Facebook.
Nog ’n senior lid van die veelpartyalliansie, Jeremy Cronin van die SAKP, het op News24 uitgevaar teen Zuma se bewerings voor die Zondo-kommissie. Cronin was van 2012 tot 2019 adjunk-minister en was ook lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee.
Hy waarsku in ’n artikel op News24 dat dit belangrik is om in die konteks van staatskaping nie te verval in samesweringsteorieë soos wat Zuma probeer doen nie. Cronin se mening kan hier gelees word.
Die Zondo-kommmissie het intussen tot Vrydag verdaag nadat Zuma Woensdag byna sy goed gevat en geloop het omdat hy ontevrede is met die wyse waarop hy voor die kommissie ondervra word. Hy en sy regspan beweer hy is met voorbedagte rade na die kommissie gebring om onder kruisverhoor geplaas te word.
Die kommissie se regspan sal nou gesprek voer met Zuma se regsverteenwoordigers voordat Zuma sal besluit of hy verder sal getuig.
Judge Zondo adjourns the #StateCaptureInquiry for the day, the inquiry will commence on Friday at 10am #ZumaStateCapture pic.twitter.com/jzFh9XxPyQ
— SABC News Online (@SABCNewsOnline) July 17, 2019
Regter Zondo het Woensdag, voordat hy die kommissie verdaag het, gesê hy is optimisties dat daar tot ’n ooreenkoms gekom sal word sodat Zuma Vrydag verder kan getuig.
Buro: MvH